MRK en Gretha Wiid skik ná uitsprake oor gays

Gretha Wiid. Foto: Facebook via Gretha Wiid

Die Menseregtekommissie (MRK) het aangekondig dat ʼn skikking bereik is met die verhoudingskenner en Christelike skrywer Gretha Wiid ná haar uitsprake oor gays.

Wiid is in Mei verlede jaar daarvan beskuldig dat sy homoseksuele mense veroordeel, verdoem en boonop aantygings maak dat seuns en meisies gay word weens molestering, ʼn gebrek aan ʼn vader- of moederfiguur en wanneer seuns byvoorbeeld nie sportsoorte soos rugby beoefen nie. Dit was na aanleiding van haar Lyfslim vir seuns/meisies-boek wat reeds in 2009 gepubliseer is.

Die MRK het 77 klagtes rakende die inhoud van die boek ontvang. Volgens die MRK het die klaers aangevoer die boek kom op onbillike diskriminasie neer op grond van seksuele oriëntasie, geslagsidentiteit en uitdrukking, en dat dit haatspraak is.

Wiid is verder ook oor die kole gehaal rakende praatjies en werkswinkels wat sy tussen 1996 en 2011 by skole in Gauteng aangebied het oor seksuele ontwikkeling en seksonderrig. Volgens die MRK is ʼn aantal klagtes ontvang oor die toon en inhoud van die werkswinkels.

Volgens die MRK het hy en Wiid intussen ooreengekom dat dit in die belang van die partye en die samelewing in geheel is om die saak so spoedig en vriendskaplik moontlik op te los.

“Die klagtes teen Wiid is deur middel van ʼn proses van versoening opgelos en alle partye het ingestem om ʼn skikkingsooreenkoms aan te gaan.”

Die MRK het nog nie die inhoud van die skikkingsooreenkoms bekend gemaak nie, maar sal na verwagting meer besonderhede bekend maak nadat die ooreenkoms vandag by die kommissie se kantoor in Braampark onderteken is.

Wiid het destyds in reaksie op die kritiek teen haar ontken dat sy verdoemend was. “Ek is nie hier om my boek of myself te verdedig nie – ek wil ʼn deel van my hart deel. Ek wil sê die saak [van homoseksualiteit] lê my baie nader aan die hart as wat mense besef.

“My broer is deel van die homoseksuele gemeenskap, en ons is baie na aan mekaar. Ek het deur familie na aan my die struggle en die alleenheid [van homoseksualiteit] leer ken, ek weet hoe kyk die samelewing na hierdie goed. Ek weet ook wat is die geestelike vraagstukke rondom hierdie ding.”

Wiid het ook gesê haar boeke is deur talle op sosiale media uit konteks gehaal. “Die teikenmark van die boek was vir kinders van tussen 10 en 13 jaar oud. Dis nie ʼn literêre werk nie, en dis daarom ook so geskryf. Ek wou kinders leer en bemagtig.

“Ek het toe oor gay-wees en die stereotipes rondom dit ook gepraat in ʼn afdeling wat lui: ‘Wat beteken dit as iemand gay is?’ Ek sê daarin kinders verwys na gay mense as ‘moffies’ of ‘lesbiërs’, maar ek sê ook verder op bladsy 71 dat ons ʼn hart soos God moet hê, en dat dit dus nie oukei is om dit te doen nie. Ek het nooit gesê gay mense gaan hel toe nie. Ek het hulle nie verdoem nie.”

Sy het gesê indien mense seergekry het “deur woordkeuses of die manier waarop die boek geskryf is”, wil sy daarvoor om verskoning vra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.