MRK genader oor watertekorte in Somerset-Oos

Argieffoto (Foto: ID-165106/Pixabay)

Inwoners van Somerset-Oos is al 23 dae sonder water en die Bloukraanroete- plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap hou almal in die donker oor die oorsaak van dié groeiende humanitêre ramp.

Vicky Knoetze, die Demokratiese Alliansie se skadu-LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, sê mense staan in rye om water by watertenks af te haal. “Ondernemings is tot ʼn stilstand gedwing; leerders kan nie toilette by die skool gebruik nie; hospitale en klinieke word hierdeur geraak; mense kan nie bad nie en toilette kan nie gespoel word nie.”

Dit blyk selfs dat Xolile Nqatha, Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, nie antwoorde van munisipale beamptes kan kry nie.

“Daar is geen kommunikasie of deursigtigheid oor die saak nie. Die dorp is tot ʼn stilstand gedwing,” sê Knoetze.

In sommige gevalle is daar elke derde of vierde dag vir ʼn uur of twee water in die krane voor dit weer opdroog. “Selfs in dié gevalle moet inwoners op mekaar staatmaak om te weet wanneer daar water in die krane is, omdat daar geen kommunikasie van die munisipaliteit af kom nie.”

DA-raadslede in die gebied vermoed dat die reeds kwesbare watersituasie in die dorp vererger is deur onlangse beurtkrag. Tydens beurtkrag word water nie na reservoirs gepomp nie. “Pogings om dit by die munisipaliteit te bevestig, is egter geïgnoreer,” sê Knoetze.

“Klaarblyklik is die ANC se ontplooide kaders nie bekwaam om die inwoners van Somerset-Oos van hul grondwetlike reg op water te verskaf nie. Erger nog, hulle weier eenvoudig om aanspreeklik gehou te word vir hul versuim om op te tree en onbekwaamheid.”

Die DA het nou die Menseregtekommissie skriftelik genader en dringende ingryping in die saak versoek. Die DA versoek ook dat verdere beurtkrag in die dorp opgeskort sal word totdat die watersituasie opgelos is.

“ʼn DA-geleide Oos-Kaapse regering sal seker maak dat die water weer in Somerset-Oos vloei deur gebruik te maak van grondwetlike moontlikhede vir ingryping. Die DA sal ook seker maak dat die betrokke beamptes verantwoordelik gehou word. Ons kan nie net skouers optrek en aanvoer die beamptes weier om terugvoer te gee nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johanncb ·

En om alles te kroon, is die Nooitgedacht skema wat Port Elizabeth van water moet voorsien, ook weens wanbetaling opgeskort! Ons gesamentlike damvlakke is op slegs 11%!

Kokerboom ·

Burgerlike opstand sonder afbreking maar verwydering van oorsaak!!!

Malan ·

Ek is jammer vir sommiges maar die oorgrote meerderheid het so pad weer vir hierdie chaos gestem.

Anel ·

Maar stem sal hulle stem vir die ANC. Jammer dat regdenkendes onder breinloses moet lei.

Realis Thailand ·

Dit is ongelukkig regdeur die wereld so
Kyk maar na die VSA waar die seniele Biden en korrupte Harris 320 miljoen mense regeer

Jan Seerot ·

My dogter het ‘n interessante benadering. Sy reken dat indien jy nie bereid is om met my te argumenteer oor godsdiens en politiek nie, dan het jy nie breinkapasiteit om oor enigiets met my te argumenteer nie.

As jy dus dink dat minstens die helfte van die mense wat jou op enige gegewe oomblik omring, onnosel is, dan is daar meer onnosele mense as wat jy dink, en hulle is waarskynlik nog onnoseler as wat jy vermoed. Die wetenskap van onnoselheid. (The science of stupidity)

Jan Seerot ·

Dit is verstommend! Die inwoners was ongeveer midde-in die waterkrisis op die 1ste November; stemdag en steeds stem die meerheid vir die mense wat die krisis geskep het.

Vra ek ‘n ander man nou die anderdag: “Hoekom lê jou hond daar en tjank?”
Sê hy: “Hy lê op ‘n pendoring, maar is te sleg en te lui om op te staan.”

Bertie ·

Die antwoord is eenvoudig: die oorsaak is onbevoegde, korrupte amptenare wat net daar is om hul eie sakke te vul en niks omgee vir diegene wat hulle ingestem het nie.

O wee! ·

Water is nie ons enigste probleem nie. Ons munisipale werkers staak nou al vir etlike weke. Vullis word nie verwyder nie so vanoggend op pad werk toe het ek gesien hoe lekker vet rotte in die straat rondkuier in ‘n woonbuurt wat gewoonlik baie skoon en netjies is. Dis nou bo en behalwe die beeste wat ons daagliks uit ons tuine moet uitjaag, die varke en bokke wat in die straat wei, iemand se perde wat kort-kort uitbreek en in die strate rondhardloop en meer potholes as pad. En badwater wat gereeld soos rivierslik lyk en ruik. Ten spyte van dit als is hierdie ‘n pragtige dorp met vreeslike lekker mense wat baie hard werk om al hierdie probleme te oorkom, maar hoe nou gemaak?

anniekiewiet ·

Dis eenvoudig afgryslik. Ons is ook daelank sonder water weens Wanbetaling van die munisipaliteit, staking van werkers omdat hul nie salaris kan kry nie en dan escom…. Maar stem stem die grootste spul inwoners anc. Ons sal hul lewenswyses nooit verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.