MRK: ‘Heroorweeg opening van skole’

(Argieffoto)

Die Menseregtekommissie (MRK) het die minister van basiese onderwys versoek om die datum vir die heropening van skole vir gr. 7- en gr. 12-leerders te heroorweeg.

Minister Angie Motshekga het vroeër bekend gemaak dat dié leerders Maandag sal terugkeer skool toe.

Volgens die MRK het hy onafhanklike monitering gedoen van skole in al nege provinsies se gereedheid om leerders te ontvang.

“Ná die monitering en oorlegpleging met verskillende belanghebbendes, waaronder onderwysersvakbonde en skoolbeheerliggame, het die MRK minister Motshekga aangeraai om die datum van 1 Junie vir die terugkeer van gr. 7- en gr. 12-leerders te heroorweeg,” het Gushwell Brooks, MRK-woordvoerder, gesê.

Die MRK het gesê hoewel hy dit ondersteun dat skole so gou as moontlik open om uitvoering te gee aan die regte van leerders op onderwys, hy van mening is dat dit in samehang met redelike en voldoende maatreëls en pogings gedoen moet word om leerders en opvoeders se reg op gesondheid te beskerm.

“Dit is dus belangrik dat daar voldoen word aan die nodige minimumvoorwaardes vir die heropening van skole, soos toegang tot voldoende skoon water en sanitasie, sosiale distansiëring, die beskikbaarheid van persoonlike beskermende toerusting, opleiding en die algemene ontsmetting van skole.”

Volgens Brooks dui terugvoer van die MRK se provinsiale kantore daarop dat talle skole nog nie gereed is om leerders te ontvang nie.

“Die meeste waarnemings van ons provinsiale kantore beklemtoon die tekort of ontoereikendheid van water en sanitasie, sowel as persoonlike beskermende toerusting. Daar is ook waargeneem dat gereedheidsvlakke vir baie landelike skole aansienlik laag is.”

Gr. 7- en gr. 12-leerders in die Noord-Kaap sal nie Maandag terugkeer skool toe nie aangesien die provinsie se skole nog nie gereed is om leerders te ontvang nie.

Motshekga sal intussen Vrydag skole in die Vrystaat besoek om hul gereedheid te monitor om Maandag te heropen. Sy sal drie skole in Zamdela in Sasolburg besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wilhelm ·

Gelyke onderwys is pragtige woorde wat beteken almal moet eers wag vir die stadigste, die domste, en die traagste.

Sarel ·

Nou moet ons nog deel met die MRK wat in elk gdval nie ‘n duit omgee vir Menseregte nie. Hoekom pak hulle nie die regte van verskeie klein besighede wat nog nie en dalk ook nooit weer sal oopmaak nie. Toe die Gauteng Regering mense verbied het om kospakkies uit te deel waar was hulle toe. Waar is hulle met die feit dat verskeie klein besighede nie finansiele hulp sal ontvang nie. Nou wil hullevinmeng met Onderwys. Vakbonde moet stilbly voor ek my vererg

Daleen ·

Ek is so dankbaar dat ek nie kinders of kleinkinders HIERDIE tyd op skool het nie. Moeilikste besluit ooit vir enige ouer. Sterkte aan al die ouers en leerlinge ek hou julle in my gebede.

Heksie ·

Laat die skole wie se leerlinge nog wel die skooljaar kan afhandel toe om voort te gaan. Die ander skole se skooljaar skuif van Junie tot Des volgende jaar en hulle begin die jaar van voor af. In plaas van dat n groot getal leerlinge nie slaag nie. Die ekstra 6 maande sal die uitslae aansienlik verbeter. Die ekstra tyd gee ook kans om logistiek probleme op te los.

Jaco ·

Almal wat bang is vir alles kan mos maar in hul huise gaan sit tot griepseisoen verby is. Niemand forseer jou om jou kinders skool toe te stuur nie….ek het altyd gewonder wat van die mense gaan word wat so opgepiep word, hoe gaan hul dit maak in die lewe. Want almal is deesdae so sensetief en bang vir als. Nooit sou ek kon droom dat hul ons mense wat guts het saam met hul by die drein sou aftrek nie. Omdat hul bang is vir als word ons ook nou daardeur gestraf..ek wonder of hul besef dat laasjaar was daar 9000 mense dood aan n griep in SA, die banges sit ook seker nie hul voete in n motors nie want jaarliks in SA sterf daar 13000 mense in motorongelukke. Dan wil ek nie eens uitbrei oor moorde en kanker sterftes nie.

Erik ·

Die meerderheid skole in SA was nog nooit gereed om leerders te ontvang nie. Die skole moet maar open, want om te wag dat almal gereed is beteken skole gaan nooit weer oopmaak nie. My kinders is in staatskool en kry daagliks hul klasse op Google Classroom en Meet, ander skole wag nog vir watertenks. Die ongelykheid is hartseer, maar gaan nie weggaan nie.

Willem ·

MRK is maar net nog n mondstuk vir vakbonde wat te lui is om te werk. Hulle nog te besig met Etsebeth saak

Mariana ·

Dit sal seker wreed en selfsugtig klink maar ek dink ook skole wat gereed is moet oopmaak, almal se lewens kan nie stilstaan omdat ander nie gereed is nie. Kinders moet vorentoe beweeg. Die departement van onderwys het nou al baie jare kans gehad om alle skole reg te maak en die toiletgeriewe,wat knelpunt by baie skole is, in die 21ste eeu te bring. Die virus het maar net weer kom wys dat daar geen belangstelling van die regering se kant af is om die departement aan te praat oor hulle laksheid om skole op standaard te bring. En intussen word 100de skole afgebrand. Simpatie met leerders en ouers maar almal kan teruggehou word nie.

Hendrik ·

Weet iemand dalk hoe lank ‘n corona virus oorleef in ‘n skool wat vir twee maande toe staan?

Sakkie ·

Wat is almal se probleem met die skole —- is dit n poging om die kinders se toekoms op te voeter en so doende die land in Ongeletterdheid te laat verval ek dink dit gaan lanlal nie meer oor die virus nie maar elkeen se eie agenda

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.