MRK moet ‘menswaardigheid’ in Emfuleni herstel

Afval in Mongaustraat in Tshepiso, Sharpeville (Emfuleni) (Foto verskaf)

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het Woensdag ʼn beroep gedoen op die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie om in te gryp en opdrag te gee dat ʼn finansiële reddingsplan opgestel moet word vir Emfuleni- plaaslike munisipaliteit (Vanderbijlpark).

Die kommissie het vandeesweek verhore gehou om te bepaal of die besoedeling van die Vaalrivier in die munisipaliteit menseregte skend.

Outa het gesê hy het geskrewe en verbale voorleggings aan die kommissie gemaak oor die ineenstorting van Emfuleni se finansies en dienslewering, veral die rioolstelsel wat daartoe gelei het dat Emfuleni en omliggende riviere, insluitend die Vaalrivier, besoedel word.

“Emfuleni het effektief ineengestort. Outa wil hê die kommissie moet die Gautengse regering opdrag gee om in te gryp, kragtens sy grondwetlike verpligtinge,” het Michael Holenstein, bestuurder van plaaslike regeringsake by Outa, gesê. “Ons wil hê die kommissie moet die provinsie opdrag gee om ʼn finansiële reddingsplan en ʼn omkeerstrategiepakket te implementeer. Ons wil hê die gemeenskap en burgerregteorganisasies moet ook by dié prosesse betrokke wees.”

Hy het gesê die ineenstorting van die munisipaliteit en die versuim van die provinsiale en nasionale regering om in te gryp, laat die inwoners van Emfuleni met rioolbesoedeling, elektrisiteit- en wateronderbrekings en geen hulp nie. “Ons wil hê die kommissie moet ʼn ingryping gelas.”

Volgens hom het Outa tevergeefs gepoog om met Emfuleni, die provinsiale en nasionale departemente van samewerkende regering en Gautengse premier David Makhura in gesprek te tree.

Outa se geskrewe voorlegging aan die kommissie lui: “Emfuleni, die voormalige nywerheidshartland van Gauteng wat werk en welvaart geskep het vir die gemeenskappe van Sebokeng, Vanderbijlpark, Vereeniging en Sharpeville, het nou ʼn rioolput geword. Rou riool vloei in die Vaalrivier, Kliprivier en Rietspruit in, weens vervalle afvalwatersuiweringsaanlegte. Die pompstasies kan nie meer afvalwater na die aanlegte pomp nie weens kabeldiefstal, vandalisme en elektriese motors wat onklaar geraak het.”

Holenstein het gesê die nasionale departement van water en sanitasie het sedert 2011/12 meer as R3 miljard spandeer aan afvalwatersuiweringskemas vir die Emfuleni-streek, maar die aanlegte werk steeds nie doeltreffend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Manie ·

Dit is nie Emfuleni wat ineenstort nie dit is die onbevoegde anc

Nikita ·

Te veel onbevoegde saam met korrupsie personeel. (As n blinde n ander lei, val albei in die sloot.) Kan n donkie ook net tot by die water lei, maar kan hom nie maak drink nie!

What a joke! ·

Die donkie wil in elk geval nie daai rou riool water drink nie, hy het dan nie lank terug nog verder opstroom daarin ge-urineer..Die sirkel is nou kompleet….

Dom vraag ·

Kan munisipaliteite nie geprivatiseer word nie. Vat die burgemeester weg en daar is al klaar miljoene gespaar. Wat se werk doen hy in elk geval?

Zumie ·

Die nuwe regeerders kan vir eeue gesels oor menseregte maar dit gaan nou nie eintlik help om die situasie te verbeter nie – hulle gaan al pratende in die riool wegsink. Iemand moet hulle seblief die woorde onderhoud en verantwoordelikheid leer…

Phillip ·

Water gaan oorlog teen ons maak water gaan ondrinkbaar raak soos in anderlande waar kraane rooi geferv koop watre wat die meeste van ons reeds doen wat dit kan bekostig letwel

Nikita ·

Daars op die oomblik n Cholera-uitbreking in Zim…van vuil rioolwater! Paar jaar terug ver oor die 1000 mense daar dood agv Cholera en nou staan die dodetal weer amper na 40 toe. Inwoners van Zim grawe slote of pak klippe voor hul huise dat riool nie naby hul huise kom nie. Dit raak nou regtig skikwekkend en ons mense se lont raak nou kort. Hoop regtig dat hierdie finansiele reddingsplan opgestel gaan word dat ons Vaalrivier & sisteem gered kan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.