MRK na gebied waar 2 tydens Rooimiere-operasie sterf

Die Rooimiere het onwettige grondbesetters in uitvoering van ʼn hofbevel probeer verwyder. (Foto: Twitter/Crime Air Network)

Beamptes van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) sal vanmiddag die Rust ter Vaal-nedersetting naby Vereeniging besoek waar twee mense gister dood is toe die Rooimiere en onwettige grondbesetters slaags geraak het.

Maroela Media het vroeër berig die Rooimiere het gister in uitvoering van ʼn hofbevel strukture op die plaas Damfontein in die gebied afgebreek toe ʼn skermutseling tussen hulle en lede van die gemeenskap ontstaan het. Twee mense het tydens dié voorval gesterf.

Volgens die MRK is een van die oorledenes ʼn inwoner wat glo met rubberkoeëls geskiet is, terwyl die tweede oorledene ʼn lid van die Rooimiere is wat glo deur ʼn woedende skare doodgeslaan is.

“Die MRK sal ondersoek instel of daar moontlike oortredings was in die uitsettingsproses en oortreding van die reg tot vryheid en veiligheid van individue, veral die reg om vry te wees van alle vorme van geweld van staats- en private hulpbronne,” sê die MRK in ʼn verklaring.

Volgens die kommissie sal verteenwoordigers van die Emfuleni-munispaliteit, die Rooimiere, die SAPD en die Suid-Afrikaanse baljuraad geroep word om volgende week voor die kommissie te getuig oor gister se gebeure en die gebeure wat aanleiding tot die situasie gegee het. Die MRK wil onder meer bepaal watter stappe gevolg is voordat die strukture verwyder is en hoe dit gebeur het dat die besetters hulself op dié stuk grond gevestig het.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het gesê aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en openbare geweld is in verband met die voorval by die polisie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bedoelde

Laat ek raai? Die mrk gaan bevind dis apartheid se skuld.

Niel

stof tot nadenke. Hoekom stel MRK belang oor wat gebeur het? wat van die plaasmoorde? Volgens MRK se “reg tot vryheid en veiligheid van individue, veral die reg om vry te wees van alle vorme van geweld van staats- en private hulpbronne” moet MRK dan juis die plaasmoorde ondersoek ens – want die boere het reg om vry te wees van alle vorme van geweld teen hulle! veral omrede plaasmoorde ens die gevolg het dat voedselsekerheid in gedrang kan wees – die reg van alle mense om toegang te he tot kos op die tafel… so MRK, moenie partydig wees… Lees meer »

marous

Vat asseblief die hoof koppe van die mrk saam waneer hof bevele uitgevoer word sodat hulle die skares van diegene wat die land se wette moet uitvoer weghou .

George in Bloem

Kan die MRK asseblief tog vir ons ‘n lys verskaf van al die plaasmoord tonele wat hulle al besoek het??…….Ek hou nie my asem op nie.

IK

Sit die MRK in huise op plase net met dieselfde beskerming as boere en ons kyk wat gaan gebeur. Hierdie ingryping is onnodig op hierdie stadium want dit is vir die polisie om uit te pluis.