MRK na gebied waar 2 tydens Rooimiere-operasie sterf

Die Rooimiere het onwettige grondbesetters in uitvoering van ʼn hofbevel probeer verwyder. (Foto: Twitter/Crime Air Network)

Beamptes van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) sal vanmiddag die Rust ter Vaal-nedersetting naby Vereeniging besoek waar twee mense gister dood is toe die Rooimiere en onwettige grondbesetters slaags geraak het.

Maroela Media het vroeër berig die Rooimiere het gister in uitvoering van ʼn hofbevel strukture op die plaas Damfontein in die gebied afgebreek toe ʼn skermutseling tussen hulle en lede van die gemeenskap ontstaan het. Twee mense het tydens dié voorval gesterf.

Volgens die MRK is een van die oorledenes ʼn inwoner wat glo met rubberkoeëls geskiet is, terwyl die tweede oorledene ʼn lid van die Rooimiere is wat glo deur ʼn woedende skare doodgeslaan is.

“Die MRK sal ondersoek instel of daar moontlike oortredings was in die uitsettingsproses en oortreding van die reg tot vryheid en veiligheid van individue, veral die reg om vry te wees van alle vorme van geweld van staats- en private hulpbronne,” sê die MRK in ʼn verklaring.

Volgens die kommissie sal verteenwoordigers van die Emfuleni-munispaliteit, die Rooimiere, die SAPD en die Suid-Afrikaanse baljuraad geroep word om volgende week voor die kommissie te getuig oor gister se gebeure en die gebeure wat aanleiding tot die situasie gegee het. Die MRK wil onder meer bepaal watter stappe gevolg is voordat die strukture verwyder is en hoe dit gebeur het dat die besetters hulself op dié stuk grond gevestig het.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het gesê aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en openbare geweld is in verband met die voorval by die polisie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Bedoelde ·

Laat ek raai? Die mrk gaan bevind dis apartheid se skuld.

Niel ·

stof tot nadenke. Hoekom stel MRK belang oor wat gebeur het? wat van die plaasmoorde? Volgens MRK se “reg tot vryheid en veiligheid van individue, veral die reg om vry te wees van alle vorme van geweld van staats- en private hulpbronne” moet MRK dan juis die plaasmoorde ondersoek ens – want die boere het reg om vry te wees van alle vorme van geweld teen hulle! veral omrede plaasmoorde ens die gevolg het dat voedselsekerheid in gedrang kan wees – die reg van alle mense om toegang te he tot kos op die tafel… so MRK, moenie partydig wees anderse moet die MRK by die VN aangekla word dat hulle partydig is en nie 100% onafhanklik is en vir almal opkom

Nettie ·

@Niel – die MRK kan slegs sake/bewerings/klagtes ondersoek wat by hulle ingedien is. Gaan jy die eerste wees om ‘n formele klag by die MRK oor plaasmoorde in te dien?

Roger Rothner ·

Het die mrk nog enige funksie om te vervul? Ek wonder of hulle nie maar net hierheen gekom het om ñ gratis ete by die Spur te kry nie. Rxxx

marous ·

Vat asseblief die hoof koppe van die mrk saam waneer hof bevele uitgevoer word sodat hulle die skares van diegene wat die land se wette moet uitvoer weghou .

George in Bloem ·

Kan die MRK asseblief tog vir ons ‘n lys verskaf van al die plaasmoord tonele wat hulle al besoek het??…….Ek hou nie my asem op nie.

IK ·

Sit die MRK in huise op plase net met dieselfde beskerming as boere en ons kyk wat gaan gebeur. Hierdie ingryping is onnodig op hierdie stadium want dit is vir die polisie om uit te pluis.

S ·

Dink dis hoogtyd dat die MRK by die VN aangekla moet aangekla word vir hul onpartydigheid. Moes al lankal gedoen geword het dat hul die hoofde kan vervang op die raad wat so onpartydig is.

James ·

Ek neem aan die MRK gaan ook na al die plase met moorde…….????!! Nee hul doen NIE. Pas nie hulle agenda nie.

jakes ·

Die MRK sal waarskynlik bevind dat daar rasisme betrokke was en dat witmense die oorsaak was van die gebeure daar.

Robert ·

Het die hof nie al die sogenaamde regte in ag geneem toe die hof bevel toegeken is nie?

coen ·

Ek wonder elke keer as ek dit sien of daarvan hoor, waar het hulle gebly die vorige 5 jaar? Nou skielik sit hulle op straat.

Christien vd Westhuizen ·

Hoe het die besetters daar gekom? Maklik het hulle sinkplate gevat en geloop en geplak dis mos alles hulle sin

Setlaar ·

VREEMD dat hulle nog nooit op ENIGE plaas was waar ‘n boer, sy vrou en kinders verkrag en vermoor is nie, nie eers as daar boodskappe geskryf word wat haat op BLANKS aanblaas en propageer nie .. op moordtonele word daar baie dikwels NOTAS gevind van die moordenaars van hoe hulle blankes haat, maar dit word weggesteek vir die media en al word dit bekend, word daar NIKS aan gedoen nie .. klink ‘kill the boer’ bekend of ‘one settler one bullet’? Watter een trek julle aandag MRK??

Nettie ·

Dink gou mooi, mense, wie moet die MRK vervolg in geval van plaasmoorde, as die meeste plaasmoordenaars omtrent NOOIT gevang en aangekla word nie? Omdat die polisie te traag is (ek veralgemeen) om hul werk te doen omdat die meeste polisiebeamptes van ‘n sekere rasgroep is en (1) geen belangstelling het om misdaad werklik te bekamp nie (om in die polisie te wees is deesdae ‘n “job” soos enige ander) en (2) eintlik bly is dat daar iemand is wat van die “wit honde” ontslae raak ……

Pieter ·

Nettie, moet tog nie die MRK verdedig nie. Hul gedemonstreede dubbele standaarde maak dat hul geen geloofwaardigheid meer het nie. Wil jy nou regtig beweer dat daar eers ‘n klag by hul ingedien moet word oor plaasmoorde? Hul gee gewoon nie om nie.

Koos de Meyer. ·

Die Mrk is ‘n sirkus, eensydig, dubbel standaarde en lagwekkend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.