MRK ondersoek taalkwessie by US

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gaan ondersoek instel by die Universiteit Stellenbosch ná klagtes dat studente nie toegelaat word om in verskillende tale te kommunikeer nie.

Die kommissie het Donderdag gesê die klagtes hou spesifiek verband met die gebruik van Afrikaans. “Die kommissie wil egter graag die omvang van die beweerde beperking ondersoek.”

Die kommissie sê daar is glo ʼn beperking geplaas op die gebruik van Afrikaans in privaat ruimtes, insluitend koshuise, slaapkamers, op digitale platforms soos WhatsApp en selfs op parkbanke voor die studentekoshuise.

“Die kommissie ondersoek die saak en het die rektor en visekanselier van die US, prof. Wim de Villiers, skriftelik gekontak oor die bewerings. Die kommissie se ondersoek hou in hierdie stadium verband met beweerde skendings van sekere regte, waaronder die reg op gelykheid op grond van taal, ras of enige ander verbode grond. Verdere besonderhede sal mettertyd verskaf word.”

Dr Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, het intussen gesê sy party verwelkom vandag se aankondiging deur die MRK dat hy die DA se klag teen die bestuur van die US sal ondersoek na beweerde menseregteskendings teen Afrikaanssprekende studente. Die DA het verlede week die klag by die SAMRK ingedien.

“Ons klag het gepaard gegaan met beëdigde verklarings deur verskillende studente, wat aangedui het dat die verbod op Afrikaans tot minstens vier verskillende koshuise in die US en die Stellenbosch-kampusse strek,” het Schreiber gesê. “Ons klag het die SAMRK ook gevra om te ondersoek hoe die universiteit se taalbeleid van 2016 – wat Afrikaans as gelyke taal saam met Engels afgeskaf het – die beweerde menseregteskendings aangemoedig of andersins aangespoor het.”

Schreiber sê terwyl die ondersoek aan die gang is, moedig hy lede van die publiek aan om die DA se petisie te onderteken om die eerste konsep van die universiteit se hersiene taalbeleid te verwerp, wat die posisie van moedertaalonderrig verder sal verswak en dus waarskynlik tot verdere menseregteskendings teen Afrikaanssprekende studente sal lei.

“Ons sal die versoekskrif en sy duisende handtekeninge voor 12 April by die US indien.

Die DA doen ook ‘n beroep op Wim de Villiers en universiteitskanselier, Edwin Cameron, om hul ontstellende stilte te verbreek oor hierdie skandelike skendings van die reg op moedertaalonderrig. In plaas daarvan om op die MRK-ondersoek te wag, moet die universiteitsbestuur in die openbaar verskoning vra vir die verbod op Afrikaans, en die proses om die taalbeleid te hersien onmiddellik weer begin, met die eksplisiete doel om gelyke status aan Afrikaans en Engels te waarborg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie J ·

Nou word die mrk gevra om die saak te ondersoek; die openlike anti-Afrikaans wolf is nou skaapwagter, ag asseblief! Hierdie kripvreters sal doen soos hulle beveel word deur hulle poppemeesters.

Althes ·

Die MRK is als behalwe objektief. Indien hul ñ gunstige bevinding maak vir Afrikaans, sal die dae van wonderwerke nie verby wees nie.

Kokerboom ·

Die ou tradisionele universiteite is gedoem. Emosie oorheers nogsteeds realisme/realiteite! Kom by Afrikaners!

Johnny ·

Enige “regering”, m.a.w. beherende entiteit, se grootste vrees is masseverset teen sy regulasies en dekrete.
Al wat die studente moet doen is om almal te weier om aan die “versoek” gehoor te gee.

Dries ·

Ek het meer tyd vir Zuma wat ten minste veg vir sy eie mense.
Maar daai de Villiers walg my . Hy veg teen sy eie mense. Verraad in die hoogste graad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.