MRK, Ramaphosa gekap oor Brackenfell-uitlatings

Mense raak slaags buite die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad. (Foto: ANA)

Die DA en die VF Plus het teen onderskeidelik die Menseregtekommissie en pres. Cyril Ramaphosa uitgevaar oor hul kommentaar na aanleiding van die gebeure by Hoërskool Brackenfell.

Refiloe Nt’sekhe, DA-woordvoerder, het gesê die party veroordeel die MRK se blatante poging om verdere rassekonflik aan te wakker. “In ’n absurde verklaring wat Maandag uitgereik is, het die MRK gesê dat hy geskok is om te verneem dat daar in vandag se tye nog ’n rasgesegregeerde private geleentheid vir matriekleerders van die skool gehou is.”

Die kommissie se poging om hierdie private partytjie as ’n “rasgesegregeerde” geleentheid vir “net wit mense” te probeer brandmerk is hoogs onverantwoordelik, sê Nt’sekhe. “Verwag die MRK dat alle private, sosiale geleenthede reg oor die land nou aan ’n sekere raskriteria moet voldoen?”

Ouers en inwoners het Maandag slaags geraak met betogers van die EFF buite die skool waar die rooi barette teen beweerde rassisme by die skool betoog het. ʼn Groep leerders van die skool het vroeër ʼn private geleentheid gehou waarheen geen swart leerder oënskynlik genooi is nie. Die departement van onderwys in die Wes-Kaap het gesê dit was ’n private partytjie vir 42 van die 254 matrikulante

Pres. Ramaphosa het hom ook vroeër uitgelaat oor die gebeure. Ramaphosa het die konfrontasie buite die skool as betreurenswaardig bestempel en het almal betrokke gevra om verantwoordelik op te tree.

Pres. Cyril Ramaphosa, (Foto: GCIS)

Die president het ook gevra dat bewerings van rassisme teen die skool dringend ondersoek moet word. Hy sê die gebeure roep beelde uit die verlede op waarheen nooit weer teruggekeer moet word nie.

Die VF Plus meen dit is onaanvaarbaar dat die president wil voorskryf oor mense se privaatheid.

“Suid-Afrika se Grondwet bepaal duidelik dat almal die reg het op vrye assosiasie. Dit beteken president Ramaphosa is óf onkundig óf hy is openlik rassisties aangesien almal in die land die reg het om in privaatheid te assosieer met wie jy wil, het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.

Dit is duidelik dat die partytjie waarna verwys word, ’n private aangeleentheid was en nie ’n amptelike skoolgeselligheid nie. Volgens Groenewald is dit totaal onaanvaarbaar dat mense nou al voorgeskryf kan word met wie hulle in hul private lewe mag assosieer en met wie nie.

Groenewald het gesê hy sal die saak verder met Ramaphosa opneem in die parlement. “Dit kan nie hier gelaat word nie. President Ramaphosa beweeg op gevaarlike terrein as hy wil inmeng met die privaatheid van mense en op hul reg om te besluit wat hulle in privaatheid wil doen en wie hulle mag uitnooi na ’n private aangeleentheid soos ’n partytjie.”

Die VF Plus het ook na die MRK gekap. “Die MRK wys weereens hoe bevooroordeeld hy is oor die aangeleentheid. Hy tree uit sy eie op sonder dat enige klag nog ingedien is. Daar is etlike voorbeelde waar die VF Plus self ernstige klagte by die MRK ingedien het oor rassisme waaraan bloot geen aandag gegee word nie. Dit is niks anders nie as dubbele standaarde.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

53 Kommentare

jongste oudste gewildste
LiveAndLetLive

Dit raak al hoe duideliker dat ANC en EFF alles as rasisties sien om so doende blankes in n slegte lig te stel, is dit moontlik om weg te kom met dit wat hulle doen aan blankes, soos om rasse haat aan te hits wat lei tot wrede moorde op ons boere en volk?

Cherokee

Dit is nou lekker om te lees. Pieter, ons maak staat daarop dat jy ‘dit verder met ramaphosa sal opneem in die parlement’. Indien hy oor enige selfrespek beskik, kan dit in ‘n verleentheid vir om ontaard.

Pieter

AG asseblief. Die anc is net so rassisties soos die eff. Die ouers by daai skool van alle rasse wat saam gestaan het kan die klomp rassiste n les leer van hoe ons Suid AFrika moet saam werk. “WEG MET ANC , WEG MET eff!!!”

Persheks Adri

Nou ondersoek dan die verdomde EFF man! Hulle is die eintlike probleem hier. Nou is MRK teleurgesteld en Cyril sê iets, maar eintlik niks! Openlike rassisme en haat spraak word nie eers aan gespreek nie! Voetsek

Dries

Is die MRK en president bewus van die ‘slegs swart’ geleendthede wat by universiteite plaasvind?