MRK se verslag oor plaasmoorde bekend

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het Donderdag ’n verslag oor aanvalle en moorde in landelike gebiede bekend gestel.

Die verslag kom ná afloop van die openbare verhore wat in 2014 deur die MRK gehou is oor aanvalle en moorde op plase. Die MRK het in die verslag sy kommer uitgespreek oor geweld in landelike gebiede en plaasmoorde.

Die MRK het die volgende aanbevelings gemaak:

1. Die kommissie gee toe dat indien geweld in landelike gemeenskappe op ʼn omvattende manier aandag kry, die menseregte van alle van lede van die gemeenskappe verskans en gehandhaaf sal word. Die kommissie sal veiligheid in landelike gebiede op sy nasionale menseregte-agenda behou en sal gesprekvoering tussen die onderskeie rolspelers aanmoedig.
2. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet baie meer doen in die stryd teen misdaad in landelike gebiede.
3. Die kommissie is bewus daarvan dat daar in seker gevalle rassistiese ondertone is tydens voorvalle van geweld op plase. Die kommissie stel voor dat daar spesifiek aandag gegee word aan rasseverhoudings in landelike gebiede en dat negatiewe stereotipering aandag moet kry.
4. Verskeie aanbevelings word gemaak ten opsigte van voortgesette navorsing oor plaasaanvalle en -moorde.
5. Die kommissie beveel aan dat daar ’n standaard moet wees omtrent die behuising wat aan plaaswerkers en -bewoners verskaf word.
6. Die SAPD se Landelike Veiligheidstrategie moet hersien word en die SAPD moet verskeie praktiese stappe implementeer, waaronder die organisering van ’n nasionale spitsberaad oor plaasveiligheid. (Die MRK het hierdie aanbeveling reeds in 2008 vir die eerste keer gemaak, maar die SAPD het versuim om dit uit te voer.)
7. Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) moet by misdaadvoorkomingstrategieë betrek word en ’n meer geformaliseerde verhouding moet tussen GPF’s en Landelike Veiligheidsprioriteitskomitees gevestig word.
8. ’n Spesiale subkomitee moet in die geregtigheid-, misdaadvoorkoming- en veiligheid-sektor (JCPS) se voorkeurkomitee geskep word met die doel om ’n aksieplan vir die hantering van misdaad in landelike gebiede te ontwikkel en die uitvoer van aktiwiteite ten opsigte van landelike veiligheid deur die onderskeie staatsdepartemente te monitor.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het intussen die verslag verwelkom. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê hoewel die organisasie sekere voorbehoude oor die detail van die verslag het, is die aanbevelings wat daarin deur die MRK gemaak word, konstruktief.

Ernst Roets. Foto: Reint Dykema.

Ernst Roets. Foto: Reint Dykema.

“In die eerste plek moes ons nooit in hierdie situasie beland het nie. Plaasmoorde is al sedert die vroeë 1990’s ’n krisis en die voortbestaan van hierdie krisis kan toegeskryf word aan die regering se lamsakkige houding daaroor. Ons is egter van mening dat, indien die aanbevelings wat in die verslag gemaak word met die nodige erns deur die onderskeie staatsdepartemente uitgevoer word, dit ’n wesenlike verskil kan maak om die krisis hok te slaan.”
Roets het bygevoeg dat daar bepaalde elemente van die verslag is waaroor AfriForum sy voorbehoud wil uitspreek. Dit sluit onder meer die volgende in:

• Die MRK het reeds in 2003 en 2008 bepaalde aanbevelings in hierdie verband gemaak, wat nie deur die regering uitgevoer is nie. Die sogenaamde teenwigte om regeringsversuim te takel, is nie sterk genoeg nie en die sukses van hierdie poging hang tot ’n groot mate af van die suksesvolle uitvoering deur die regering.
• Die kwessie van rassespanning en rassisme tydens plaasmoorde word op ’n oorvereenvoudigde wyse aangebied.
• In die verslag word daar onder meer aanbeveel dat boere meer gereeld toegang tot hulle grond aan die regering moet bied. AfriForum is van mening dat hierdie aanbeveling nie genoegsaam teen die grondwetlike regte op privaatheid en die besit van private eiendom opgeweeg word nie en dat só ’n aanbeveling deur staatsamptenare misbruik kan word.
• Die regte, hantering en ondersteuning van slagoffers moet op ’n baie meer omsigtige wyse benader word. Die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling se sogenaamde Victims Charter wat tans van toepassing is, dek slegs drie soorte misdade. Dit moet aangepas en uitgebrei word om alle misdade in te sluit.

Roets het bygevoeg dat AfriForum sal voortgaan met sy veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde.

Klik hier vir die volledige verslag.

Klik hier vir ’n ontledingstuk oor die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

dries ·

Ondersteun Afriforum mense, hulle doen vir ons mense reuse werk.

alida ·

B.Jacobs lees die koerante dan sal jy sien hoeveel gunstige hofbevele hulle al gekry het en hoeveel suksesverhale daar is.

Maddox ·

Ek wil net graag weet, as die moordenaars wit was en die slagoffers swart was, sou die MRK / ANC en die wit liberale nog so still gewees het, of sou hulle skreeu : Rasmoord!!!!!…?????

Saraie ·

Ek hoop daar kom iets hiervan. Sien Leon Wessels sit ook daar. My vertroue in die komitee het toe sommer gedaal. Sterkte Afriforum hou hulle dop.

Johan 2 ·

Ja Saraie ek stem met jou saam, lyk my al die kaf wil tog net nie wegwaai nie. n Paar van sy maats het darem al landuit gewai.

Francois ·

Nou wat de moer het plaas huisvesting (punt nommer 5) met die moorde te doen. Huh! Mis ek iets?

Johann Marx ·

Seksie 184.2(b) van die konstitusie verplig die MRK om mense wie se regte geskend is by te staan om restitusie en kompensasie te bekom. Aangesien die vermoorde boer NIE terug gebring kan word nie, dink ek die volgende behoort te gebeur: Die vermoorde boer se naasbestaandes en sy boedel behoort kwyt geskeld te word van enige vorm van belasting aan die staat….wie hulle in die eerste plek gefaal het in terme van die Konstitusie.

Johann Marx ·

Na ‘n plaasmoord soek die SAPD na die verdagtes….en word hulle salarisse word betaal (ook met die vermoorde boer se belasting). Indien hulle gearresteer word, kry die verdagtes regshulp (wat betaal word ook met die boer se belasting). Indien hulle skuldig bevind word en tronk toe gaan, word daardie kostes gedek (ook deur die boer se belasting). En as alles afgehandel is….kry die weduwee van die boer ‘n “rekening” vir boedelbelasting! As die regering boedelbelasting wil hef, moet hulle seker maak die oorledene leef tot by afsterwe aan “natuurlike oorsake”. Op die oomblik maak hulle miljoene uit boedelbelasting…op die boedels van vermoorde boere.

Johann Marx ·

Ek is amper seker daar ‘n “regsbeginsel” wat lui : Hy wie moor verbeur die reg om te erf. As die regering nie die boere kan beskerm nie (en dit lyk nie of hulle die wil of die vermoë het nie)…..dan behoort hulle ook nie die “reg” te hê om te “erf” nie. Dus…GEEN boedelbelasting op die boedels van vermoorde boere nie. Die weduwee en die haar kinders het dit nodig om mee te leef.

alida ·

Asseblief mense sluit aan by Afriforum!!! Hulle doen baie meer as wat ons bewus is van. Ons kan eenvoudig nie sonder hulle nie. Dit is die enigste organisasie wat opstaan teen die Regering en ons blankes se belange op die hart dra. Sluit net aan met ‘n klein bydrae elke maand al is dit net R50.00. ELKE BIETJIE HELP om hulle te versterk.

Alien ·

Afriforum is die meesterbrein agter elke buuurtwag. Stem saam Alida , doen bietjie navorsing en sien wat hulle vir ons doen.

Johannes Meintjes ·

Ek woon tans ‘n veelrassige en internasionale landbouseminaar by. Die gebrekkigge, eiesinnige en politieke wyse waarop ons baie dinge, – en veral landbou- benader, – bring nog lank nie die voedsel-sekerheidsresultate en multi-vlak landbou dinamieka wat so dringend in SA en Afrika benodig word nie.

Therese van Schalkwyk ·

Johannes Meintjes, jy sal moet uitbrei op hierdie stelling asseblief. Wat presies is “gebrekkig, eiesinnig en polities”? Hou in gedagte dat die onderwerp “plaasmoorde” is.

Ek vind dit in elk geval onvanpas dat “voedselsekerheid” in dieselfde asem as plaasmoorde genoem word. ‘n Boer se lewe is baie meer werd as blote kos op ons tafels.

alex ·

Afriforum speel met woorde. By hulle gaan dit oor getalle tov lede geld bydrae. Die ou regering het die Kommando stelsel gehad. Dit het baie goed gewerk. Dit is die regering se plig om die boere op die platteland te beskerm. Die boere het nie wapens en infrastrukture nie. Die regering moet net sy pligte nakom rondom die boere. En afriforum kan net mooi niks doen nie. Stop julle geld insameling.

Christopher ·

Ek stem 100% saam met jou oor die saak. As daar gronde is van versuiming van staatspligte om veiligheid van landsburgers te verseker dan is daar gronde vir regsadvies. Ek dink wat moet gebeur is ‘n massa-regsaksie deur almal wat iemand verloor het – class action.

alex ·

Christopher dis reg die regering kom nie sy pligte na om boere en die gemeenskap op die platteland te beskerm nie. Die Kommando stelsel moes nooit deur die regering toegemaak gewees het nie.
Hierdie lede was opgelei deur die staat en het ‘n infrastruktuur gehad wat soos enige weermag eenheid funksioneer het. Wapens, voertuie, ens. Nou is daar niks. Om dit weer te vestig gaan baie lank neem bv opleiding aan Kommando lede. Nie eens te praat van al die toerusting benodig nie. Die militere kundigheid ontbreek tans. Daar moet opgetree word.

Peet ·

Die MRK sê die SAPD en NVG moet meer doen met betrekking tot die Landelike Veiligheidstrategie en praktiese stappe implimenteer sedert 2008 het niks gebeur nie op grond waarvan sal hulle nou iets doen , ‘n spesiale subkomitee moet geskep word in die JCPS dit is die geregtigheid, misdaadvoorkoming en veiligheidsektor voorkeurkomitee met die doel om ‘n aksieplan te ontwikkel en moet gemonitor word deur die betrokke staatsdepartemente. Die vraag is wat is die plan van aksie en wanneer sal die stelsel eendag ge-implimenteer word en in die tussentyd word die misdaad al erger?

Christopher ·

Nou as die regering hulle plig versuim ingevolge die konstitusie, hoekom sleep julle nie die regering hof toe nie? Ek verstaan dit nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.