MRK-uitspraak oor Afrikaans by Maties verwelkom

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se uitspraak dat die Universiteit Stellenbosch (US) wel studente se menseregte geskend het deur hulle te verbied om Afrikaans te praat, is Woensdag wyd verwelkom.

Die Afrikaanse Taalraad het in ʼn skrywe gesê dat hy beïndruk is dat die MRK die universiteit verantwoordelik hou vir die indruis op sy eie taalbeleid en vir die optredes van sommige koshuisbestuurslede.

“Die MRK se voorgestelde aanpassing van ʼn klousule in die US se taalbeleid skep boonop ook meer duidelikheid oor die balans tussen inklusiwiteit en studente se taalkulturele regte en sal ʼn herhaling van dié gebeure bemoeilik,” sê Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad.

“Hiermee stel die MRK ook ʼn presedent met wyer implikasies. Deur die taalhekkie ietwat hoër te stel, maak hy die afdwing van Engelse eentaligheid aan openbare instellings moeiliker.”

Volgens Steenkamp het die MRK se bevindinge wel ook gewys op probleme met die inwerkingstelling van die US se taalbeleid en veral die taalhoudings van sommige studenteleiers, personeel en bestuur.

“Taalhoudings lê aan die kern van die probleem en om dít te verander is selde maklik. Dit is egter ʼn voorvereiste vir goeie verhoudings tussen studente en ʼn gebruikersvriendelike taalbeleid. Daar lê dus ʼn groot taak vir die US voor,” sê hy.

“Die MRK se aanbevelings verbreek ook die taboe oor bespreking van die US se taalbeleid self, eerder as net die inwerkingstelling daarvan. ʼn Mens hoop dat die volgende hersiening van die taalbeleid meer ingrypend sal wees.”

Die MRK het in sy uitspraak versoek dat prof. Wim de Villiers, rektor van die US, ʼn skriftelike openbare verskoning aan studente rig en onderneem dat geen student ooit weer verhoed sal word om in ʼn bepaalde taal te kommunikeer nie.

AfriForum Jeug sê hy sal druk op die US toepas om te verseker dat die universiteit nie bloot “die minimum sal doen om die opdrag van die MRK na te kom nie”.

“Hierdie verskoning moet nie net ʼn verskoning vir die studente wat te na gekom is, wees nie, maar ook die vernietigende kultuur van taaluitsluiting uitwys en benadruk dat ’n diskriminerende houding teenoor taal onaanvaarbaar is,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

“Die MRK se verslag, asook AfriForum se Konstitusionele Hof-oorwinning in 2021 vir die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by Unisa, bewys dat die tydsgees oor taal besig is om te draai namate die behoefte vir meertaligheid groei.”

AfriForum Jeug het reeds vroeër vanjaar as waghond opgetree nadat studente se menseregte weer tydens die 2023-verwelkoming geskend is toe studenteleiers eerstejaarstudente opdrag gegee het om slegs Engels te praat.

“Lede van die jeugorganisasie sal voortaan dié rol op die US-kampus versterk en by studenteleiers bevestig of die opdrag van die MRK uitgevoer is, naamlik dat die US binne 74 dae (60 dae nadat hulle binne die volgende 14 dae die verslag aan koshuisleierskap bekend gemaak het) aan koshuisleierskap opleiding moet verskaf oor die korrekte interpretasie en toepassing van die taalbeleid.”

Volgens Van der Vyver sal AfriForum Jeug ook aanhou veg vir Afrikaans op universiteitskampusse in die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Heinrich ·

Uiteindelik iets reg van die MRK, gedink hulle was ook gekaap maar lyk my daar’s hoop.

JohanR ·

Sing my Afrikaanse maatjies sing nou daar by US……Kaptein span die seile, die kampus is weer onse. Jammer Kurt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.