MRK versoek om regstelaksie te hersien

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, vergader met die hooggeplaastes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie rakende regstellende aksie. Foto: Twitter via @solidariteit

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, vergader met die hooggeplaastes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie rakende regstellende aksie. Foto: Twitter via @solidariteit

Die vakbond Solidariteit het vandag die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gevra om wette oor swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie formeel te ondersoek.

Dit volg nadat die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) in ’n verslag kritiek uitgespreek het op Suid-Afrika se stelsel van rasseklassifikasie.

Volgens die verslag is die CERD bekommerd daaroor dat Suid-Afrika in aanstellingswetgewing gebruik maak van rasseklassifikasie eie aan dié van die apartheidsera. Die VN-komitee se verslag volg nadat die Suid-Afrikaanse regering sy periodieke verslag en Solidariteit ’n skaduverslag verlede jaar by CERD ingedien het. Die VN-komitee sê ook in ’n verklaring dat die Suid-Afrikaanse stelsel van regstellende aksie te rigied is.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, tree die SAMRK as die CERD se agent in Suid-Afrika op en moet die kommissie toesien dat Suid-Afrika die vereistes van VN-resolusies en aanbevelings implementeer. Die SAMRK beskik oor die magte om Suid-Afrika se regstellendeaksiewette te ondersoek om te bepaal of dit aan die CERD se vereistes voldoen. Een van die vereistes van die CERD is dat regstellende aksie nie net op ras geskoei mag wees nie en dat daar gefokus moet word op ’n persoon se sosio-ekonomiese omstandighede.

“Die CERD het ook aanbeveel dat Suid-Afrika verslag aan die komitee moet doen oor die impak van regstellende aksie op arbeid, onderwys, openbare en politieke sake. Die regering moet ook verslag doen oor die impak wat regstellende aksie het op persone wat daardeur geraak word.

“Die CERD se aanbevelings is ’n groot deurbraak vir ons in ons poging om balans in die rassedebat in Suid-Afrika te bewerkstellig. Ons verwag van die SAMRK om sy mandaat uit te voer en om seker te maak dat Suid-Afrika sy internasionale verpligtinge nakom.

“Die oorhandiging van die memorandum aan die SAMRK vandag is die begin van ’n reuse-veldtog wat Solidariteit oor die volgende drie maande teen alle vorme van rassisme gaan voer. Die veldtog gaan veral fokus op dubbelstandaarde in die hantering van rassisme in Suid-Afrika. Suid-Afrika is te geduldig met die hantering van swart-op-wit-rassisme. Alle vorme van rassisme moet verwerp word,” het Hermann gesê.

Solidariteit beplan om oor die volgende drie maande ’n verslag oor dubbelstandaarde in die hantering van rassisme te publiseer en om ook ’n konferensie oor die onderwerp aan te bied. ’n Massaklag waarin tienduisende Suid-Afrikaners gaan vra dat rassisme in Suid-Afrika oor dieselfde kam geskeer word, gaan ook deel uitmaak van die veldtog. Die klag gaan aan die einde van die veldtog by die parlement, die SAMRK, die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO), die VN se kommissie vir menseregte, asook die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie ingedien word.

“Ons is daarvan oortuig dat alle Suid-Afrikaners moeg is vir rassisme. Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners, wit en swart, om enige vorm van rassisme en rasse-uitsprake te stop. Ons moet wys dat die groot middelgroep van alle Suid-Afrikaners glo aan wedersydse respek,” aldus Hermann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hendrik ·

Ek verwag (demand) dat die MRK aanbeveel dat alle diskrimenernde rasgedrewe wetgewing gestaak moet soos verwag deur CERT. Ek sal ook nie deelneem aan die demokratiese bestel (verkiesings) alvolens die diskrimnerende wetgewing van die wetboeke verwyder is nie en dat artikel 235 van die grondwet geimplimenteer word.

Christa ·

Hendrik as jy nie deelneem aan die verkiesings nie spite jy net jouself en GEE jy ‘n ekstra stem VIR hulle!!

Cherokee ·

Christa, verduidelik in detail hoe jy die ‘ekstra stem vir hulle’ uitwerk. Ek stem nie tydens munisipale verkiesings nie omdat ek in ‘n stad woon waar die VF nie verteenwoordig word nie. My gewete bots absoluut daarteen om vir die DA te stem want ek het nasie en taaltrots. Verwys terug na my eerste sin.

tamboti ·

Goeie werk maar die stryd le nog voor, die VN was nog nooit baie lief vir ons niemaar nou is bordjies verhang en VN moet ook hul eie voorskrifte volg.
SA regering is natuurlik nie-toerekeningvatbaar nie.

AL ·

Daar is baie sosio-ekonomiese agtergeblewenes onder wittes selfs gedurende apartheid wat geen voordeel getrek het uit enige politieke bestel nie. Dis tyd dat regstellende aksie gestaak word. Die Staatsdiens wie die grootste werkgewer is, het al oor en oor sy teikens bereik.
Verder glo ek dat seksuele opvoeding aggressief toegepas moet word om swangerskappe te voorkom want dit bring net verdere armoede wat weer uitkring deur straatkinders te word en hul na misdaad wend om materiele dinge te bekom.
Ons land is moeg vir rassisme, rasse polirisasie en geweld. Ek glo dat die meeste Suid-Afrikaners wil n inkomste verdien en in vrede met mekaar wil lewe.
Die BEE maatskappye wie grenloos ryk raak uit staattenders moet nie net die vet van hul rykdom geniet nie, maar terugploeg in die samelewing. Die BEE moet ook verantwoordelikheid aanvaar vir arm gemeenskappr.

Natasha ·

Dit is vir my goeie nuus, soveel standaarde sal weer lig en die mense wat deurloop nie almal oorsee werk gaan soek nie. Dis ons almal se land en almal moet n regverdige kans kry.

Alida ·

Dr Hermann terwyl u besig is met die MRK wys ASB die fotos van die 11 moorde op blankes in 15 dae.

Fanie ·

Hendrik, Art 235 van die Grondwet oor Selfbeskikking is ‘n magtigende bepaling, en nie ‘n gebiedende een. Jy mag Selfbeskikking bevorder, maar die regering gaan dit nie ‘gee’. Nie net omdat dit teen hul beleid is, maar omdat Afrikaners nie ‘n ‘Skotland’ het wat gegee kan word. Doen eerder iets om selfbeskikking te bevorder, niemand gaan of kan dit ‘gee’.

Niek ·

Ek het nie ‘n guns of simpatie nodig nie.
Ek wil net op gelyke voet kompeteer en help om ‘n verskil te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.