MRK wil Hofmeyr vasvat oor omstrede twiet

Steve Hofmeyr (Foto: Joanne Olivier Photography)

Die Menseregtekommissie (MRK) wil die sanger Steve Hofmeyr voor stok kry oor sy omstrede uitlatings oor lede van die gay-gemeenskap, nadat ʼn organisasie in Gqeberha (Port Elizabeth) die klagte as ʼn moontlike menseregteskending uitgewys het.

Die kommissie het in ʼn brief aan Hofmeyr sy kommer oor die uitlating – wat met duisende van Hofmeyr se aanlyn volgelinge gedeel is – te kenne gegee. Die MRK sê indien die sanger nie aan die kommissie se eise gehoor gee nie, behou die kommissie hom die reg voor om hom na die gelykheidshof te wend om Hofmeyr voor stok te kry.

Die MRK het egter nie bekend gemaak wat dié eise presies behels nie.

Die MRK sê hy kan moontlik vra vir skadevergoeding, asook ʼn bevel dat Hofmeyr gemeenskapsdiens opgelê word by ʼn sentrum wat die bevordering van die regte van kwesbare groepe steun.

Hofmeyr het met verwysing na die LGBTIQ+-gemeenskap getwiet “… waar my generasie geleer het om met muise, eende en honde te praat, gaan ons kinders geleer word hoe om met muise, eende en honde seks te hê …” lui die MRK se verklaring.

Hofmeyr het die twiet reeds verwyder.

Die kommissie sê dit blyk uit sy assessering van die twiet dat Hofmeyr bestialiteit by die LGBTIQ+-gemeenskap insluit. Bestialiteit is ʼn strafregtelike oortreding.

“Die kommissie het voorts vasgestel dat die opmerking, deur ʼn kwesbare gedeelte van die gemeenskap gelyk te stel met misdadigers wat seks met ‘muise, eende en honde’ het, lede wat inskakel by die LGBTIQ+-gemeenskap ernstig kan verneder en hul regte op gelykheid en waardigheid, soos bepaal in die Grondwet, raak.”

Hofmeyr se opmerking is oënskynlik gemaak in reaksie op ʼn besluit van Disney om groter inklusiwiteit op sy platforms te verseker.

Volgens die MRK kan die opmerking ʼn oortreding van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie wees.

“Die kommissie het ʼn duidelike mandaat om stappe te doen om gepaste regstelling te verseker waar menseregte geskend is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.