MRK wil seksklag teen sokkerbaas ‘bemiddel’

Danny Jordaan Foto: Conti Soccer World

Die Menseregtekommissie (MRK) wil nou as bemiddelaar optree om ʼn klag van verkragting teen die sokkerbaas, dr. Danny Jordaan, te help oplos.

Jordaan is president van die Suid-Afrikaanse sokkervereniging en oudburgemeester van die Nelson Mandelabaai Metro in die Oos-Kaap.

Jennifer Ferguson het in Maart 2018 reeds ʼn klag van verkragting teen Jordaan ingedien, maar die saak is skynbaar nooit ondersoek nie. Die slagoffer het haar nou tot die MRK gewend vir geregtigheid om te geskied en die kommissie op 4 Mei genader.

Sy beweer dat Jordaan haar meer as 30 jaar gelede in ʼn hotelkamer in Gqeberha verkrag het.

Jordaan se prokureurs het destyds gesê hulle het deur die media van die klag te hore gekom en dat die polisie of Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ʼn maand later nog nie met Jordaan óf sy prokureurs in verbinding getree het daaroor nie.

Volgens Jordaan se regsverteenwoordigers het hulle ook met die ondersoekbeampte in die saak probeer kontak maak en sou hulle hul destyds tot die NVG wend in ʼn poging om die saak so gou moontlik aan te raak.

“Ons benadruk dat Ferguson se bewerings absoluut ongegrond en onwaar is en dat haar ware motiewe erg verdag is,” het sy regspan tóé gesê.

Luidens ʼn brief wat die MRK Donderdag aan Jordaan gestuur het, word die saak van verkragting nog deur die polisie in Gqeberha ondersoek en het hy vroeëre versoeke deur Ferguson om die saak te bespreek, van die hand gewys.

“Die klaer se verteenwoordigers stel voor dat die partye die kwessie deur ʼn bemiddelingsproses probeer oplos. Daarom nooi die kommissie jou (Jordaan) uit om deel te neem aan ʼn bemiddelingsproses, wat daarop gemik is om begrip, respek vir die reg en versoening tussen die partye te bewerkstellig,” lui die brief. Die kommissie sal dié gesprek fasiliteer.

Jordaan het sewe dae vanaf ontvangs van die brief om daarop te reageer.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hennie ·

Hoe ondersoek mens so ‘n klag na 30 jaar? Danny is nou nie my favourite drommel nie, maar dit is ‘n “he said” “she said” situasie!

Casper ·

Dit was ook die geval met Bob Hewit gewees.Vrouens kom na 40 aar en sê hy het hulle verkrag en hy is tronk toe.Hoekom kan dieselfde reël nie vir Jordaan geld nie.Vrouens is engele maar kan vieslik wees.Kla Jordaan aan laat hy sy onskuld in die hof bewys.

Kosie ·

Sluit hom toe MRK wil net toetree om weer sy onskuld te beknoei sois gewoonlik

Tanniepetoors ·

Jammer, maar die ou was nog maar altyd grillerig na my mening. Stenig my nou!

Marietjie ·

Hierdie is net belaglik. Hoe bewys mens enigiets na soveel jaar. Dit is altyd nadat iemand bekend en beroemd is, dan kom al die slagoffers na vore. Dis net vir selfverryking.

Anoniem ·

Geen bemiddeling nie, ondersoek en tree dienooreenkomstig op.

SjN ·

Ondersoek sommer ook die R10 milj omkoop geld van die sokker wereld beker bod saam met vorige minister van sports, ene Frikkie .

Kobus ·

Is hierdie nuwe klag of die een van jare gelede? Waarom wil die MRK betrokke raak?

Hennie J ·

Ek ruik n rot; n groot vet rot. Van wanneer af is hierdie mrk narre met die magte geseen om so n ernstige klag te bemiddel?Hier kom n toesmeerdery net om die kader te beskerm.

Moeggeploeg ·

Die wet moet vir almal dieselfde wees. Hoekom moet hy voorkeur kry

M-woord ·

Watse pot bollie is hierdie! Die ou moet soos enige ander beskuldigde behandel word. Kom Afriforum, tyd om betrokke te raak. Ai, hoe wens ek ek kan se wat ek van die “ou” wil se….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.