MSC-vaarte in SA tydelik opgeskort

Die MSC Orchestra se vaarte is tot 8 Januarie opgeskort. (Foto: MSC Cruises)

MSC Cruises het al sy plaaslike vaarte in Suid-Afrika met onmiddellike inwerkingtreding tot 8 Januarie opgeskort.

Die passasierskipmaatskappy sê die besluit is geneem in ooreenstemming met die maatskappy se gesondheid- en veiligheidsprotokol wat verband hou met die “mees onlangse en skielike ontwikkeling en verloop, veral oor die afgelope week, van die pandemie” in die land. Hy beskou die gesondheid en veiligheid van sy gaste en bemanning as die grootste prioriteit.

Die besluit veroorsaak die kansellering van alle vaarte van die MSC Orchestra uit die Durbanse hawe. Gaste sal ʼn koopbewys vir ʼn vaart later in die seisoen ontvang, of kan ʼn volle terugbetaling aanvra.

Die MSC Orchestra sal weer op 9 Januarie vaarte hervat.

Ross Volk, besturende direkteur van MSC Cruises South Africa, sê die besluit is weens ekstra waaksaamheid teenoor gaste, die bemanning en die gemeenskappe wat die MSC Orchestra oor die volgende paar weke sou besoek, geneem.

“In die lig van die mees onlangse ontwikkeling en verloop van die Covid-19-pandemie oor Suid-Afrika het ons met die departement van gesondheid beraadslaag wat hard werk om die mees onlangse data oor die virus te verwerk.

“Omdat gesondheid en veiligheid ons grootste prioriteit is, dui ons protokol duidelik op ʼn tydelike staking van beoogde vaarte met onmiddellike inwerkingtreding,” sê Volk.

Hy sê die maatskappy het groot begrip dat die besluit teleurstellend sal wees vir gaste wie se vaarte nou gekanselleer is.

“Ek hoop hulle besef dat dit juis met die oog op hul welstand gedoen is.”

MSC Cruises het vaarte in Suid-Afrika op 6 Desember ná ʼn 20 maande lange onderbreking weens die pandemie met ʼn vier nag lange vaart vanuit Durban hervat.

Toestemming hiervoor is deur die departement van gesondheid, sy eweknie by vervoer en die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid gegee.

Volgens MSC Cruises is die maatskappy ʼn leier op die gebied van gesondheid- en veiligheidsprotokol op passasierskepe en hy was die eerste groot maatskappy om weer internasionale bedrywighede te hervat.

Die maatskappy het 12 skepe wat vaarte in Europa, Noord-Amerika, Suid-Amerika en die Midde-Ooste onderneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Marius ·

Dit lyk darem of hul nou al weet dat covid infeksies teen 9 Januarie sal afneem. Wonderlik né… Op radio nuus word daar gepraat van ‘n derde inenting wat geneem moet word. Net jammer die se lewensduur is ook ongeveer drie maande waarna jy dan ‘n vierde, vyfde en sesde inenting sal moet kry.

VaalDonkie ·

Ons het gegaan van “15 days to flatten the curve” na seker “15 boosters to end the pandemic” of iets.

Eugene ·

Ja net die wat volle inge-ent was toegelaat wat nou!! Wat n klug!!!

Hendrik ·

MSC het hulle beleid om almal toe te laat op die vaarte verander dat net ingeentes mag vaar. Net ‘n PCR toets sou benodig wees om aanboord te gaan en dit maak sin wat ookal jou inenting status is. Nou het van hulle ingeente bemanning CV-19 gekry. Ons stel ons vaart uit na totdat almal ongeag hul inenting statud toegelaat word.

ES ·

Ek wil darem ook nie op ‘n bootreis met ‘n masker aan loop nie… dit sal die hele wegbreek bederf.

VaalDonkie ·

Jy moet in elk geval wonder of die lugversorging wat so in jou kajuit inblaas, op standaard is om die virus dood te maak voor hy by jou uitkom.

lodewyk ·

Hulle het dieselfde gedoen 2020 Dec met Covid,ons het ons deposito verloor,want hulle het bly hulle datums aanskyf na 2021,dus dink mooi voor julle weer vir die tyd van die jaar bespreek by MSC vaarte

JohanR ·

Dink nie die wereld gaan ooit weer die selfde wees nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.