Msimanga ongelukkig oor polisie se ‘trae reaksie’

Foto: Verskaf.

Solly Msimanga, burgemeester van die Tshwane-metro, het die geweld wat in Mahube Valley en Mamelodi-Oos uitgebreek het, veroordeel.

Volgens berigte het inwoners van Mahube Valley en inwoners van Mamelodi-Oos slaags geraak nadat ʼn substasie beskadig is en elektrisiteitstoevoer beïnvloed is. Daar is glo beskuldigings oor en weer geslinger voordat die groepe mekaar glo met klippe bestook het. Inwoners van Mahube Valley beskuldig glo die ander inwoners van onwettige elektrisiteitsverbindings.

Samkelo Mgobozi, Msimanga se woordvoerder, het in ʼn verklaring gesê hy is net so bekommerd oor die “onvoldoende” reaksie van die polisie in antwoord op die geweld. “Ek sal die kwessie met die nasionale en provinsiale kommissarisse asook die minister van polisie opneem om die trae reaksie op die oproer te bespreek,” het Msimanga gesê.

“ʼn Klein substasie is ook aan die brand gesteek en huise en plakkershutte is met petrolbomme bestook. ʼn Brandweerwa is ook in die proses beskadig,” het Mgobozi gesê.

Werkers van die metro is na die toneel om die skade aan die substasie te ondersoek, maar is gedreig en moes noodgedwonge die gebied verlaat uit vrees vir hul veiligheid.

Foto: Verskaf.

“Om ʼn substasie te beskadig en die hele omgewing sonder elektrisiteit te laat is onwettig. Ons beskou dit as kriminele gedrag en moedig alle geaffekteerde huiseienaars aan om saakbeskadigingeise by hul naaste polisiestasie aanhangig te maak,” het Msimanga gesê.

“Grondbesettings is ʼn ingewikkelde probleem en moet ingevolge die wetlike konteks beskou word. Die stad het ʼn visie vir volhoubare behuising. ʼn Poging van verskeie departemente is nodig om aandag te gee aan dié kwessie. Daarom sal ek met die nasionale kommissaris en die minister praat om te verseker dat gewelddadige protesaksie in die vervolg beter hanteer word,” het Msimanga gesê.

Msimanga het bygevoeg daar is in sy begrotingsrede uiteengesit dat sewe informele nedersettings in hierdie finansiële jaar gestalte gaan kry. “Ons pogings om vir alle lede van Tshwane die dienste te verskaf wat hulle toekom sal tyd neem en ons simpatiseer met die gemeenskap, maar geweld sal nie geduld word nie,” het Msimanga gesê.

Gesinne is weens die oproer uit die gebied verwyder en wetstoepassers monitor die situasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alida ·

Hulle doen hierdie goed net omdat dit ‘n DA gebied is. Wat dink die sotte gaan hulle bereik. Nou het niemand krag nie. Dit is om ‘n trein aan die brand te steek omdat dit laat is maar hulle brand hom en more is daar geen trein nie. Hulle koppe werk nie.

Koos1 ·

Solly, die polisie gaan stadig optree want julle is ‘n DA/EFF koalisie wat Tshwane bestuur.
Die regring sal dit gebruik om aan die mense te wys hoe swak ander partye vaar en dat die ANC baie beter is.

Alida ·

Mens moet die sotte los dat hulle alles afbrand dan is daar niks. Daai krag moet afbly en die substasie moet nie herstel word nie. Die wat krag by die bure gekry het en die bure betaal het daarvoor maar versuim het om te betaal moet mekaar maar uitsorteer. Mens kan nie vir ewig agter hulle opbou en herstel ten koste van ander nie.

Johann Marx ·

Wie is in beheer van Tswane? Die DA/EFF koalisie. Wie betaal daai polisiemanne se salarisse? Die ANC. Watter ander uitkoms het jy verwag? Ek dink daardie trae optrede behoort aan die groot klok gehang te word, en klagtes ingedien word….maar weereens, by wie? By SAPD? Jy verkla dus die SAPD by die SAPD? Of die ANC by die ANC? Watter resultate verwag jy?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.