Msimanga probeer nog ʼn paar stemme werf

Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat vir Gauteng, en ʼn groep DA-lede in Pretoria. Hy het selfs met ʼn man gesels wat ʼn EFF-T-hemp dra (Foto: ANA)

Die Demokratiese Alliansie se premierskandidaat in Gauteng, Solly Msimanga, het Dinsdagoggend in Pretoria se strate lukraak met inwoners gesels om ʼn paar kiesers, ʼn dag voor die verkiesing, oor te haal om vir sy party te stem.

Die voormalige burgemeester van Tshwane (Pretoria) het ʼn beroep op geregistreerde kiesers gedoen om Woensdag hul demokratiese reg uit te oefen en aan die nasionale verkiesing deel te neem.

“Ons het ʼn laaste poging aangewend. Ons het vervoersentra besoek en spesiale stemme deursoek van mense wat hul ondersteuning aangedui het,” het Msimanga gesê terwyl hy met verskillende inwoners van Pretoria gesels het. Ntate Abel Tau, streeksvoorsitter van die DA in Gauteng, het ook by Msimanga aangesluit. Hulle het sedert 06:00 met inwoners gesels.

“Ons het met taxioperateurs gesels en met pendelaars gesels. Daar is ʼn opgewondenheid in die lug. Mense wil verandering sien en ons wil seker maak dat ons dié verandering teweeg bring.”

Msimanga het Dinsdagmiddag Parkstasie in Johannesburg se middestad besoek. “Die idee is om seker te maak dat elke kieser, wat geregistreer is om te stem, gaan stem en vir verandering stem. Ons het gehoor van mense wat nie gaan stem nie, veral jong mense wat nie kan sien wat die doel is om te stem nie. Ons gebruik hierdie geleentheid om vir hulle te verduidelik waarom stemmery so belangrik is. As jy nie stem nie, het jy nie ʼn sê hoe die land bestuur word nie.”

In plaas daarvan om in die strate te betoog, moet gemeenskappe eerder hul stem gebruik om die toekoms van die land te bepaal, het hy gesê. “Ek ondersteun nie die idee dat mense in die strate betoog nie. As jy wil betoog, gebruik jou stembrief.”

Hy het gesê die DA hoop dat die nasionale verkiesing Woensdag vreedsaam sal geskied. “Ons hoop dat daar nie enige ontwrigting sal wees nie en dat demokrasie uiteindelik die wenner sal wees. Suid-Afrikaners moet uiteindelik die wenner wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

IK ·

Op ‘n vraag van my ‘n klompie jare gelede waarom daar weer en weer vir die party gestem word wat die land se ondergang veroorsaak was die antwoord: ‘Ons stem vir hulle want hulle moet hul eie gemors regmaak.’

Wow! ·

Maak sin op soveel vlakke. Dis soos ‘n alkoholis wat sê hy drink drank op sodat sy kinders nie met die probleem sit nie.

Pieter du plessis ·

Sy party het ook regtig goeie werk gedoen om vir die VF+ lede uit sy eie party te werf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.