Msimanga sê oor jongste ‘kwalifikasie-skandaal’

solly-msimanga-04

Solly Msimanga, die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro. Argieffoto via Facebook

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, het Donderdag gereageer op die jongste bewerings dat ʼn senior beampte in sy administrasie aangestel is sonder dat hy oor die nodige kwalifikasies beskik.

The Citizen het Donderdag berig Stefan de Villiers (34), uitvoerende hoof in die private kantoor van die burgemeester, is in dié pos aangestel ondanks die feit dat hy net matriek en ʼn kwalifikasie as persoonlike fiksheidsinstrukteur het.

Die koerant verbind die “onthulling” van De Villiers se kwalifikasies met die skandaal rondom Marietha Aucamp, Tshwane se voormalige hoof van personeel wat bedank het nadat dit aan die lig gekom het sy het ʼn wanvoorstelling van haar kwalifikasies gemaak om dié pos los te slaan. The Citizen beweer verder De Villiers is in dié pos van R1 miljoen per jaar aangestel ten spyte daarvan dat hy nie voldoen aan die nodige kwalifikasies soos aangedui is toe die pos geadverteer is nie.

The Citizen beweer die pos het ʼn baccalaureus-graad of ekwivalente kwalifikasie vereis, asook 12 jaar ervaring waarvan vyf jaar op senior vlak moet wees. Volgens die nuusagentskap het De Villiers slegs matriek, ʼn sertifikaat in persoonlike fiksheidsafrigting en nege jaar werkservaring waar hy vir die DA gewerk het.

Msimanga het in ʼn verklaring op dié berig gereageer deur te sê De Villiers was ʼn politiese aanstelling. “Alle regeringsleiers het ondersteuningspersoneel nodig en stel sulke personeel aan wat vertrou kan word om ons beleide in die regering te vestig, ons boodskap te kommunikeer en sensitiewe inligting te hanteer,” het Msimanga gesê.

“Die inherente posvereistes van politieke personeel verskil geheel en al van beamptes wat in die munisipale administrasie werk. Dit sluit in mediawoordvoerders, navorsers, politieke adviseurs en geleentheidskoördineerders. Die onderskeid tussen politieke poste en operasionele poste word wyd en universeel in die Suid-Afrikaanse politiek erken.”

Die burgemeester het gesê De Villiers speel ʼn belangrike rol om te verseker dat hy [Msimanga] tyd in sy besige skedule het om steeds met die gemeenskappe van Tshwane te kommunikeer. Hy het beklemtoon dat De Villiers uitgebreide ervaring het om gemeenskapsgeleenthede en ander gesprekke te reël en Msimanga se dagboek só te bestuur dat alle gemeenskappe ewe veel toegang tot hul burgemeester het.

“Stefan is by verre die mees gekwalifiseerde persoon om hierdie verpligtinge te verrig. Ek vertrou hom om te weet wat die gemeenskappe se behoeftes is en alle ernstige en dringende sake vinnig onder die relevante persone se aandag te bring. Sy rol is om die regering nader aan die mense te bring.”

Msimanga het gesê onder die vorige administrasie is ʼn hele aantal amptenare aangestel deurdat daar afgesien is van die minimumkwalifikasies vir die poste. “Spesifieke bepalings in Tshwane se personeelbeleid maak voorsiening daarvoor dat daar afstand gedoen kan word van die minimumkwalifkasies.”

Msimanga het reeds in reaksie op die Aucamp-sage versoek dat ʼn oudit gedoen word na die indiensnemingproses en die diensvoorwaardes van al die bestuurders in Tshwane tot op die vlak van adjunkdirekteurs. “Die oudit is nie beperk tot politieke ampte nie.”

Msimanga het gesê dit is die stadsbestuurder se prerogatief om die voorwaardes in ʼn indiensnemingskontrak te onderhandel, waarvolgens ʼn kandidaat wat nie die kwalifikasies vir die pos het nie, maar andersins bekwaam is, sodanige kwalifikasies binne ʼn spesifieke tydperk kan bekom.

Die aanstellingspanele onderhandel volgens Msimanga nie kwytskeldings nie, maar die blote feit dat daar voorsiening gemaak word vir kwytskeldings impliseer dat kandidate wat nie noodwendig oor al die minimumvereistes beskik nie voor ʼn onderhoudspaneel kan verskyn en steeds geskik vir die pos kan wees.

Msimanga het gesê hy hoop die oudit klaar die verwarring op rondom hoeveel beamptes in Tshwane ʼn kwytskelding in plek het en of hulle aan die voorwaardes voldoen.

Die Stad sal ook ʼn ander verkrygingsproses oorweeg vir politieke ondersteuningspersoneel.

“Ek hou die hoogste etiese standaarde in die bestuur van my kantoor vol en ek sal aanhou om toegewyd te wees daaraan om deursigtig en verantwoordbaar te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

jankoos ·

Skande,net nog n rede hoekom ek nie weer DA sal stem nie ,kom ons probeer n VF+ koalisie en nie n DA koalisie nie.

LB S ·

Ag asb. VF+ koalisie met wie nogal. Hulle moet met DA en Cope koalisie vorm om iets reg te kry!

Vraagteken ·

So lyk vir my die dae waar mense aangestel was omdat hulle die werk kan doen is verby. Deesdae soek die samelewing net kwalifikasies en grade, en nie die persoon se kennis of vermoë nie.

TDW ·

Presies so Johan. Klink vir my ANC betaal groot geld aan media liaisons om DA swart te smeer. Dit vat die mense se gedagtes weg van die goeie(beter beste) werk wat die DA doen in hul munisipaliteite teenoor die vrot ANC. Politieke speletjies is vuil.

Hens ·

Wats die probleem. Ek myself is in n seniors bestuurspos. Het nie die kwalifikasies nie- maar wel die ondervinding. As die ou jy werk goed doen, hoekom nie?

JH ·

Ek het baie in my lewe gesien dat papiere nie die werk doen nie. Maar wel persone wat wil werk. Ek het baie ambagsmanne gesien met hope papiere, en rooi seël wat glad nie kan kers vashou by iemand met geen papiere behalwe senior serrifikaat. Maar baie ondervinding en selfdryf.

Koos ·

So, wat Solly sê is dat as die vorige administrasie kortpaaie gevat het kan hy ook maar?

Houtoog ·

Foto se onderskrif sluip die ‘burger’ van burgemeester weer in.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Houtoog
Dankie vir jou kommentaar! O, gits – jy is reg! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die onderskrif is gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

JM ·

Ek wonder hoeveel van die anc ministers en selfs dalk cr het die nodige kwalifikasies vir die pos wat hulle beklee.

CV ·

R1milj om wat te doen?? Die DA is maar presies net soos die ANC. Ongekwalifiseerde mense in hoë posisies wat masiewe salarisse kry. Dit terwyl Tshwane se strate net al hoe vuiler word. Daar is natuurlik nie geld vir mense om strate te vee nie. Belaglik.

Swanna ·

Grade en diplomas kan jy koop maar ondervinding nie. Dit is die nuwe SUID AFRIKA!!!!!!

Houopkla ·

Die ANC is tans besig met ‘n volskaalse se mediaveldtog om die DA in Tshwane te diskrediteer, alle pogings van die DA om dienslewering te verbeter word deur ANC personeel en gades “gekaap” deur “go-slows” en toegewyde personeel wat gedreig word as hul, hul werke verrig, meeste mense het nie ‘n idee waartoe die ANC instaat is nie , gaan ry gerus 12uur in die aand in die stad en sien hoe probeer toegewyde personeel die stad skoonmaak onder metro bewaking !!

Elsa ·

Dit lyk vir my as die ANC net op die uikkyk is om mense wat goed doen in hulle werk uit te kry op kwalifikasies. Maar wat is verkeerd as hy sy werk goed doen. Gun hom dan die kans
Gaan dit miskien op die kleur ????????

nico k ·

‘n Politieke aanstelling het nie ‘n kwalifikasie nodig nie, bloot iemand wat baie vir die party doen. Dit was nog al die jare so. Meeste Ministers van Finansies, ook in die ou SA, het geen finansiële kwalifikasie. So ek dink ook dit is net ‘n ANC smeerveldtog. Die persoon wat ‘n vals kwalifikasie gehad het, is afgedank.

theo ·

Jare terug was daar ‘n “city manager” Benny mahlangu anc kader, hy het n regstellends aksie persoon aangestel wat sy onderhoud gedruip het. Die ED mnr Erich was gedwing om hom aan te stel. Vandag sien jy die skade wat hy aanrig.

francois ·

Talle van die ANC kaders is aangestel as Direkteure en Adjunkdirekteure sonder enige kwalifikasies,wanneer gaan die ondersoek begin ???????

Karolis ·

Praktiese ondervinding is baie meer werd as teoretiese kennis. “Albert Einstein”

gaaap ·

ek wonder in hoeveel anc munisipaliteite is daar enigsi s n matriek sertifikaar! stuur die swartsmeerders maan toe en laat aukamp en de villiers werk

Deon Meyer ·

Jy moet baie fiks wees vir die pos mense.Sy rol is om “die regering nader aan die mense te bring” Sien, jy het sy kwalifikasies(Fiksheid instrukteur) nodig daarvoor.Verder moet jy nie vrae vra nie,maar “SPRING” as jy so beveel word.Jy mah net vrae “hoe hoog”?

Andre C ·

Uit kommentaar op hierdie berig is dit duidelik dat sekere lesers die ANC wil help om Mnr de Villiers uit sy pos te lig ,alhoewel hy sy werk doen en kan doen

jaco ·

Dit het maar in die ou SA ook gebeur, waar lede van die Broederbond lekker werkies in die staatsdiens, onderwys en toe nog Afrikaner-besighede soos SANLAM en Volkskas gekry het. Party van hulle se kwalifikasies en ondervinding was ook maar te wonderlik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.