Msimanga wil stadsbestuurder skors oor tenderskandaal

Tshwane-burgemeester Solly Msimanga (Foto: Jacques Naude/African News Agency/ANA)

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, het Dinsdag gesê hy sal die stadsraad versoek om die beleërde stadsbestuurder Moeketsi Mosola en ander senior amptenare van die munisipaliteit te skors, terwyl ʼn ondersoek oor beweerde tenderonreëlmatighede voortduur.

“Ek verwys die bewerings van tenderonreëlmatighede na die stadsraad, spesifiek om bewerings van ernstige wangedrag teen senior amptenare te ondersoek, kragtens die dissiplinêre reëls vir senior bestuurders in die Wet op Munisipale Stelstels,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Hy sal ook die stadsraad versoek om senior amptenare te skors wat van wangedrag beskuldig word. Volgens hom sal hulle die geleentheid gebied word om redes aan die stadsraad te verskaf waarom hulle nie geskors moet word nie.

“Bewerings oor die aanstelling van sekere diensverskaffers is die afgelope paar maande onder my aandag gebring. Toe die prentjie duideliker geword het van wat presies beweer word, het ek dadelik regsadvies bekom om riglyne te kry oor al die betrokke feite en om ʼn lys formele vrae saam te stel wat die stadsbestuurder moet beantwoord,” het Msimanga bygevoeg. “Dié vrae is gestel voor daar met formele dissiplinêre stappe teen die boekhouer en ander senior amptenare begin is.”

Msimanga het gesê hy het ʼn onafhanklike ondersoek van stapel gestuur om die feite te bepaal. “Stad Tshwane het onder my leierskap ʼn aantal multimiljard rand se kontrakte hersien. Dié kontrakte is aangegaan tydens die ANC se ampstermyn. My administrasie het ʼn zero-toleransie-benadering wat betref korrupsie en aktiewe stappe word gedoen om onreëlmatighede te voorkom. Dit is gebaseer op deursigtigheid en aanspreeklikheid en sal die rigting bied hoe ons op bewerings van onreëlmatighede moet reageer. Daarom glo ek ʼn onafhanklike ondersoek is noodsaaklik.”

Die ANC in Tshwane het vroeër vandeesmaand pres. Cyril Ramaphosa versoek om ʼn verklaring te onderteken waarvolgens die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ondersoek sal instel oor alle mega-ooreenkomste wat sedert 2016 deur die Tshwane-metro aangegaan is.

“Die stadsbestuurder Moeketsi Mosola moet dadelik geskors word hangende verdere ondersoek en die uitvoerende ‘Mr I don’t know, I was not there’ [Msimanga] moet met onmiddellike effek bedank,” het Kgoshi Maepa, streeksvoorsitter van die ANC in Tshwane, in daardie stadium gesê. Maepa voer aan die ANC is besig met ʼn strafregtelike saak teen Mosola vir sy rol in die multimiljoen rand se projekbestuurkontrak wat met ingenieurskonsultante GladAfrica aangegaan is om infrastruktuurprojekte te bestuur.

Mosola het onder skoot gekom ná ʼn berig in die Sunday Times wat beweer die Ariya Project Managers se GladAfrica-groep het voordeel getrek nadat hulle infrastruktuurprojekte ter waarde van R12 miljard ontvang het, sonder om die prosedures te volg. Volgens die berig het GladAfria boonop die afgelope ses maande ʼn verdere R250 miljoen in konsultasiefooie gekry van Tshwane se paaie- en vervoerafdeling.

Mosola het vroeër tydens ʼn perskonferensie aangevoer daar was nie enige onreëlmatighede in die omstrede kontrak nie. Hy hou vol hy is onskuldig in die toekenning van ʼn multimiljoenrand-kontrak vir projekbestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert de Jager ·

Ons is siek en sat om van nog “wurms” te lees wat in Tshwane uitkruip/uitgesnuffel word. Plaas daarvan dat minder “Red Tape” en gepaardgaande koste met bv eiendomsverdigting toegepas word, word miljoene/biljoene? met sg Konsultante vermors. Lyk my Tshwane is nog besig met hul “Leerlinglisensie” in die Bestuur van sekere aspekte van Munisipale bestuur. Naskrif:, Ek hoop hul oogtoets was aanvanklik geslaagd en is die op en af pyljies nie omgeruil nie!

realis ·

“Good luck”, Sollie.
Hoop jy gaan slaag daarmee.
Ten minste is jy ‘n man met integriteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.