Msimanga nuwe DA-leier in Gauteng

Solly Msimanaga, leier van die DA in Gauteng. (Foto: DA)

Solly Msimanga, voormalige burgemeester van Tshwane, is Saterdag tot die nuwe leier van die DA in Gauteng verkies.

Die verkiesing is aanlyn gehou.

Msimanga het in die pos waargeneem nadat John Moodey vroeër vanjaar uit die DA bedank het.

Msimanga het na sy verkiesing gesê hy wil ʼn leier vir almal in die party wees, nie net lede van ʼn sekere faksie nie.

“Dit is belangrik dat ons as ʼn party verenig omdat dit is wat ons lede en kiesers wil hê. Niemand wil ʼn verdeelde huis steun nie,” het hy gesê.

“Wanneer ander vra vir onwettige grondbesettings, moet ons grondhervormingsprogramme voorstaan. Wanneer ander ons volgens ras wil verdeel, moet ons ʼn nierassige Suid-Afrika voorstaan. Wanneer ander hul ten koste van die mense wil verryk, moet ons wandade in watter vorm ook al blootlê.”

Msimanga het gesê die party moet ook die voorstander van dienslewering in alle munisipaliteite in Gauteng wees.

“Ons gaan die uitstekende werk in Midvaal voortsit, ons gaan die skade wat deur [LUR vir samewerkende regering Lebogang] Maile en sy administrasie gedoen is omkeer; ons moet ʼn oog hou op Johannesburg, sy sukkelende koalisie en gebrek aan dienslewering en verseker dat die mense van Ekurhuleni, Emfuleni, Lesedi, Mogale, Merafong, Rand West, die Wes-Rand en Sedibeng mense het wat die uitvoerende gesag aanspreeklik gaan hou.”

In die Vrystaat is dr. Roy Jankielsohn as nuwe leier van die party in die provinsie aangewys.

Hy neem oor by Patricia Kopane wat jare lank aan stuur van die party in die Vrystaat was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Onnie ·

Regtig?! Ek kan nie by hou nie. Het hy nie onlangs afgestig met n nuwe party nie??! Waar val hy nou weer uit by die DA. Ek vertrou nie meer die DA nie, lyk vir my hulle is almal n klomp draadsitters.

Landras ·

Dink jy nie dalk aan Musi Maimane nie ? Solly was in die Stadsraad van Tshwane .

Neelsie ·

Jy verwar hom met Herman Mashaba, gewese burgemeester van Johannesburg wat Action SA gestig het.

Onnie ·

Jys reg Neelsie. Ek vra omverskoning. Mens kan die twee maklik met mekaar verwar. Tog is die DA nie meer my 1ste keuse by die stembus nie. Sad, but true

annie ·

Die DA hou van Lazy Boy-bestuur van voor die knus kaggel in die lekker Kaap en die binneland moet maar self die vuurtjie daar ver, sonder die berg, aan die gang hou. Dankie tog vir skyping. Die party glo die arme wit sukkelaars sal maar bly hout aandra vir die sweet sweet faces van hul leiers. Droom voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.