MT Steyn-beeld moet ‘aktueel, onbedek’ wees

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Evert Kleynhans (RooistoelTV) via UV Facebook

Die Vrystaatse erfenisowerheid het beslis die standbeeld van pres. MT Steyn voor die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat (UV) moet sigbaar, onbedek en toeganklik wees.

Die UV se spesiale taakspan oor die kwessie het die erfenisowerheid genader om ʼn permit te verkry om die standbeeld te bedek totdat daar oor sy toekoms besluit is. Die taakspan het verdere opsies voorgestel soos dat dit omhein word en dat daar uitruil van inligting oor die beeld moet wees.

Die erfenisowerheid se permitkomitee het besluit die beeld moet sigbaar wees terwyl daar ʼn uitruil van inligting is in die vorm van inligtingsborde oor Steyn wat op die kampus opgerig moet word.

Die universiteit se taakspan het die besluit van die permitkomitee verwelkom en gesê daar word nou gewerk om die terugvoer van die erfenisowerheid te verfyn en uitvoering daaraan te gee.

Die universiteit het intussen ʼn erfeniskonsultant aangestel om ʼn erfenis-impakstudie te doen. Sodra die verslag voltooi is sal dit openbaar gemaak word en mense sal 30 dae geleentheid kry om daarop kommentaar te lewer. ʼn Finale verslag sal dan ingedien word sodra die terugvoer ontvang is.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het intussen die besluit verwelkom. Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê dit is beslis ’n stap in die regte rigting.

“Altesaam 74 geskrewe en mondelinge voorleggings is ontvang waarin mense aangedui het of hulle ten gunste van die bedekking is of nie. Om die standbeeld te omhein en om dit aktueel te maak deur inligtingsborde daaroor op kampus aan te bring, is deur die universiteitsgemeenskap voorgestel.”

Sommige UV-studente eis al ’n geruime tyd dat die MT Steyn-standbeeld verwyder moet word aangesien dit volgens hulle aan kolonialisme verbind word. Die voorgestelde plan om die standbeeld te verwyder is deel van die UV-studenteraad se transformasiebeleid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

lizl ·

Wonderlik ! Die studente moet dalk President Steyn se geskiedenis gaan leer.

Dolla ·

Om n standbeeld te verwyder, name te verander van stede en strate gaan beslis nie geskiedenis verander nie. Daar moet eerder aandag gegee word aan die dinge wat werklik aandag kort.

PJC ·

Ek dink die standbeeld moet sommer nou al verwyder word voordat dit beskadig word. Hierdie “studente” sal nie rus voordat dit verwyder word nie daarvoor is hul haat teenoor die blanke Afrikaner te groot.

Stem saam ·

Stem saam PJC, daar is net een verwronge breindood nodig om groot skade te veroorsaak.

Janneman ·

N mens wil so graag positief wees oor die instansies wat ons oor baie jare met baie werk, disipline en deursettinsgvermoe opgebou het maar ek is bevrees die skrif is aan die muur.

Ons kultuur, taal en uitmuntende standaarde is die padda in die pot. Aan die einde van die dag gaan politieke korrektheid, die tirannie en haat van die meerderheid, en die vasberandenheid van die gepeupel ons onderkry.

Die meningsvormers, alumni, en ondersteuners van ons vorige instellings moet ernstig besin en n kopskeuif maak, weg van hierdie gekaapte instellings.

Ons sal n nuwe Groot Trek moet maak…..ons skuld dit aan ons taal en ons nageslag!

Oom Kalahari ·

@PJC, stem heelhartig saam met jou skrywe. In belang van transformasie wil die meerderheids Studente nie M.T. Steyn se beeld op UV gronde laat vertoon nie en soos aangedui hul ken nie die geskiedenis oor hom nie en stel ook nie belang nie. Voor dit enige skade aangerig word, neem dit weg vir veilige bewaring.

Akademi Buktu ·

Die standbeeld word volgens sommige UV studente aan kolonialisme verbind. Hoe dan nou met die aandrang op die koloniale taal se gebruik. Wys jou net hoe Afrika se rasionaliteit werk.

??? ·

Die beeld herinner hulle te veel aan kolonialisme??? Terwyl hulle koloniale toerusting, klere, kos, huisvesting ens. ens. ens. (ad nauseam) gebruik in hulle daaglikse oorlewing???

Christo ·

As daar nou twee woorde is wat my ‘n pyn gee is dit: ‘bemagtiging’ en ‘transformasie’

Elsie ·

Hoe word bepaal dat die meerderheid Suid-Afrikaners die Afrikaners haat? Mens moenie sommer gevolgtrekkings maak nie. Is dit nie groepe jonges op kampusse wat haat aanblaas om aandag te trek wat hulle nie deur akademiese prestasie kan kry nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.