MT Steyn-standbeeld binnekort van kampus verwyder

Die standbeeld van oudpres. Marthinus Theunis Steyn op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se hoofkampus. (Foto: Verskaf)

Die provinsiale LUR van sport, kuns en kultuur het aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) bevestig dat die verskuiwing van president MT Steyn se standbeeld op kampus haar departement se goedkeuring wegdra.

Die standbeeld van oudpres. Marthinus Theunis Steyn op die universiteit se hoofkampus sal nou binnekort na die oorlogsmuseum geskuif word.

Die UV het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die universiteit is ook in kennis gestel dat die Vrystaatse Provinsiale Erfenishulpbronagentskap (VPEHA) ’n permit sal uitreik om die standbeeld uitmekaar te haal en tydelik te stoor voordat dit na die oorlogmuseum geskuif kan word.

Maroela Media het vroeër berig die UVS het in November 2018 aangekondig dat die universiteit se raad die hervestiging van die MT Steyn-standbeeld goedgekeur het.

AfriForum en verskeie ander bewaringsinstellings, onder meer die Bloemfonteinse Kultuurvereniging; die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys in Bloemfontein en die Gereformeerde Geloofsbond, het egter beswaar aangeteken omdat hulle voel die standbeeld moet op die Kovsie-kampus bly.

Die VPEHA se appèlkomitee het toe in Augustus 2019 beslis dat die standbeeld by die UV sal bly. Prof. Francis Petersen, rektor en visekanselier van die UV, het egter ʼn spesiale taakspan opdrag gegee om ’n dringende versoek by die LUR in te dien om ’n tribunaal aan te stel om die universiteit se appèl te verwys.

“Die universiteit se raad waardeer die LUR se goedkeuring en is tevrede met die bevindinge van die tribunaalkomitee, wat die verskuiwing van die standbeeld steun,” lui die verklaring.

Luidens die verklaring sal die nodige reëlings vir die hervestiging van die standbeeld solank getref word terwyl die universiteit op die VPEHA se permit wag. “Die wense van president Steyn se familie sal tydens die hervestigingsproses geakkommodeer word volgens die bevindinge van die tribunaalkomitee,” het die universiteit verseker.

Petersen het aangedui dat die verskuiwing van die standbeeld na ʼn ander plek die beste is vir die universiteit se visie vir die toekoms. “Dit sluit in om te verseker dat die UV ʼn plek is waar almal welkom voel, waar diversiteit aangemoedig en gevier word en waar konsepte soos dekolonisering op ʼn akademiese en realistiese wyse aangepak word. Integrasie moet ook op ʼn holistiese wyse bewerkstellig word.”

Steyn was van 1896 tot 1902 die president van die voorheen onafhanklike Oranje-Vrystaat. Verskeie geboue en strate reg oor die Rosestad is na Steyn vernoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frederick Johannes

Watter deel van die geskiedkundige aandenkings maak dat iemand ongemaklik voel? Geskiedenis is geskiedenis! Mens kan nie feite verander omdat jy voel die erflatings is van ñ verkeerde kleur nie! Dit is om dieselfde rede dat ons geskiedenis herskryf moet word. As Kain vir Abel doodgeslaan het, dan is dit so. Geen verskuiwing van standbeelde gaan feite verander nie. Kry dit tog net in die mense se klipkoppe!

marius

Alle Afrikaner standbeelde sal as instrument gebruik word om rasse herries te veroorsaak. Die oorlog museum is die laaste plek waar dit moet staan . Verwyder dit alles self en as dit nie oorsee geberg kan word nie , smelt dit , verkoop dit en gee die geld vir die regte weeshuis .

Hoekom

Hy was ‘n beter president as enige president uit die ANC geledere. Hulle voel minderwaardig deur sy erfenis. Skuif hom maar, hy sou in elk geval nie erens wou staan waar die ANC staan nie…

Jaco

in 1961 is wat vandag bekend is as die Brixton Toring in Aucklandpark Johannesburg voltooi. Die toring is dadelik die naam Hertzog Toring gegee, ter ere van daardie jare se Minister van Pos- en Telekommunikasie, dr. Albert Hertzog. In 1968-69 het dr Hertzog stry gekry met die regerende Nasionale Party en het hy die Herstigte Nasionale Party (HNP) gestig. En amper dadelik daarna is die Herzog Toring se naam na Brixton Toring verander. Dit het alles in die ou SA, onder die regering van die Nasionale Party gebeur. So sulke goed het “toe”ook maar gebeur; nie net “nou”nie. “hulle” wat… Lees meer »

Anel

Hulle sou aan gehou het tot dat die stanbeeld verwyder is, soos wat hulle gedoen het. Wat ek nie kan verstaan nie is dat as daar iets by ‘n plek wat jy nie van hou nie nie, hoekom soontoe gaan? Niemand hou’ ‘n geweer teen jou kop en dwing jou nie. Maar die lot moet alles verander of ONS nou daarvan hou of nie. Ons gaan nie na hulle plekke en dwing hulle om te verander nie, so los ons geskiedenis en ons goed uit. Dit is seker omdat hulle niks van waarde van hulle geskiedenis het nie. Kan mos… Lees meer »