MT Steyn-standbeeld kry finale rusplek

Die MT Steyn-standbeeld by die Oorlogmuseum. Foto: Verskaf)

Die standbeeld van oudpres. Marthinus Theunis Steyn is vandeesweek by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein in die Vrystaat opgerig, nadat dit ná ’n herrie van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se hoofkampus verwyder is.

Johan van Zyl, hoofhistorikus by die museum, het aan Maroela Media gesê die MT Steyn-standbeeld is Woensdag voor die museum se hoofgebou ten aanskoue van Steyn se nageslag opgerig.

Die beeld is sowat 200 meter van Steyn en sy vrou, Tibbie, se grafte aan die voet van die suil van die Nasionale Vrouemonument hervestig.

Die MT Steyn-standbeeld weeg na raming sowat twee en ’n half ton en is die eerste beeld van ’n persoon om by die museum opgerig te word.

Maroela Media het vroeër berig die standbeeld is in Junie van die UV se hoofkampus verwyder nadat die universiteit in November 2018 aangekondig het dat die universiteit se raad die hervestiging van die MT Steyn-standbeeld goedgekeur het.

Volgens Van Zyl is die afgelope drie weke aan die beeld se voetstuk gebou. Die beeld is eindelik Woensdag laat kom van waar dit sedert einde Junie gestoor is.

“Die museum het bepaal dat die beeld op ’n waardige wyse hanteer sou word en nie net hier sou lê totdat die voetstuk gebou is nie. Die beeld is by die universiteit gehuisves voordat dit op ’n waardige manier by die museum opgerig kon word.”

Volgens Van Zyl is die beeld van MT Steyn ’n groot aanwins vir die museum. “Die beeld smelt in by die landskap van museum.”

AfriForum en verskeie ander bewaringsinstellings, onder meer die Bloemfonteinse Kultuurvereniging, die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys in Bloemfontein en die Gereformeerde Geloofsbond, het destyds beswaar aangeteken teen die verwydering van die standbeeld by die universiteit en geglo dat die standbeeld op die Kovsie-kampus moes bly.

Steyn was van 1896 tot 1902 die president van die voorheen onafhanklike Oranje-Vrystaat. Verskeie geboue en strate oor die hele Rosestad is na hom vernoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Wag vir die dag wanneer hulle gaan eis dat genoemde museum moet sluit

Spook

Dis ‘n aanwins vir die Vrouemonument en ‘n verlies vir die Royal Imperial British University of the Orange River Colony (RIBU-ORC).
Nou is die plek heeltemal Engels. En in plaas van Kovsies, kan die studente hulself nou Riborcs noem.