MT Steyn-standbeeld se toekoms steeds in gedrang

Die Marthinus Theunis Steyn-standbeeld op die Universiteit van die Vrystaat se hoofkampus. (Foto: UVS)

Die Universiteit van die Vrystaat (UVS) het Donderdag aangekondig dat hulle verskeie openbare verhore sal hou om sodoende die lot van die Marthinus Theunis Steyn-standbeeld op dié universiteit se hoofkampus te bepaal.

Volgens Lacea Loader, woordvoerder van die UVS, sal gesprekke en voorleggings oor die moontlike verwydering van dié standbeeld volgende week op al drie UVS-kampusse afskop.

Dit volg nadat #FeesmustFall-studente in 2016 ten gunste van die onttroning van apartheidsera-leiers betoog het. Dié studentegroep glo dat die Vrystaatse universiteit “ontkolonaliseer” moet word en dring gevolglik daarop aan dat die standbeeld van MT Steyn summier verwyder word.

Steyn was gedurende 1896 en 1902 die president van die voorheen onafhanklike Vrystaat.

Die universiteit moes in 2016 noodgedwonge veiligheidswagte aanstel om dié beeld te beskerm nadat dit deur studente met verf bestook is. Nog ʼn standbeeld, dié van Charles Robberts Swart op dieselfde kampus, het ook gedurende die #Feesmustfall-beweging deurgeloop. Opstandige studente kon daarin slaag om dié beeld af te breek. Swart was gedurende 1961 en 1967 president van die Republiek van Suid-Afrika.

Loader vertel dat die beplande verhore die geleentheid sal bied vir lede van die universiteitsgemeenskap asook die publiek om mondelinge voorleggings oor die posisie van die MT Steyn-standbeeld op kampus te maak.

“Die verhore sal spesifiek fokus op die verwydering, hervestiging, herinterpretasie en behoud van die beeld en maak deel uit van die Heritage Impact Assessment (HIA) wat deur die Vrystaatse Provinsiale Erfenishulpbronne-owerheid (FSPHRA) vereis word,” het Loader gesê.

Verskeie geboue en strate reg oor die Rosestad is na Steyn en Swart vernoem. Die voormalige CR Swart-gebou, die Vrystaatse regering se provinsiale hoofkantoor, is in 2015 ter ere aan die ontslape Kubaanse leier, Fidelo Castro, hernoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Celtis Africana ·

Stuur dit na die familieplaas buite Bloemfontein. Dit is in elk geval n goed versorgde museum.

Stuiwer ·

Hopelik sal die museum waarvan jy praat, goed versorg bly…..(vir nou)…..

GM ·

As hulle so ‘n probleem het met standbeelde, hoekom bou hulle nie hul eie universiteite nie, en gaan plak hul eie standbeelde daar nie? Ek glo die meeste van hulle wat so betoog daaroor, het nie eers die moeite gedoen om self te gaan kyk wie die ouens was nie. Hoe pynvol is dit nou om na ‘n beeld te kyk van iemand wat jy nie eers geken het nie? Ons kyk elke dag in Mandela se gesig vas as ons ‘n nootjie iewers uithaal, en sy verlede is nie so vlekkeloos nie.

De Villiers ·

Die antwoord is eenvoudig: mense met sulke sienings het dubbele standaarde en is totaal oningelig oor die verlede. Indien hulle MT Steyn se standbeeld wil verwyder, kwansuis omdat hy ‘n apartheidsfiguur was, waarom het hulle dan nie ‘n probleem om op universiteit te studeer wat deur die inisiatief van blankes daargestel is nie?

Stuiwer ·

Wat maak die #feesmustfall studente so belangrik? As alles wat koloniaal is van daardie universieit se kampus verwyder moet word, stel ek voor hulle sloop sommer ook die gebou, want dit is tog sekerlik ook in die apartheidsjare opgerig…..

Mollie ·

Nie EEN van die huidige studente het Apartheid ervaar nie!!! Dit is deel van ons land se geskiedenis en hul is veronderstel om vortentoe te BOU en nie af te breek nie. Dit is regtig nou tyd dat hierdie mense ophou om oor die verlede te sit en huil en werk aan ‘n toekoms vir ons land. Soos dinge nou gaan lyk alles maar vir my donker…..

PJC ·

Die familieplaas gaan ook mettertyd onteien word sonder vergoeding en museums is party in ń haglike toestand so vat liewer alle standbeelde na Orania.

toy ·

Gee stambeeld vir die familie hulle gaan dit meer waardeer en dan moet daar geen stambeeld weer opgerig word. Dit is belaglik hoe dit gaan in die land.

Piet Pille ·

Kan ook Orania toe gestuur word waar dit werklik ‘n gewaardeerde ereplek sal vind

Hans ·

Was altyd onder die indruk dat universiteite se kern besigheid hoĕr onderwys is en dat demokratiese denke deel is daarvan. Lyk my universiteite is nou plekke waar politieke korrektheid tot n “kuns” ontwikkel word.

Onthou ·

Ons hét gesê ‘Ons sal Lewe Ons sal Sterwe net vir jou Suid Afrika’. Ons moet seker daad by woord voeg?

Callie ·

Jou kultuur en opvoeding van verbrand en vernietig het jou in n posisie waar niemand respek vir jou het nie. Nou soek jy respek by jou tipe met iets soos n standbeeld wat nooit iets aan jou toekoms gaan verander nie. Fout, jou dwase vriende wat ook vernietig dink jy is “cool”

Alida ·

Ons familie se harte is baie seer oor die C.R Swart standbeeld, hy is my ouma se pa. Ons familie geskiedenis… Dis nie reg nie!

Cobra ·

Nou vat tog die ou beeltjie huis toe waar hy hoort. Ek het tog geen gevoel vir die sg leiers nie. Kyk nou net waarmee ons leiers besig was op bird island.

John ·

Die verhore na-aap die grondonteiening-sirkusse. Daar is reeds besluit en nou wil die bestuur net die gemoedere opsweep vir ‘n show-down. Geen beeld op aarde is sy plek seker nie… nie eens die een wat hulle in die plek van Steyn gaan plak nie. Die jongste mode is in elke geval om eerder diegene wat afgebreek en vertrap het, te vereer… Steyn pas nie in, in die’ afwentelings-generasie nie. As hy self kon kies sou hy vandag self afgeklim het…om die spulletjie op die kampus te moet aanskou… Mens wil nie eens ‘n standbeeld so’ straf nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.