Suid-Afrika sit in ʼn wesenlike finansiële krisis en hoewel die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) ʼn belangrike geleentheid is om te herprioritiseer om aandag te gee aan huidige krisisse, sal dit niks doen aan die ware probleem van beleidsonsekerheid wat die maaksel van die ANC-regering is nie.
Só sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor finansies, rakende Tito Mboweni, minister van finansies, se MTBR wat Woensdag gelewer word.
“Van die probleme wat dadelik aandag sal moet kry, is die knellende droogte en toenemende waterskaarste in die land waar geld nodig is vir infrastruktuur soos damme en reservoirs. Geld is ook nodig vir hulp aan landbouers in droogte-rampgebiede.”
Volgens Wessels is openbare ondernemings se groot en onnodige las op die fiskus nog ʼn rede tot kommer. “Dié ondernemings is tans net swart gate waarin belastinggeld sonder enige sigbare voordeel of verbetering verdwyn.
“Die omkeerplan wat minister Pravin Gordhan vandag vir Eskom aangekondig het, sal geen onmiddellik effek op die huidige krisis hê nie. Die uitstaande skuld aan Eskom sal nie oornag betaal kan word nie aangesien munisipaliteite bankrot is.”
Daar is geen ander oplossing as om Eskom te privatiseer en te dereguleer om sodoende toe te sien dat markkragte kan meewerk tot gesonde kompetisie en kragvoorsiening nie, meen Wessels.
“Die ministers van openbare ondernemings én finansies word as gyselaars aangehou deur hul party se ideologie, alliansievennote en vakbonde wat weier om in te stem tot ongewilde besluite wat geneem moet word om herstel te bewerkstellig.”
Hierdie besluite behels onder meer die staat se salarisrekening, die aflegging van oorbodige personeel en ʼn moratorium op salarisverhogings asook privatisering en deregulering.
Wessels gaan verder en sê die mag van die vakbonde oor die regering en die uitwerking daarvan op die ekonomie hou die hele Suid-Afrika gevange. “Daar is ʼn werklike rigtingverandering nodig om aan hierdie doodloopstraat te ontsnap en die begrotingsraamwerk is die geleentheid om hierdie koersverandering teweeg te bring.”
Dit is duidelik dat Mboweni min beweegruimte het om die begroting te laat balanseer, sê Wessels en voeg by dat dit duidelik raak dat daar ʼn stewige tekort aan belasting-inkomste gaan wees.
“Groot ondernemings het bloot nie genoeg vertroue in Suid-Afrika om te belê om sodoende die belastingbasis te verbreed nie. Hierdie gebrek aan vertroue kan net deur beleidsekerheid herstel word en die ANC is duidelik nie in staat om dit te bewerkstellig nie.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
23 Kommentare
So die reenboog eindig by die rioolplaas.
Die swak bestuurde openbare ondernemings is n groter geldput as wat die vorige onafhanklike tuislande was.
Plesier tier
Nou praat hulle van hoe hulle uitvoere wil verhoog vir hoèr inkomste maar op Carte Blanche gesien hoe vrag houers nie gelaai kan word stukkende hyskrane ens.sien vanmòre Vragmotors met vraghouers staan al van gister af van die hawe tot in Durban sakegebied agv. onvermoè om houers af te laai Nou hoe nou? Pateties
Soek antwooede by die ANC. Die verlede is agter ons.