Mthatha-lughawe: SA Express-vlugte gekanselleer

SA Express (Foto: SA Express/Facebook)

SA Express het Vrydag aangekondig dat hy alle vlugte met onmiddellike effek na Mthatha kanselleer, omdat die lughawe afgegradeer is.

Die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) het die lughawe vanaf Vrydag afgegradeer ná ʼn negatiewe oudit teen die lughawe.

Madikwe Mabotha, woordvoerder van SA Express, het gesê die lugredery stel sy passasiers in kennis dat hy vlugte tussen Johannesburg en Mthatha kanselleer weens die afgradering. “Ons werk saam met die Oos-Kaapse regering om ʼn vinnige oplossing te vind sodat bedrywighede by die lughawe kan hervat. Ons vra om verskoning vir ons passasiers en klante vir enige ongerief wat hierdeur geraak word. Dit is omstandighede buite ons beheer.”

Die lugredery het gesê die betrokke klante word versoek om SA Express te kontak by 011 978 2355. “Alle passasiers tydens die periode sal ten volle terugbetaal word.”

Airlink moes ook sy vlugte kanselleer en honderde passasiers is gestrand gelaat.

Marshall von Buchenroder, die DA se skaduminister van vervoer, het intussen gesê die krisis kon maklik voorkom word. “Die skuld kan gepak word op die skouers van ʼn mislukte ANC-regering en is ʼn direkte gevolg van ʼn traagheid om die probleme te takel wat veroorsaak is deur hul eie versuim om op te tree.”

Die BLO het alle kommersiële vlugte verhoed om by die lughawe op te styg of te land, een maand ná die departement van vervoer in kennis gestel is oor tekortkomings wat die BLO geïdentifiseer het.

“Die feit dat beamptes by die Mthatha-lughawe die LUR vir vervoer Weziwe Tikana en hoof van die departement van vervoer Irene Mpolweni, reeds in September gekontak het oor bedryfskwessies en ander nie-nakomingskwessies, en dat niks daaromtrent gedoen is nie, is ʼn duidelike teken van die gebrek aan leierskap binne die departement.

Von Buchenroder het aangedui hy sal LUR Tikana skriftelik versoek om redes te verskaf waarom daar nie opgetree is toe die lughawebeamptes en die BLO die tekortkomings uitgewys het nie. “Ek sal ook ʼn gedetailleerde plan van aksie, insluitend tydsraamwerke, versoek vir ʼn omkeerstrategie om seker te maak die lughawe word weer oopgemaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos de Meyer. ·

En so gaan alles ten gronde. 25 jaar en ons land in die afgrond. Wat ‘n skande.

Karel ·

Ek het ‘n idee die regering moet vir elke gesin valskerms na behoefte uitdeel, dis nie vir dié wat vlieg nie, maar vir dié wat oor die afgrond gaan beland.

Callie van der Merwe ·

En die lughawe is onlangs opgegradeer vir oud Pres Mandela se moontlike afsterwe. Dit is hoe dit gaan!!!

koos ·

Opgegradeer is nie die woord nie. Dit was gesluit om oor gebou te word in 2001, en ons is vertel dat groot vliegtuie DC9, 727 ens. daar sou kon land, opstyg en oornag. Of daar is gelieg of iemand het weer geld geskep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.