Mthembu daag ANN7 voor Uitsaaiklagtekommissie

Jackson Mthembu. Foto: polity.org

Die hoofsweep van die ANC, Jackson Mthembu, het Woensdag ʼn klag by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (BCCSA) ingedien teen die African News Network 7 (ANN7) oor “lasterlike uitlatings op hul televisie- en YouTube-kanale”.

Mthembu het gesê die klag hou verband met ʼn uitsending op Maandag 27 November en Dinsdag 28 November. ANN7 se uitsendings is beskikbaar op DStv kanaal 405.

Hy voer aan ANN7 het met sommige lede van die parlement saamgespan om lasterlike kommentaar teen hom uit te saai.

Luidens die skriftelike klag het ANN7 deurgaans op die twee betrokke dae tydens hul uitsending glo gesê: “Die hoofsweep van die regerende party, mnr. Jackson Mthembu, het besluit om hom by die rassistiese Demokratiese Alliansie te skaar tydens ʼn partydige parlementêre debat oor staatskaping. Hierdie samewerking met die DA is ongekend en wys dat ʼn pro- wit monopoliekapitaal-faksie binne die ANC se parlementêre koukus die lig gesien het.”

ʼn Skakel na die “perskonferensie” is ook op ANN7 se YouTube-kanaal gepubliseer, maar die video is intussen verwyder.

“ANN7 het herhaaldelik hierdie inligting oor die twee betrokke dae uitgesaai en lasterlike kommentaar gelewer sonder om die ANC se hoofsweep die geleentheid te bied om op die bewerings te reageer,” lui die klag. “Hulle het in hierdie geval versuim om regverdig, onpartydig en objektief op te tree.”

Mthembu het gesê sy kantoor het ook inligting dat die sogenaamde perskonferensie, wat op 27 November gehou is en regstreeks deur ANN7 uitgesaai is, toneelspel blyk te wees. “ANN7 was vreemd genoeg die enigste media teenwoordig by dié perskonferensie. Ons het ook inligting dat diegene wat die perskonferensie gehou het, direk met iemand by ANN7 gekommunikeer het oor dit wat in hul uitsending moet wees.”

Mthembu het aan die BCCSA gesê die gedrag van ANN7 is ʼn oortreding van die gedragskode van die kommissie. “Ons versoek die Uitsaaiklagtekommissie om ʼn uitspraak te lewer in hierdie geval. Ons kan verdere inligting verskaf indien nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

ANN7 is die Guptas se TV-kanaal en die Guptas is pelle met die ANC. Maar Mthembu v.d. ANC verkla die Guptas se TV-kanaal. Iets maak nie sin nie.

Awie Opperman ·

Ek dink Mthembu is deel van ‘n ander faksie van die ANC of dalk was sy bruin koevert bietjie dun hierdie maand. Die ANC is omtrent netso verdeeld soos die ver-regse groeperings in Suid-Afrika. Ek maak solank “popcorn”, hierdie kan interessant raak….

Veritas ·

Dinge is verkeerd wanneer bedmaats mekaar begin aanvat. Daar is beslis ‘n goeie kans dat die ANC gaan skeur. Ek voorsien een groterige faksie ( die trogdrinkers onder Zuma), ‘n kleiner groep ( diegene wat verhinder word om saam uit die trog te drink saam met Mthembu ) en dan die laaste klein groepie wat waarlik die welstand van die ANC op die hart dra, onder Gordhan. Dit sal natuurlik die beste ding wees wat ooit met SA kan gebeur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.