Mthethwa kan nie tel nie – AfriForum

Nathi Mthethwa

Nathi Mthethwa

Die burgerregtegroep AfriForum het in reaksie op die minister van polisie, Nathi Mthethwa, se opmerkings dat Suid-Afrika die stryd teen misdaad wen, gesê dat die minister die waarheid verdraai vir verkiesingspublisiteit. Mthethwa het spesifiek verwys na die 2012/2013-statistiek, wat inderwaarheid ʼn klad op die Suid-Afrikaanse Polisiediens se naam is, omdat dit verkeerd bereken is.

“Die regering jok blatant vir landsburgers deur te sê moord neem drasties af, want Suid-Afrika het steeds een van die hoogste moordsyfers ter wêreld en moord het in die afgelope jaar gestyg, nie gedaal nie,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Volgens Cameron is poging tot moord ook met sowat 8,7% op. Daar is ook sowat 650 meer moorde in die land gepleeg as gedurende 2011/2012.

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) se statistiek dui daarop dat die moordsyfer in die Oos-Kaap in 2012/2013 op 50,8 per 100 000 mense staan. Dit is die hoogste moordsyfer in die land.

Die ANC het volgens AfriForum ook die afgelope week bendegeweld en die hoë moordsyfer in die Wes-Kaap (43,7 per 100 000 mense) aan die Wes-Kaapse regering toegeskryf. Intussen word die SAPD in wese bestuur deur die nasionale regering.

Volgens statistiek van die Verbruikersgoedere-risiko-inisiatief (Consumer Goods Risk Initiative (CGRI) het algemene handelaars en juweliers in Suid-Afrika in 2012/2013 sowat R38,713,795 in gewapende rooftogte verloor. Dit is ʼn 88% styging van die vorige jaar se R20,545,924. Insidente het in dieselfde tyd met 60% toegeneem.

“Die ANC gebruik manipulasie om stemme te probeer werf. Die feit is dat geweldsmisdaad in die land weer begin styg, die statistieke van ʼn onafhanklike organisasies soos die ISS en CGRI wys dit baie duidelik,” het Cameron gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alani ·

Nee wat, ek het nie een oomblik getwyfel oor die syfers nie – natuurlik het dit toegeneem – ek meen, ons lees daagliks van tussen 2 – 3 moorde, en nie elkeen word oor berig nie, dus, die syfers is hoër as wat Mthethwa kan tel.

Demokraat ·

Dis skokkend en verontrustend om kennis te neem tot watter mate ministers en ander hooggeplaastes in die ANC-regering, blatant lieg net om gewildheid te verwerf.

Wanneer mens verder ‘n regering aan die Bybelse uitspraak meet naamlik dat enige regering van God is, wonder mens onwillekeurig tot wat mate moet mens nog aan so ‘n regering onderdanig en gehoorsaam wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.