Mthethwa-moordsaak: Hof hoor oor vermoorde sekswerker se wonde

Argieffoto

Argieffoto

Die verdediging in die saak van die internasionaal gerekende kunstenaar, Zwelethu Mthethwa, wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn sekswerker geslaan en doodgeskop het, het Maandag sy saak in die Wes-Kaapse hooggeregshof afgesluit.

Mthethwa word daarvan beskuldig dat hy Nokuphila Kumalo (23) in April 2013 in Woodstock vermoor het. Dr. Linda Liebenberg, ʼn senior forensiese patoloog, het gedurende die verhoor getuig dat Kumalo gesterf het weens trauma aan die rompgedeelte van haar lyf. Dit is veroorsaak deur ʼn stomp voorwerp of trefkrag.

Die staat se saak was grootliks gegrond op beeldmateriaal van veiligheidskameras wat na bewering toon hoe Mthethwa met sy Porsche in Ravenscraigweg in Woodstock in die vroeë oggendure van 14 April 2013 stilhou. Die aanval kan op die beeldmateriaal gesien word, maar weens die swak gehalte daarvan het adv. William Booth vir die verdediging die betroubaarheid en egtheid van die beeldmateriaal bevraagteken.

Die verdediging het Maandag Petronella van der Westhuizen na die getuiebank geroep. Van der Westhuizen het 21 jaar lank as misdaadtoneelondersoeker in die polisie gewerk.

Van der Westhuizen het aan die hof gesê die aanvaller sou waarskynlik fisieke bewyse van die aanval aan sy hande, skoene of klere gehad het ná die fisieke kontak met die oorledene en dit sou na sy voertuig oorgedra gewees het. “Die foto’s van die slagoffer op die toneel wys wonde waar die vel stukkend is en wat lyk soos bloed op haar vel, asook op die teeroppervlak om die liggaam. Bloed is ʼn hoofbron van DNS.”

Sy het gesê op die beeldmateriaal kan gesien word hoe die bestuurder aan die voertuig raak wanneer hy in die bestuursitplek klim en wegry. Dit sou “die fisieke bewyse na die voertuig oorgedra het”. Geen DNS-bewyse van die slagoffer is egter in Mthethwa se motor gevind nie.

Mthethwa se motor is 22 of 23 dae ná die voorval ondersoek. Volgens Van der Westhuizen se verslag kan dit ʼn negatiewe invloed hê op die fisieke bewyse omdat dit dermate kon afgebreek het dat dit nie langer bruikbaar was nie. Sy het aan die hof gesê hitte, sonlig, humiditeit, bakterieë en chemikalieë dra alles by tot die afbreek van biologiese bewyse.

Sy het gesê dit is waarskynlik dat fisieke bewyse wel vanaf die misdaadtoneel na die voertuig oorgedra is, maar dat “die bewyse moontlik so afgebreek het dat geen DNS-profiel daaruit saamgestel kon word nie”.

Sy het verder getuig dat die bloed rondom die slagoffer se nek en borsgedeelte op die foto’s na die beskuldigde oorgedra sou word. Adv. Christenus van der Vijver, senior staatsaanklaer, het egter beklemtoon dat die “bloed” op die foto’s nie bloed is nie maar kneusings.

Hy het ook aan die hof uitgewys dat ʼn onbekende vrou Kumalo se liggaam op die sypaadjie gesleep het nadat die aanvaller weggery het. “Die liggaamsvloeistowwe wat jy op die foto sien, is nie waar die beskuldigde haar gelos het nie. Sy is soontoe gesleep nadat die beskuldigde die toneel verlaat het. Die liggaamsvloeistowwe was op die plek waar sy gevind is.”

Van der Westhuizen het onder kruisverhoor toegegee dat sy nie kon sê of die bestuurder en die aanvaller dieselfde persoon was nie.

Van der Vijver het gesê afgesien van ʼn snymerk aan die binnekant van Kumalo se mond het sy geen ander oop wonde aan haar liggaam gehad nie.

Mthethwa het tydens die begin van die verhoor skuld op die moordaanklag ontken en is sedertdien op borgtog van R100 000. Die slotbetoë sal op 22 November aangehoor word.

Lees alle vorige berigte oor Zwelethu Mthethwa op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hartverskeurend ·

Sekswerker of gewone vrou, dit bly hartverskeurend dat daar geen respek vir n vrou is nie! Mthethwa jy kan hier n ligte straf kry of loskom, maar gelukkig is almal met n gewete geseen en jy kan William maar al jou geld gee van hom gaan jy nie loskom! Mag jy elke dag haar beeld beleef!

lorayne ·

Die beeld materiaal plaas sy voertuig darem op die toneel . . . Maar ja Mike, geld wat stom is maak als reguit wat krom is ne? Ons sien dit al hoe meer deesdae.

alex ·

dis laakbaar en siek om te steel, en net so laakbaar en siek om seks jou werk te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.