Mthethwa skitter glo in afwesigheid midde sitstaking

Nathi Mthethwa (Foto: Twitter)

Volgens die DA skitter die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, in sy afwesigheid te midde van ’n groep kunstenaars se sitstaking by die Nasionale Kunsteraad (NAC) se kantoor.

Die minister het ondanks verskeie pogings deur die DA, verskeie kunstenaars en organisasies nie Woensdag met die groep sitstakers vergader wat die raad se kantoor in Johannesburg sedert verlede maand beset nie.

DA-LP’s Tsepo Mhlongo en Veronica van Dyk het Donderdag in ’n verklaring gesê die opposisieparty het gister met kunstenaars by die NAC se kantoor vergader as deel van ʼn oorsigbesoek wat die parlementêre portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur tans landwyd bring.

Daar was egter ten spyte van pleidooie daarvoor geen teken van Mthethwa gedurende die besoek nie. Dít terwyl hy volgens die DA die NAC moet aanmoedig om deursigtig te wees rakende die administrasie van noodlenigingsfinansiering en as bemiddelaar tussen die raad en die kuns- en kultuursektor moet optree.

Maroela Media het vroeër berig ’n groep kunstenaars beset al 35 dae lank die kantoor nadat hy vroeër R300 miljoen se noodfinansiering aan die kunstebedryf bewillig het – maar nou glo versuim om die geld uit te betaal.

Mhlongo en Van Dyk wys daarop dat dit reeds baie vroeg in die inperking duidelik geword het dat tensy die kuns- en kultuursektor ondersteuning ontvang, die afsonderingsregulasies en gepaardgaande ekonomiese beperkings die bedryf sal lamlê.

“Die sektor is ondanks talle beroepe op die minister van onder andere belanghebbendes in die bedryf, briewe van die DA aan die minister, die NAC-raad en die voorsitter van die komitee, Beauty Dlulane, en ons oproepe tot ʼn onafhanklike forensiese ondersoek en ʼn spesiale ondersoekeenheid (SOE), in die steek gelaat deur die departement en die instansies wat dit gebruik het om hulpfinansiering te implementeer.”

Volgens Mhlongo en Van Dyk gaan die DA nou aan die ouditeur-generaal (OG) skryf om ondersoek in te stel na die R300 miljoen. Die party gaan ook in ’n brief aan die voorsitter van die portefeuljekomitee versoek dat die noodleniging wat deur die NAC geadministreer word, een van die eerste punte op die agenda is wanneer die parlement hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariana

Seker te besig om homself besig te hou met onbenullighede of wie weet dalk drink hy iewers tee

marius

Hy is baie besig , om onuitspreekbare naams veranderinge uit te dink .

Pieter

Julle ANC bly maar net gemors daar julle kommuniste sal nooit verander nie

Miskruier

Nog steeds het ons plaaslike biblioteek geen wifi gelde ontvang nie. Juis in die tyd waar heelwat kinders internet benodig.

Sarel

Skoor het geen byt nie.