MTI by polisie verkla, hoof verdwyn glo

Die FSCA. Foto; Facebook

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het strafregtelike klagte teen die Suid-Afrikaanse bitcoin-handelaar, Mirror Trading International (MTI), by die polisie aanhangig gemaak.

Volgens die FSCA is sy ondersoek na MTI amper voltooi. MTI is nie gelisensieer om finansiële dienste te lewer nie en het nie om sodanige lisensie aansoek gedoen nie. Die FSCA is van mening dat MTI en sy senior bestuur ʼn onwettige onderneming bedryf, kliënte mislei en verskeie wette oortree het.

Johann Steynberg, uitvoerende hoof van MTI, het volgens alle aanduidings intussen die land verlaat en bevind hom glo in Brasilië.

Die FSCA het einde Oktober klopjagte op Steynberg en Cheri Marks, bemarkingsdirekteur van MTI, se huise asook MTI se kantore in Stellenbosch uitgevoer nadat opsporings- en beslagleggingsbevele bekom is.

Moneyweb het intussen ʼn verklaring wat deur MTI uitgereik is op sy webwerf geplaas waarin daar aangevoer word dat Steynberg nie eerlik met die bestuur, leiers en lede van MTI was nie en dat die bestuurspan sy samewerking aan wetstoepassingsagentskappe gee.

Die FSCA het die afgelope ruk klagtes ontvang dat beleggers nie hul beleggings kan terugkry nie.

Die regsfirma Ulrich Roux & Associates, wat in April vanjaar deur MTI aangestel is, het intussen sy dienste onttrek. “Dit het onlangs onder ons aandag gekom dat Steynberg nie meer in Suid-Afrika is nie en dat die oorblywende lede van die MTI-bestuurspan geen manier het om met hom in verbinding te tree nie,” lui ʼn verklaring van die regsfirma.

“Hierbenewens is ons ingelig dat MTI-lede nie hul onttrekkings ontvang soos voorheen nie.” Volgens die regsfirma gee hy sy samewerking met die FSCA se ondersoek.

“10% per maand”

MTI het in April 2019 begin handel dryf. Lede van die publiek is genooi om op die MTI-webwerf (www.mirrortradinginternational.co.za en www.mymticlub.com) te registreer en hul bitcoin van hul bitcoin-beursie na MTI-bitcoin-beursies te skuif.

Volgens die FSCA het Steynberg volle beheer oor hierdie MTI-bitcoin-beursies gehad en is die bitcoin hierna na MTI se buitelandsevaluta- oftewel forex-platform FXChoice oorgeplaas. MTI het sy lede later versoek om hul onderskeie FXChoice-rekeninge af te koppel en hul bitcoin na ʼn saamgevoegde rekening te skuif.

Die FSCA het MTI in Oktober 2020 in kennis gestel dat dit ʼn onwettige ongeregistreerde finansiëledienste-onderneming is. MTI het toe beweer dat hy sy handelsaktiwiteite verander het sodat dit nie meer binne die jurisdiksie van die FSCA val en nie meer ʼn lisensie as finansiële diensverskaffer benodig nie. Dit is volgens die FSCA nie korrek nie.

“Ons het geen bewyse gevind dat enige kripto-handel plaasvind soos dit met lede van MTI gekommunikeer word nie.”

MTI het hierna beweer dat lede se kripto-bates van FXChoice na Trade300 oorgeplaas is.

Trade300

Die FSCA sê hy het bewyse verkry van FXChoice wat heeltemal strydig is met Steynberg se bewerings. Volgens FXChoice het hy navrae van MTI se kliënte ontvang en in die proses het die kliënte FXChoice van handelsverklarings voorsien. Die bron van die handelsverklarings was MTI en die verklarings was gegrond op demo-handelsrekeninge en nie werklike transaksies nie. FXChoice het hierna die balans van die kripto-bates wat aan MTI verbind was op die FXChoice-platform bevries.

Die totale kripto-bates op FXChoice was egter ʼn weglaatbare bedrag, met inagneming van die totale bates wat MTI beweer dat hy namens sy kliënte belê het. FXChoice het bevestig dat MTI van 29 Januarie 2020 tot 3 Junie 2020 altesaam 1 846,72 bitcoin oorgeplaas het en ʼn verlies van 566,68 bitcoin gemaak het, ʼn geskatte kapitaalverlies van 30%.

Volgens die FSCA het hy pogings aangewend om Trade300 op te spoor om ʼn verklaring en handelsbesonderhede te kry. Die FSCA het alle moontlike skakels op die internet gevolg om vas te stel of Trade300 bestaan. Dit kon slegs een verwysing na Trade300 vind, naamlik Trade300 se webwerf. Die webwerf was en is steeds “onder konstruksie”, en die enigste verwysing wat aan die webwerf gekoppel is, is die naam van “Joe Steyn”, ʼn bekende alias van Steynberg.

Die FSCA het tydens die klopjagte op Steynberg se rekenaar bewyse rakende Trade300 gevind en dit wil dus voorkom asof Trade300 aan Steynberg gekoppel is.

In ʼn verdere poging om die bewerings van MTI, Steynberg en Marks te verifieer, het die FSCA inligting van MTI aangevra oor die oordrag van kliënte se bates van FXChoice na Trade300. MTI het beweer dat hy dit kan bewys in die vorm van bitcoin-beursies en het verklaar dat MTI op onderskeidelik 21, 22 en 24 Julie 2020 in vier paaiemente 16 444 bitcoin van FXChoice na Trade300 oorgedra het.

Die FSCA het egter bevind dat daar in Julie 2020 geen onttrekking van bitcoin deur MTI van FXChoice plaasgevind het nie. Die laaste onttrekking van bitcoin deur MTI van FXChoice was in Augustus 2019.

“Ons het geen bewyse gevind van enige beduidende kripto-bates wat op enige handelsplatform gestoor word en dat die meeste kripto-saldo’s in die naam en onder beheer van Steynberg verskyn nie. Die bedrag van sulke saldo’s is ver onder die geadverteerde saldo op die MTI-handelsplatform wat aan beleggers van MTI verskuldig is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.