MTI-likwidateurs vind Bitcoin, eiendomme, luukse motors en silwer

(Argieffoto: Maroela Media)

Die likwidateurs van Mirro Trading International (MTI), wat beskryf is as een van die grootste kriptogeldskemas nog, het sover 1 281 Bitcoin, drie eiendomme ter waarde van omtrent R6,5 miljoen, nog kriptobeursies in die Seychelle, silwer ter waarde van omtrent R1,4 miljoen, en twee duur 2020-model Jaguar-viertrekvoertuie wat kontant gekoop is vir omtrent R3,2 miljoen, gevind. Ina Opperman het gaan kyk wat die likwidateurs nog gevind het en wat verder gaan gebeur.

Volgens die likwidateurs het die man agter die skema, Johann Steynberg, R933 000 in sy vrou se rekening inbetaal vir wat sy beskryf as huishoudelike onkoste. Hierdie geld sal nou van haar teruggeëis word.

Steynberg het verlede Desember verdwyn en is volgens verskeie gerugte êrens in Suid-Amerika. Hy is steeds soek en is na bewering die enigste een wat toegang het tot die kriptogeld ter waarde van miljarde wat weg is nadat mense dit by hom “belê” het.

Ses finale likwidateurs, Herman Bester, Riaan van Rooyen, Jacolien Barnard, Deidre Basson, Christopher Roos en Chavonnes Coopers, is aangewys by die eerste krediteurevergadering met die meester van die hooggeregshof op 5 November.

Vordering sover

Volgens die likwidateurs het hulle reeds met rasse skrede gevorder en byna 60 belanghebbendes ondervra, wat sommige van die meesterbreine agter die skema insluit wat wou voorgee dat hulle krediteure is met wettige eise. Die likwidateurs het hulle gou ontmasker.

Hulle het ook alle nuwe eise nagegaan om te verseker niks is gedupliseer of nagemaak nie, weens die massiewe bedrog, verdagte handelsplatforms, buitensporige kommissies en nagemaakte transaksies wat gebeur het voordat Steynberg, wat gesê het hy is die hoof van MTI, verdwyn het. Die likwidateurs het sover

  • omtrent 1 281 Bitcoin van die kriptoplatform FX Choice verkoop,
  • ʼn groot hoeveelheid belangrike inligting ingesamel oor hoe MTI bedryf is en die mense wat daarmee gewerk het,
  • ʼn MTI-databasis gevind in Maxtra in Indië, wat baie gaan help met die ander regsprosesse wat gaan volg,
  • ʼn beëdigde verklaring ingedien van FX Choice,
  • ʼn beëdigde verklaring gekry van Keith Badenhorst, wat na bewering die handelsbot geskep het,
  • die hele stel handelsrekeningstate van FX Choice gekry met besonderhede van rekeninge wat verband hou met MTI en Steynberg,
  • onafhanklik bepaal dat Steynberg die Trade300 e-posdomein besit,
  • potensiële kriptobeursies wat verbind word aan MTI en Steynberg in die Seychelle gevind,
  • silwer gevind wat omtrent R1,4 miljoen werd is, en
  • verskeie ander eise teen derdepartye geïdentifiseer wat deur die Steynberg-trustees opgevolg sal word.

Die likwidateurs konsentreer steeds op die sogenaamde top-200-wenners, wat reeds geïdentifiseer is en saam voordeel van omtrent R700 miljoen uit die skema getrek het.

Struikelblokke vir die likwidateurs

Volgens die likwidateurs moet hulle nou verskeie struikelblokke oorkom, soos dat geen besonderhede van kliënte gehou is nie en dat rekeninghouers se name nie gebruik is nie, dat mense verskeie rekeninge kon open en dat die databasis verskeie kere binnegedring is voordat Steynberg verdwyn het.

Hulle meen al het ʼn hof nog nie die skema as onwettig verklaar nie, die bewyse wat tot dusver versamel is beslis daarop dui dat dit onwettig was.

  • Die volgende vergadering van krediteure is vir 10 Desember belê wanneer die likwidateurs ʼn verslag sal voorlê met meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swerwer ·

Waar gaan hierdie bedrog wat so vrylik in ons land plaasvind, eendag stop. Het die Meesterbreine agter die bedrog geen gewete nie?

Agge nee ·

Die hartseerste van so ‘n situasie dat feitlik alles wat so teruggevind word, in die likwidateurs se sakke gaan beland.

Jacobus ·

My vraag is, waar kry die mense in SA die geld om dit biljoene rande te maak wat bele is? Is daar meer miljoeners tussen ons as wat ons van weet.

JohanCzu ·

Om so ‘n opbrengs as wat MTI geadverteer het te verdien uit cryptohandel is eintlik baie maklik. Ek maak gemiddeld minstens 2% per dag sonder ‘n bot. Ek sal MTI ewig dankbaar wees dat hulle die cryptowêreld aan my bekendgemaak het. Dit stel my instaat om in die gerief van my huis ‘n inkomste te verdien, ongeag waar in die wêreld ek is. Waar presies die “bedrog” of “swendel” inkom weet ek nie. Ek het wel ook Bitcoin wat nog in MTI se besit is.

Chris ·

My beskeie mening, en ek is glad nie beinvloed nie, ek ruik ‘n rot. Wat het Mirror Trading werklik verkeerd gedoen. Ek is nie ‘n waarsêer nie maar ek vertrou die sg likwidasie glad nie. Iemand wil probeer om die maatskappy te kaap/vervreem van die wettige eienaar. Niemand het skade gely, totdat die “likwidateurs” en trawante ingestap of nader gestap het nie. MTI is ‘n “internasionale” maatskappy wat in/met ‘n internasionale kommoditeit handel dryf. Wat het die Raad op Finansieële Dienste nou ‘n eiertjie te wil lê, behalwe om die SA belegger te beskerm. Die oomblik wanneer iemand met ‘n “geldmaakskema” te voorskyn kom, spring die gereguleerde/institusionele beleggingshuise op hul perdjies en diskriditeer die skamas as bedrogspul en boewery. Die banke, versekeringsmaatskappye is die groot tjankbalies. Ek hou die MTI sage met ‘n skerp oog dop. Die persoon/persone wat die saak aanhangig gemaak het, die likwidateurs en regspraktyke gaan die meeste baat. Die belegger duik weerin die hek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.