MTI-stigter in Brasilië aangekeer

Steynberg is in Braslië aangekeer. (Foto: Goiás-regering)

Johann Steynberg, hoof en stigter van die omstrede Bitcoin-platform Mirror Trading International (MTI), is in Brasilië aangekeer.

Volgens Brasiliese media het die polisie Steynberg in besit van twee vervalste ID’s, twee skootrekenaars, ʼn selfoon en ses kredietkaarte in Goiânia in dié land se Goiás-staat, in hegtenis geneem.

Steynberg is die meesterbrein agter MTI, wat beskryf is as een van die grootste kriptogeldskemas nóg.

Brandon Topham van die Suid-Afrikaanse gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) het luidens berigte gesê die Valke het Steynberg se inhegtenisneming bevestig.

Steynberg het in Desember 2020 spoorloos verdwyn kort nadat die uitbetalings aan duisende lede van die skema opgedroog het. Die skema het daarna heeltemal ineengestort.

Meer as 170 000 mense wêreldwyd het glo miljarde rande in die skema verloor.

Luidens ʼn verklaring van die Goiás-regering – wat die verdagte net as die “stigter van MTI” geïdentifiseer het, word Steynberg sedert 2019 deur Interpol gesoek. Hy is verlede week aangekeer.

Johann Steynberg.

Volgens lt.kol. Raimundo Coelho Pinto Junior, bevelvoerder van Giro, het spesialisspanne Steynberg begin dophou nadat hulle inligting ontvang het dat die Suid-Afrikaner in Goiânia skuil. “Ons polisiebeamptes het met ʼn deeglike ondersoek van die verdagte begin en ná sowat ʼn maand was dit moontlik om die verdagte te identifiseer en te nader,” sê hy.

MyBroadband berig Steynberg het aanvanklik in Sao Paulo gewoon, maar later na Goiânia verhuis waar hy glo ʼn luukse leefstyl aan sy vriendin gebied het. Steynberg het ook ʼn vrou en kind wat hy in Desember 2020 in Suid-Afrika agtergelaat het toe hy landuit gevlug het.

MTI is in Julie verlede jaar finaal gelikwideer nadat duisende mense wêreldwyd geld in die skema – wat ʼn opbrengs van tot 10% per maand beloof het – belê het. Beleggers moes in bitcoin betaal en ten spyte van herhaalde waarskuwing, het die skema volgens Chainalysis gegroei tot een van die grootste kriptobedrogskemas van 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Di ·

Ja mens se sondes haal jou wel in! “you can run but you cannot hide”

Pietertjie ·

Die man het so baie kos voorsien vir die “regsgeleerde” aasvoëls.

Koen ·

Hoog tyd dat die gierige “beleggers” ook vervolg word en opgesluit word. Hulle skep die mark vir die skelms.

Flip ·

Ek dink dit gaan eerder oor ander wat hulle geld verloor deur skelms wat hulle ompraat om in sulke twak te belê.

Tubac ·

Die dae van jou geld onder die matras bere is verby. Om rykdom te probeer skep met verantwoordelike beleggings is almal se reg ,behalwe die matras beleggers.

Flip ·

Armoede word ook geskep deur skelms wat met die Bybel in de hand en mooi praatjies mense ompraat om te belê wat dan alles verloor…….

Kokerboom ·

Skelm op mega skaal! Daar is sommige Afrikaners wat darem waaragtig skelm is!!!!Dis om van naar te word!

Shakespeare ·

Daai korrupte, arrogante “smile” gaan nou deeglik van jou gesig af verwyder word. Kry vir jou.

Micheal ·

Dood seker hy was ook stigter van BTC-Global- daar is nog n paar wat saam hom aangekeer moet word she.r.. w…
Daai het gevou in 2017/2018

JM ·

En die mensdom wil maar nie leer nie. Hoeveel keer is mense al op hierdie manier ingeloop? As jy geldgierig wil wees, dra dan maar die gevolge.

Samuel ·

As die SAPD maar net so ywerig kan wees om die groot skelms, bedrieërs, wat vrylik rondbeweeg in ons land, vas te vat.

Dit is goed dat hierdie bedrieër gevang is.

Marius ·

Die mense moet leer dat daar nie so iets is soos vinnig ryk word nie. Jy moet bietjie werk vir jou geld.

Stephen ·

Ondersoek sommer CBI ook. Werk presies op dieselfde basis as Mirror Image en hulle gaan nog voort.

minnie muis ·

bidcoin—– easy come easy go……baie min werk regtig en gled veiliger in banke met vaste dep of so iets …moenie geldgierig wees nie, dis hoekom so baie mense geld verloor, vrgelyk wat vir jou gese word met feite, in ons ekonmie niemand kan 10 % kry nie….. maar mense leer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.