MTI voorlopig gelikwideer

Die Suid-Afrikaanse Bitcoin-handelaar, Mirror Trading International (MTI), is voorlopig gelikwideer. Die skrif is dus aan die muur vir die sowat 280 000 beleggers oor die wêreld wat sowat R9,45 miljard by MTI belê het.

ʼn Likwidateur sal nou aangestel word in ʼn poging om van die geld terug te kry wat na bewering deur die maatskappy se enigste direkteur, Johann Steynberg, geswendel is. Die 37-jarige Steynberg het glo aan die begin van Desember landuit gevlug en bevind hom waarskynlik tans in Brasilië.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het reeds vroeër ʼn strafregtelike klag by die polisie aanhangig gemaak omdat daar gemeen is dat MTI en sy senior bestuur ʼn onwettige onderneming bedryf, kliënte mislei en verskeie wette oortree.

Die likwidasiebevel volg ná ʼn sakeman van KwaZulu-Natal, Anton Lee, verlede Donderdag dringend by die hooggeregshof in Kaapstad aansoek gedoen het dat MTI gelikwideer word. Sy aansoek is egter deur ʼn groep beleggers, die MTI Recovery Action Group (RAG), teengestaan omdat hulle meer tyd wou hê om die beste besluit vir beleggers te kon neem.

Ná ʼn Zoom-vergadering wat verlede Saterdag met Lee se regspan gehou is en waartydens verskeie stappe oorweeg is, het die groep besluit om wel hul steun aan sy aansoek te gee en regter Owen Rogers het dit gister toegestaan.

Volgens Lee se beëdigde verklaring wat voor die hof gedien het, skuld MTI hom US$34 708,77 of sowat R500 000. Hy het sy familie oorreed om ook by MTI te belê en hul gesamentlike belegging beloop sowat ʼn miljoen rand.

Hy het lont geruik toe MTI nie ʼn betaling aan hom kon maak wat hy op 1 Desember aangevra het nie. “MTI is nie in staat om die bedrag te betaal nie omdat die maatskappy geen bates besit en geen inkomste verdien nie,” aldus die verklaring.

Nog ʼn belegger, Steven Watkins, het ook ʼn aansoek vir MTI se likwidasie ingedien. Hy het R150 000 belê en kon sedert 21 Desember nie onttrekkings maak nie.

Intussen is verkeerdelik in die media berig dat beleggers tot 1 Maart 2021 het om hul verliese op ʼn spesifieke webwerf en by ʼn spesifieke likwidateur aan te meld. Lee se regspan het aan Maroela Media gesê sulke eise kan by enige likwidateur ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.