MTN beplan reuse-afleggings: Solidariteit

MTN-logoDie vakbond Solidariteit sê die selfoonnetwerk-diensverskaffer MTN het Vrydag in ’n artikel 189-kennisgewing aan werknemers aangedui dat hy sowat 847 personeellede in bestuursposte wil aflê.

Volgens die vakbond voer die maatskappy sy swak opbrengste en groei as rede vir die beoogde afleggings aan.

Volgens Marius Croucamp, hoof van die kommunikasiebedryf by Solidariteit, het Solidariteit reeds sy ontevredenheid laat blyk oor die maatskappy se versuim om in sy skrywe aan werknemers te vermeld dat geregistreerde vakbonde hul lede in die afleggingsproses mag verteenwoordig.

“Solidariteit sal eersdaags met die bestuur van die maatskappy oor die beplande afleggings vergader. Ons sal dan amptelik beswaar maak daarteen dat die werkgewer nagelaat het om werknemers in te lig dat hulle tydens die proses deur hul vakbonde bygestaan mag word,” het Croucamp gesê.

Hy het bygevoeg dat artikel 189 van die Wet op Arbeidverhoudinge bepaal dat ’n werknemer daarop geregtig is om deur ’n geregistreerde vakbond, waarvan hy of sy lid is, tydens afleggings verteenwoordig te word.

Volgens Croucamp wil MTN die afleggingsproses reeds teen einde Oktober afhandel. “Ons sal vra dat die proses verleng word indien daar nie voldoende tyd is vir vakbonde om met die werkgewer daaroor te konsulteer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.