MTN en Vodacom pak Okosa in die hof

Grafika: Bandwidthblog

Grafika: Bandwidthblog

MTN en Vodacom moes hul koste vir oproepe na ander netwerke bekend gemaak het, het die Johannesburgse hooggeregshof Woensdag gehoor.

David Unterhalter SC vir die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het aangevoer dat die maatskappye nie die kostes aan Okosa bekend wou maak toe hy sy regulasies vir 2014 opgestel het nie. “Dit bly ʼn donker geheim wat dié kostes is,” het Unterhalter gesê.

MTN en Vodacom daag tans ʼn nuwe asimmetriese interkonneksietarief-stelsel wat in werking gestel word. Dit is die koste wat operateurs aan mekaar moet betaal vir oproepe na ander netwerke. Okosa wil hê interkonneksietariewe moet teen 2016 tot 10c per minuut daal. In 2014 sal MTN en Vodacom 44c per minuut moet betaal aan kleiner selfoonondernemings, terwyl laasgenoemde soos Cell C en Telkom se 8ta, net 20c sal hoef te betaal.

MTN en Vodacom wil dié regulasies laat skrap, of tussentydse verligting ontvang om die inwerkingstelling van die nuwe tariewe te verhoed totdat dit hersien is.

Unterhalter sê die twee maatskappye wou nie die interkonneksietariewe aan Okosa bekend maak nie, ondanks die feit dat dit hulle vrygestaan het om dit te doen, aangesien daar geen regulasies nodig was nie. “Hulle kon, hulle moes, en hulle het nie,” het hy gesê.

Alfred Cocknell SC vir MTN het Dinsdag aangevoer daar is kwessies oor regverdigheid in Okosa se hantering van die regulasies en dit is Okosa wat inligting weerhou het. Hy het gesê MTN wou voorstelle indien oor die voorlopige regulasies, maar is nie van behoorlike inligting voorsien om betekenisvolle voorstelle te maak nie. MTN wou die kostestudie en streeks- of internasionale studies sien waarop Okosa hul regulasies baseer het, maar Okosa het geweier om dit te oorhandig.

Okosa het glo ook geweier om bekend te maak watter metode hy gebruik het om die nuwe tariewe te bepaal.

Gilbert Marcus SC, ook vir Okosa, het Woensdagoggend gesê die 2014-regulasies moet voortgaan, ondanks die konsessie dat die tweede jaar (15c), en derde jaar (10c), van die driejaarplan gewysig moet word. Okosa het nie ʼn konsessie vir die eerste jaar gemaak nie.

Okosa het aangedui dat dit ongeveer ses maande lank sal duur om die regulasies, vir 2015 en 2016, te wysig.

Unterhalter het gesê dat MTN en Vodacom noemenswaardig hul interkonneksietariewe verhoog het voordat die bedryf gereguleer is en dat hulle “ruimskoots wins gemaak het” oor ʼn aantal jaar.

Daar is glo ʼn kommer dat, indien die 2014-regulasies nie Dinsdag in werking tree nie, daar ʼn vakuum sal ontstaan vir soortgelyke praktyke.

Die besluit om die laer interkonneksietariewe vir kleiner rolspelers beskikbaar te stel, is ʼn poging om mededinging te stimuleer. Die kleiner rolspelers sal dan die geleentheid hê om hul infrastruktuur uit te bou en meer klante te lok. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.