MTN-hoof bedank

Sifiso Dabengwa. Foto: www.mtn.com

Sifiso Dabengwa. Foto: www.mtn.com

Sifiso Dabengwa, MTN se uitvoerende hoof, het bedank kort nadat die maatskappy ʼn multi-miljardrandse boete in Nigerië opgelê is.

Dabengwa se bedanking is Maandag in ʼn verklaring aangekondig. Phuthuma Nhleko, voormalige hoof, is tydelik weer as uitvoerende hoof aangestel.

MTN is twee weke gelede ʼn boete van US$5,2 miljard deur die Nigeriese Kommunikasiekommissie opgelê nadat die maatskappy versuim het om 5,1 miljoen klante met ongeregistreerde SIM-kaarte vroegtydig te ontkoppel. Die kommissie het vroeër bepaal dat die maatskappy selfone moes ontkoppel wat nog nie teen sy Augustus-sperdatum geregistreer was nie.

Die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) het kort daarna die verhandeling van MTN se aandele opgeskort.

“Weens die onaangename omstandighede tans in Nigerië het ek, in die beste belang van die maatskappy en sy aandeelhouers, my bedanking ingehandig met onmiddellike uitwerking,” het Dabengwa gesê. Nhleko sal vir ses maande Dabengwa se verantwoordelikhede oorneem terwyl die maatskappy sy opvolger bepaal.

Nhleko is geensins ʼn nuwe gesig by die maatskappy nie en het van Julie 2001 tot Junie 2002 as nie-uitvoerende direkteur en voorsitter van MTN gedien. Hy was daarna die uitvoerende direkteur, groeppresident en hoof uitvoerende beampte tot Maart 2011. Sedertdien het hy die maatskappy in ʼn nie-uitvoerende hoedanigheid gelei.

Volgens MTN sal Alan van Biljon as die hoof onafhanklike direkteur van die MTN-raad dien terwyl Nhleko die uitvoerende verantwoordelikhede oorneem. Nhleko het gesê afgesien van die uitdagings in Nigerië, sal sy tweede prioriteit wees om ʼn gepaste hoof uitvoerende beampte te vind om Dabengwa op te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anti MTN ·

MTN is ‘n swak diensverskaffer wie geen kliente diens lewer nie. Sukkel al vyf maande om ‘n basiese diens te aktiveer. Die winkel in Irene Village Mall het nie eers ‘n telefoon lyn nie. Die bestuurder van die winkel se selfoon is die enigste kommunikasie middel. Die foon word afgeskakel om die irritasie van kliente te verhoed. Die klagte is deur Hello Peter beantwoord maar die belofte om die aangeleentheid reg te stel is nooit gedoen nie. Die laaste toestel kontrak van ons huishouding verval volgende week dan is ons finaal klaar met MTN!

Joe ·

Verseker ….. ek hoop net dat MTN se dienste werklik gaan verbeter , aangesien hulle diens uiters swak , pateties & onaavaarbaar is ! Hoop ook hulle stel geletterde personeel aan wat die werk kan doen ! Het al so baie klagtes teen MTN gehad oor hulle swak diens , maar tot dus ver ….. geen verbetering nie !!

GES ·

Ek is baie dankbaar dat ek lank nie meer ‘n kliënt van MTN is nie. Arogansie en swak diens kon nog nooit kliënte trek nie.

Winston ·

Sien, dis nou wat gebeur as jy hopeloos te arrogant raak en dink jy is beter as die kliente. Wens dit wil met meer diens verskaffers gebeur. Die goed dink mos ons as kliente skuld hulle wyl ons hulle absurd salarisse betaal. Lekker man MTN. Kry vir julle.

Winston ·

Die waarheid maak seer Maroela. Ek verstaan dat julle nie die moed of durf het om sekere kommentaar te plaas nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.