MTN sê oor noodlynoproep

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

MTN Suid-Afrika het gereageer op bewerings dat ʼn operateur by sy noodlyn se inbelsentrum die foon in ʼn vrou se oor neergesit het omdat sy uit paniek geskree het.

Maroela Media het vroeër berig Pam Green, ʼn vrou van Johannesburg, het Maandag op Facebook vertel hoe sy Vrydagaand laat ʼn vrou op die N12 aan die Oos-Rand te hulp gesnel het toe sy gesien het hoe die vrou uit ʼn bewegende motor gestamp word.

Green het beweer sy het 112, MTN se noodlyn, geskakel om ʼn ambulans te ontbied, maar moes vir langer as twee minute luister na ʼn voorafopgeneemde boodskap wat haar waarsku dat dit ʼn strafregtelike oortreding is om ʼn noodlyn te skakel indien jy nie regtig in nood verkeer nie. Green voer verder aan sy moes met drie verskillende mense praat en haar noodsituasie aan hulle verduidelik, net om elke keer gevra te word om aan te hou en deurgesit te word na iemand anders toe.

Volgens Green was sy reeds agt minute met die oproep besig toe sy uiteindelik by ʼn vierde persoon uitgekom het wat haar weer gevra het om aan te hou. Green het geskryf sy het uit paniek en frustrasie geskree dat sy nie verder gaan aanhou nie en dat hulle onmiddellik ʼn ambulans moet stuur om haar te help. Die operateur het glo vir haar gesê om nie op hom te skree nie en die foon in haar oor neergesit.

Bridget Bhengu, senior bestuurder van kommunikasie by MTN Suid-Afrika, het by navraag van Maroela Media gesê ʼn interne ondersoek is reeds aan die gang om die feite van die voorval vas te stel.

Sy het verduidelik dat MTN die tolvrye noodlyn beskikbaar stel as deel van sy lisensieverpligtinge en dat hierdie diens na Europ Assistance uitbestee word om die oproepe, wat op MTN se netwerk gemaak word, na die korrekte nooddiens te herlei, byvoorbeeld die polisie, brandweer of ambulansdienste.

“MTN kan bevestig dat ʼn interaktiewe stemreaksieboodskap, wat die interaksie met die inbelsentrumagent voorafgaan, ongeveer 30 sekondes duur, insluitend ʼn versoek aan die beller om 1 te druk om te bevestig dat hulle werklik in nood verkeer,” het Bhengu gesê. “Weens die groot hoeveelheid gekskeer-oproepe wat ons ontvang is die filterboodskap noodsaaklik om die misbruik van hierdie diens te minimaliseer. Ongeveer 20% van die oproepe wat op 112 ontvang word hou nié verband met noodgevalle nie.”

Bhengu het gesê volgens die rekord van Green se oproep aan die noodlyn het die eerste oproep Saterdag om 00:33 deurgekom, maar het die oproep net vyf sekondes geduur en daar was geen interaksie met die beller nie. Om 00:34 het die persoon (Green) weer gebel en met ʼn inbelsentrumagent gepraat.

“In ʼn poging om die nodige inligting te bekom, het die agent die beller vrae gevra om die aard van die voorval te bepaal en toe die beller laat aanhou terwyl die agent die toesighouer geroep het om die oproep verder te hanteer. Die toesighouer het verantwoordelikheid vir die oproep geneem, die inligting met die beller geverifieer en die oproep na die Ekurhuleni-nooddienste deurgesit soos normaalweg gedoen word. Die hele oproep het vyf minute en 55 sekondes geduur.”

Ideshini Naidoo, kliëntedienshoof by MTN Suid-Afrika, het ontken dat die operateur die oproep beëindig het omdat die beller op haar geskree het. “Volgens die opname van die oproep het die toesighouer wat die oproep na die nooddienste deurgeskakel het, deurentyd op die lyn gebly tydens die oproep. Sy het daarin geslaag om onder moeilike omstandighede steeds kalm en professioneel te bly,” het Naidoo gesê.

“Ons werk saam met die onderskeie nooddiensverskaffers om ons ondersoek na die voorval te finaliseer en die slagoffer op te spoor sodat ons haar kan bystaan. MTN sien die mishandeling van vroue, kinders en ander weerlose lede van ons gemeenskap in ʼn baie ernstige lig en doen deur ons stigting baie om inisiatiewe te ondersteun wat mishandeling probeer hokslaan.”

Intussen het Christelle Colman, uitvoerende hoof van Europ Assistance Suid-Afrika, om verskoning gevra vir die diensverskaffer se rol in die voorval. “Ons sal seker maak dat die nodige stappe gedoen word om te verhoed dat hierdie soort voorval weer in die toekoms gebeur,” het sy gesê.

“Ons het reeds begin om verskeie aspekte van ons diens te verbeter. Dit sluit in die prosesse wat gevolg word met die nooddienste soos die polisie en ambulansdienste. Ons ondersoek ook verskeie tegnologie-opsies om dit makliker te maak om bellers se ligging vas te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Johan ·

MTN ” ons ondersiek verskye tegnologie-opsie” dis nie die probleem nie dis die mense wat daar werk wat die probleem is……

Johann Barnard ·

Die foon maatskappye maak miljarde rande,hulle voel vere vir ons.

zack ·

Die werknemers wat by MTN se arrogansie verstom my by die dag. Ek as gewese MTN klient trust nie meer vir MTN nie. Uit ondervinding glo ek ook nie MTN se verduidelinkng nie. Maroela publiseer asb die bandopname sodat die publiek self kan sien of MTN se hande skoon is. Ek glo daar is nog baie ander persone wat ontevrede is met die MTN 112

Veronica ·

Dankie tog ek is weg by MTN! Patetiese verskoning en verduideliking!!

Marike ·

In plaas daarvan dat MTN verantwoordelikheid vat vir hulle (skokkende) optrede, gee hulle sulke patetiese verduidelikings asof dit als regverdig! My kontrak eindig Des by MTN en ek sal hom verseker nie hernu nie! Good Riddance

Louis ·

Ek is ook weg by Mtn as gevolg van swak diens. Hulle werkers skep die indruk dat hulle jou n guns doen wanneer jy hulle kontak. Arrogansie met n rassistiese ondertoon. Skande. Hulle vedien al die slegte publisiteit wat hulle kry.

Leendert ·

Hierdie aanhouery terwyl jy na ‘n spookstem luister terwyl dit nou nog ‘n opsie gee, dan luister jy weer na die volgende spookstem wat jou ‘n opsie gee, en so karring dit aan, kom by bykans ALLE diensverskaffers voor, van hulle beduie nog so intussen dat mens nog so vyf minute of so moet aanhou vir die volgende beskikbare persoon.

Hierdie is ‘n euwel. Ek sit hordes kere sommer die telefoon neer, veral as ek haastig is. Hierdie was nou wel ‘n noodgeval, maar wie van hulle steur hulle nou daaraan.

Dan as mens opgewonde raak omdat mens geirreteerd was vir die spookstem en van die lang wag, dan sukkel jy nog met die lyn of met die persoon wat jy mee gesels en nie lekker mee kommunikeer of verstaan nie, dan vertel daardie persoon jou jy moet nie skree nie, raak jy nog meer opgewonde, plak die persoon die telefoon neer.

Lance ·

Ag ASB …nie almal kan verkeerd wees nie …daar het BAIE mense al berig oor die skokkende diens en dit gaan nog erger by 10111…..die mense probeer mens dom maak weet jy !

Thinus ·

Om 112 in nood te bel, is ‘n grap. Teen die tyd, dat die erg trae inbelagent bykom( dis nou as sy/hy die straat naam reg kan spel/ blykbaar is Lynnwoodrd baie moeilik om te spel en uit te spreek), is daar gewoontlik minute verby. Swak, swakker, MTN

Danie ·

Vra maar vir enige Crisis-on-Call kliënt (hulle inbel sentrum word ook deur Europ Assistance Suid-Afrika bestuur). Hulle lewer werklik goeie diens. Veral die Afrikaanse been van die diens (hulle het my nog nooit in die steek gelaat nie). Die Engelse been (wat ek noodgedwonge moes gebruik omdat al die Afrikaanse agente besig was) het my al twee maal in die steek gelaat. (Een irriterende ding van die kommentaar is dat jy nie die jou spelling kan nagaan nie. Die opspring menu word geblok)

Johann ·

MTN verandwoordelikheid aanvaar vir IETS? WHaaaahahhahhahaaa! As kliente van meer as 20JAAR…JIP…20 JAAR PLUS…is ons soos naiewe sotte hanteer.toe ons ERNSTIGE bewese “bedrog” op ons lyne aangemeld het. Onder andere ons eie lyne “suspend”; tog het MTN aftrekkings en aktiwiteit op die lyn toegelaat…TOT ONS ENORME ONKOSTES? Selfs op rekord dat “klient tevrede is …”op die SUSPENDED LYN gekontak? Wedersyds ooreengekome reelings blatant deur MYN misken. Betalings nie teeoor akriverings gereken…ens ens ens. Selfs ons ontneem van toegang tot die proses.om binne kontrak ooreenkomste die lyne te laat kanseleer na afloop van kontrak.tyd. Hulle maak BILJOENE in Afrika…is kort kort in die nuus oor ernstige wangedrag…maar WAT doen ons simpel ou verbruikerkies tog nou aan hulle??????

Melkies ·

Kom MTN – “release” die oproep klankgreep laat die publiek self besluit…

poen ·

MTN is pateties en klaar-nie een daar beteken iets nie . Wat ‘n klomp rugraatlose nikswerds!!Ek hoop die sogenaamde Bestuur lees hirdie kommentare – maar hulle sal nog steeds dink hulle is reg want hulle het nie die insig nie.

Ben Prinsloo ·

Vyf minute en vyf en vyftig sekondes vir n noodoproep, sjoe! Verskeie persone om die oproep te finaliseer, onproffesioneel!

alexander ·

@ Indeshini Naidoo, ons merk jy lieg al net soos jou president zuma. Ontken altyd alles ………swak.
MTN julle diens is met alle respek uiters, uiters swak.
Vreem niemand het positiewe kommentaar oor julle nie.

E.K. (vra net) ·

Kan Helpende Hand nie ‘n spesiale noodlyn, beman met inteligente mense op die been bring nie? Mense wat weet hoe en wie en waar om dadelik na so toneel te kan stuur?

CAROL ·

JOHANN – EK STEM EK WAS BY MTN HET OOR VODA TOE GEGAAN MAAR JA ……… NIE VEEL BETER NIE

Koos ·

My geval met MTN, is presies wat met Johann gebeur het. Skielike enorme, rekeninge waarvan beweer is tot R4,874.00 op een dag, dan n maand rekening van R12,760.00 vir die maand. Op navrae, kon ek geen antwoorde kry nie.(Telefonies of by verskeie MTN takke wat ek genader het) Kry ook geen Itemised billings soos per kontrak wat ek ook betaal van hulle nie. Hulle het ook nou my nommer gesuspend. MTN hou dit GESUSPEND, ek is klaar met julle vrot,patetiese diens.

Belinda ·

Ek dink die vrou het so baie vrees gehad ek meen dink daaraan sy staan op ‘n verlate pad met geen siel wat haar kan help nie en is nog bang dat die vrou se man ook weer kom ek haal my hoed af vir die vrou die vrees moes verskriklik wees………………en dan te bel en geen diens te kry nie eish!!!! swak

Blom ·

Goed en wel hul gee nou ‘n verduideliking oor waarom sy 4 keer met iemand anders moes praat, maar sou dit nie ‘n beter idee wees vir persoon no 1 om kortliks die details deur te gee aan no 2 (VERAL in ‘n noodgeval) en so aan die res, om sodoende frustrasie te verminder en natuurlik tyd te bespaar nie. Wat het die nooddienste nodig om te weet…’n adres en watter bystand word verlang!?

Mel ·

Weet enige iemand wat di vrou se toestand is, ek is glad ook ni ‘n MTN fan ni ook weens uiterse swak diens, maar is daar al opgevolg oor di vrou wat uit di motor gegooi is

Griet ·

ek dink ons behoort haar privaatheid te respekteer, veral as sy dalk probeer wegkruip vir die een wat haar wou dood hê.

Annatjie Kruger ·

Ok, ‘n mens moet 1 druk om te bewys dat jy hulp met ‘n noodsituasie nodig het, nadat jy die noodnommer gebel het. Dit is om vals oproepe uit te skakel. Wat ‘n grap. Wat verhoed die vals oproeper om ook 1 te druk. Daar moet ‘n manier wees waarop die persoon fisies opgespoor en aangekla kan word. Dit is per slot van rekening ‘n kriminele oortreding om vals noodoproepe na ‘n nooddiens te maak. So MTN vergeet van 1 druk en maak ‘n plan sodat julle die fisies ligging van die vals noodoproep aan owerhede kan verskaf sodat grapmakers vervolg kan word. Daar is ook opvoeding nodig, want die meeste van hierdie vals oproepe word deur kinders gemaak wat met fone sit en speel.

Piet Pille ·

Annatjie jy slaan die spyker op die kop, My kontrak verval in Des.2016 en ek kan wag om van MTM onslae te raak. Hoop hulle neem kennis van hul swak diens, klink soos huidige regeering.

Asjas ·

Die probleem is nie by MTN nie want ek is weg by Vodacom oor swak diens en so is ek weg by verskeie verskaffers as gevolg van swak diens. Ek het nou maar vrede gemaak met die feit dat swak diens deel van SA se kultuur is, kla en boikot gaan niks verander nie. En een van die dae gaan ons baie mense nog minimum loon betaal vir die swak dienlewering.

JK ·

Toe ek by MTN was het dit meer gelyk soos ‘n mode parade in ‘n vreeslike besige winkel sentrum. Almal staan en loop rond en is baie goed aangetrek. Hulle kry seker groot salarisse en stel nie veel in die gebruiker belang nie.

Ag ja ·

Ag ja kom ons maak weer verskonings . dit kon maar net nog ‘n lewe gekos het .. maar kom ons konsentreer liewer op ‘gekskeeroproepe’ en nie op die werklikes nie. Die knoppie vir NOOD moet nie ‘n 30 sekonde ‘wagtydperk’ he of opname nie . daar is niks meer irriterends as ‘n opname as jy paniekbevange is nie. Janee die VROU jok nou weer, die MTN werknemer het alles goed en reg gedoen so eintlik was daar geen rede om te kla nie ne? Dit is van VERSKONINGS soek en mense cover wat te SLEG is om te werk dat die land in die toestand is wat hy is.

Hendrik ·

MTN lewer die swakste kliente diens in RSA. Het my selfoon “geport” na Telkom Mobile. Het aansoek gedoen vir ‘n selfoon kontrak by Telkom Mobile, Irene Village Mall. Ek is binne drie ure ingelig dat my aansoek goedgekeur is en dat die handstuk gereed is.

Sarel Strydom ·

Mense, dit is egter ook ‘n feit dat alle Nooddienste, insluitende Ambulans, Brandweer en Blitspatrollie deur sg. “grapmakers” misbruik word.

snoefie ·

as jy noodnommer of net klientediens bel, kan hulle jou telefoon nommer sien. met Rica het hulle jou adres en I’d nommer ook. hoekom sal die inbelker die risiko van vervolging loop om valslik nood te skree?

snoefie ·

Nog iets wat baie pla van mtn is wanneer jy lugtyd of data koop en dit nie binne n gegewe tyd gebruik nie verbeur jy dit. dis loutere skelmheid. as jy KOOP is dit mos joune. niemand het die reg om jou voor te se tot wanneer jy mag bebruik nie. jy het die reg om gebruik van wat jy gekoop het self te bepaal. die geld wat jy op top up kry mag jy ook nie gebruik om data bondel te koop of vir iemand anders oordra nie. hello? top up is lugtyd koop. waar kom mtn daaraan om jou te verbued om jou lugtyd na goeddenke aan te wend?

Jaco Grobler ·

So 20% van oproepe is nie nood verwant nie, ek neem aan 80% is wel.. Sjoe dit maak glad nie sin nie, nie as jy ernstig is om mense by te staan nie, jy sal dan mos dat ‘n operateur die 20% filter sodat jy die 80% vinniger kan help. Dis sekerlik weer ñ rand-en-sent besluit.

EvW ·

Sies mtn…… altyd verskonings maar sal nooit sê jammer dit was ons fout nie

marlene ·

MTN en Vodacom het takke in my dorp. Uitstekende diens. (Ek sukkel redelik baie met ‘n ander). Noodoproepe val ongelukkig nie in die takke se beheer. Ek voel egter dat hierdie probleem moet maar aan die deur van die nuwe ‘traak-my-nie-agtigheid’ van onse Zuma beleid gelê word. Voel-n-veer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.