MTN sny datakoste

(Argieffoto)

Die selfoondiensverskaffers MTN gaan ingevolge ʼn ooreenkoms met die Mededingingskommissie sy datakoste verminder.

Die kommissie het Donderdag gesê hy het die ooreenkoms na die mededingingstribunaal verwys om as bevel bekragtig te word.

Die Mededingingskommissie het in Desember sy bevindings van ʼn ondersoek wat al 2017 van stapel gestuur is, bekend gemaak. Die ondersoek is gedoen na voortgesette openbare protes en het bevestig dat Suid-Afrika se datapryse te hoog is as dit met die res van die vasteland vergelyk word.

Die verslag het aanbeveel dat MTN en mededinger Vodacom – die land se grooste netwerkdiensverskaffers – ʼn ooreenkoms met die kommissie aangaan om datapryse te verminder, veral dié vir voorafbetaalde maandelikse databondels, asook die koste per 1 MB vir kleiner databondels.

Vodacom het die ooreenkoms om sy datakoste van 1 April met meer as 30% te sny verlede maand onderteken. Die maatskappy het hom ook verbind om oor die volgende twee jaar deur die bank sy datakoste te verminder.

Die kommissie het gesê MTN is gedwing om in die mark op die prysverlagings te reageer weens die bykomende intekenwaarde wat Vodacom nou bied.

“Die verskille in pryse en die gratis data is nou bekragtig as onomkeerbare verbintenisse deur ʼn bevel van die tribunaal.”

Ingevolge die ooreenkoms sal MTN van Vrydag die prys van ʼn 30 dae voorafbetaalde bondel verlaag, asook die koste van ʼn 1 GB- maandelikse bondel van R149 na R99 verminder.

Toegang tot soveel as 500 webwerwe wat fokus op onderwys, gesondheid, werwing en hulp gaan voortaan gratis wees, maar word tot 500 MB per klant beperk. MTN het ook ooreengekom dat al sy klante hul datagebruik gratis deur ʼn USSD-diens of op sy webwerf kan bestuur.

Die kommissie het ook ooreenkomste oor datapryse met Cell C en Telkom bereik.

Tembinkosi Bonakele, hoof van die Mededingingskommissie, het gesê die bekragtiging van die ooreenkoms met MTN beteken dat alle netwerkoperateurs nou die vrywillige verbintenis onderskryf om korttermynverligting aan verbruikers te verskaf.

“Die suksesvolle afhandeling van die eerste fase van aanbevelings kon nie op ʼn beter tyd gekom het nie, gegewe hoeveel die publiek tydens die [Covid-19]-krisis op data staatmaak nie,” het Bonakele gesê.

Die kommissie gaan nou fokus op mediumtermynaanbevelings rakende regulatoriese en wetgewende veranderings, asook die ontwikkeling van gratis Wi-Fi en alternatiewe breëbandinfrastruktuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Scalla

Maw dan het mtn ons die hele tyd ingeloop.

Sarel

Ha ha ha weet nie of ek moet lag vir die snert nie. Hulle bietjie last Aprilfoolsday al verby