MTN, Vodacom kry meer tyd oor datapryse

Foto: vodacom.com

Die Mededingingskommissie het gesê gesprekke met selfoondiensverskaffers Vodacom en MTN is in ʼn gevorderde stadium en het hulle daarom nog ʼn maand tyd gegee om hul datapryse te verlaag.

Die kommissie het Vodacom en MTN twee maande gelede opdrag gegee om hul prys van data met tot 50% goedkoper te maak.

Die kommissie het aan die begin van Desember sy langverwagte verslag bekend gemaak oor die hoë koste van data nadat hy in Augustus 2017 met ʼn ondersoek in dié verband begin het.

Vodacom en MTN is opdrag gegee om ʼn ooreenkoms met die kommissie aan te gaan waarvolgens hulle die prys van data met tussen 30% en 50% moet sny.

Al die diensverskaffers moet ook ʼn ooreenkoms met die kommissie aangaan waarvolgens ʼn bepaalde hoeveelheid data gratis aan al hul kliënte gebied word.

Sipho Ngwema, woordvoerder van die kommissie, het gesê sedert die verslag bekend gemaak is, het die kommissie produktiewe samesprekings met Vodacom en MTN gehad rakende die bevindinge en aanbevelings.

“Aangesien die gesprekke met die operateurs in ’n gevorderde stadium is, het die kommissie besluit om die spertyd van twee maande met een maand te verleng om voldoende tyd te gee om hierdie gesprekke af te handel.”

Ngwema het gesê die verslag het onder meer aanbeveel dat Vodacom en MTN veral die pryse van hul maandelikse databondels moet verlaag en aandag aan die struktuur van prysbepaling moet gee ten einde die koste per MB vir kleiner bondels in ooreenstemming met die prys van ʼn 1 GB-bondel te verlaag.

Verder het die verslag ook aanbeveel dat hierdie operateurs binne drie maande met die kommissie ’n ooreenkoms moet bereik oor onder meer ʼn bepaalde hoeveelheid gratis data aan hul kliënte.

Volgens die kommissie was daar genoeg bewyse om te bevestig dat Suid-Afrika se datapryse te hoog is. Daar is onder meer vergelykings getref met die pryse wat Vodacom en MTN in ander Afrika-markte vra en dit het gewys dat pryse in Suid-Afrika veel hoër is as in ander lande.

Prysstrukture buit die armes uit en is nie deursigtig nie. Die kommissie het ook bevind ook dat die groter rolspelers aktief besig is met uitbuiting om marges en pryse te verhoog.

Volgens die kommissie is prysgebaseerde mededinging in die markte onvoldoende en kan Cell C en Telkom Mobile nie teen Vodacom en MTN meeding nie.

Volgens die kommissie sal die diensverskaffers ingevolge die Mededingingswet vervolg word indien die gesprekke nie tot laer pryse vir verbruikers lei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Emily

Vodacom se pryse is heeltemal buite beheer.
Dan kry jy gratis lugtyd ens. as jy herlaai, Maar moet dit voor 12 dieselfde dag gebruik.
Ek kyk al klaar rond vir goedkoper geriewe.

Stefan

Hoe doen ‘n mens besigheid as die staat voorskryf wat jy voor jou produk mag vra??
Baie produkte sal eenvoudig nie meer aangebied word as die verkoopprys nie finansieel volhoubaar is nie.

Ora

Hoe lank het hul nog nodig. Vir my lyk dit net na tydmorstegniek. En hul toegewing tov gratis data sal waarskynlik die nagopsie wees, wat ‘n mens alreeds kry, dan verloor hul niks, maar watter gemiddelde verbruiker gebruik gereeld die nagopsie? Nie ons pensioenarisse wat reeds swaar trek aan alle prysstygings nie! Ai, wen kan die verbruiker net maar nie!

SomeOne

indien die goedkoper opsie gebruik word sal hulle net 30% in elk geval toegee

Louis

Ek kan nie help om te wonder of daar nie meer in die storie steek nie. In my opinie is data nie baie hoog op die hierargie van behoeftes nie en sal ek eerder wil sien dat hulle veg vir pryse op basiese behoeftes. Ek verstaan dat die selfoon netwerke ons uitbyt en ons pryse duurder is as ander lande maar ek sal ook graag wil weet hoekom is dit duurder?