Mugabe en Zimbabwe: Tien vinnige feite

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe saam met sy vrou Grace . Foto: GCIS

In die lig van die jongste gebeure en politieke verwikkelinge in Zimbabwe het Maroela Media ʼn paar vinnige feite oor die buurland en sy leier saamgestel:

  1. Robert Mugabe is reeds meer as 35 jaar in Zimbabwe aan bewind nadat hy van 1980 af as eerste premier gedien het. Hy is in 1987 tot president verkies nadat ʼn nuwe grondwet van krag geword het.
  2. Mugabe (93) is tans die oudste staatshoof in die wêreld.
  3. Hy is lank as ʼn held van Afrika se onafhanklikheidsbewegings beskou nadat hy in 1980 beheer van Zimbabwe (die destydse Rhodesië) by die Britte oorgeneem het.
  4. Mugabe se status as held het vinnig begin kwyn nadat hy die vervolging van talle wit boere en grondonteiening in Zimbabwe in 2000 toegelaat het. Talle mense het hulle lewe verloor en sy regime is wyd van korrupsie beskuldig. Die regime het verder berug daarvoor geword dat hulle hul politieke teenstanders vinnig en dikwels permanent snoer.
  5. Zimbabwe het onder Mugabe se leiding tot hiperinflasie gesink nadat inflasie met meer as ʼn miljoen persent gestyg en ekonomiese groei tot minus 18% gekrimp het. Dit het miljoene Zimbabwiërs in erge armoede gedompel en die lewensverwagting in die land het van 61 tot 40 jaar verlaag.
  6. Mugabe se vrou, Grace, wat 41 jaar jonger as haar man is, is ewe ongewild. Daar word wyd bespiegel Mugabe se planne om Grace sy opvolger van die land en die regerende Zanu-PF-party te maak, het Maandagaand tot ʼn soort verskuilde staatsgreep gelei in ʼn poging om die planne te verhoed.
  7. Mugabe se jongste seuns, Robert jr. (25) en Chatunga (21), word as pierewaaiers beskou wat lief is om met hulle rykdom in nagklubs en op sosiale media te spog te midde van miljoene Zimbabwiërs wat daagliks onder hongersnood gebuk gaan.
  8. Suid-Afrika is in ʼn diplomatieke verleentheid gedompel ná bewerings aan die lig gekom het dat Grace die 20-jarige Gabriella Engels met ʼn verlengingskoord aangerand het. Daar is wyd gedebatteer oor Grace se diplomatieke immuniteit ná die beweerde voorval in ʼn Johannesburgse hotel in Augustus vanjaar. Die burgerregte-organisasie AfriForum verteenwoordig Engels en is tans in ʼn hofstryd hieroor gewikkel.
  9. Talle titels: Koningin Elizabeth het Mugabe in 1994 tot ʼn ridder geslaan vir die rol wat hy in die ontwikkeling en verbetering van diplomatieke en politieke bande tussen Zimbabwe en die Verenigde Koninkryk gespeel het. Die titel is in 2008 herroep. Mugabe is ook van sy pos as welwillendheidsambassadeur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) onthef nadat die aanstelling wyd opslae gemaak het. Mugabe het 12 eregrade ontvang, maar vier grade is herroep ná die instellings hom van menseregtevergrype beskuldig het.
  10. Mugabe is ook berug vir sy openbare uitsprake. Hy het Tony Blair, die voormalige Britse premier, “ʼn seuntjie met ʼn kort broekie” genoem. Mugabe het daarop aanspraak gemaak dat hy die dood oorwin het aangesien hy al “talle kere gesterf het”. Hy het ook gedreig om die voormalige Amerikaanse president Barack Obama te vra om te trou nadat huwelike tussen dieselfde geslag in dié land wettig verklaar is. Mugabe het vroeër vanjaar spottend verwys na pres. Donald Trump as die “Reuse-Goue Goliat”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

Mevrou Grace Mugabe : Wat Jy gesaai het sal Jy maai ! Geen nagvlugte beskikbaar

John ·

Die ANC se goeie ou vriend en sy goeie ou vroutjie het vandag indirek daartoe bygedra dat die rugbywereld se liefde vir goeie ou Mandela-land begin taan het. Rooiligte brand in die suide van Afrika en dit belowe niks goeds nie… ‘No more the darlings of the world… believe it or not’.

kat ·

Ek hoop Zuma lees hierdie – want ek het ampertjies gedink hulle praat van hom.
Dankie tog Zim is van hierdie fossiel en die se vrou ontslae!!!
Groot is my vreugde!!!!
Ek hoop zuma en kie neem kennis!!

Skepties ·

Natuurlik, as mens jou vermoede op ander Afrika gebeure basseer, dink ek Mugabe is al Sondag onverwags dood en Zanu-PF was nie heeltemal gereed nie. So blok toegang tot moontlike kanale vir die nuus om uit te kom en dit koop hulle hopelik net genoeg tyd om die planne te implementeer.

Sannie ·

Dit is heel moontlik, want hoekom sou net sy in Namibie wees en nie hy ook nie?!

msp ·

Ek dank God dat die dektator se dag voor sy dood gekom het. Nou kan hy voel hoe dit vir die arme boere gevoel het toe hulle van hul plase afgegooi was. Mag dit vir leiers in Suid Afrika ‘n les wees. Wat jy saai sal jy maai en ja… moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil he nie. Mag hy nou dit wat hy gesaai het geniet.

Eugene ·

Sover ek weet was Biskop Abel Muzurewa die eerste verkose eerste minister van Zimbabwe na mnr Ian Smith en daarna was dit Robert Gabriel Mugabe en van 1987 af president tot op hede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.