Mugabe gee nie gehoor aan spertyd

Robert Mugabe. Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe het glo ingestem om uit sy amp te tree ná 37 jaar aan bewind.

CNN het Maandag berig sy bedankingsbrief is glo opgestel, ten spyte daarvan dat Mugabe geensins melding van sy uittrede Sondagaand in sy toespraak op die openbare uitsaaier ZBC gemaak het nie.

CNN haal bronne aan wat bekend is met die onderhandelinge van die generaals wat verlede week in Harare beheer oor die land geneem het. Volgens die bronne is ʼn ooreenkoms aangegaan waarin Mugabe en sy vrou, Grace, volle diplomatieke immuniteit kry.

Die 93-jarige Mugabe, die enigste leier wat die land al gehad het sedert die land se onafhanklikheid in 1980, is nou onder druk uit talle oorde om enige verwarring uit die weg te ruim sedert die verskuilde staatsgreep Woensdag uitgevoer is.

Mugabe se toespraak het mense Sondagaand verstom toe hy nie soos verwag het as president bedank het nie. Die toespraak kom nadat die Zanu-PF Mugabe Sondagmiddag minder as 24 uur gegee het om as president te bedank óf om in ʼn staat van beskuldiging geplaas te word.

Mugabe en Grace is Sondag die trekpas deur die party gegee. Zanu-PF het Mugabe van sy pligte as president van die party onthef en Grace is ook van haar rol as leier van die Zanu-PF se vroueliga onthef.

Mugabe het tydens dié toespraak, wat deur talle as “vreemd” bestempel is, gesê dat hy sommige van die gebeure van die laaste week verstaan, maar het nie ʼn enkele keer van sy afdanking deur die Zanu-PF melding gemaak nie.

Talle meen hy is hoopvol dat hy president sal bly tot die Zanu-PF se kongres wat in Desember vanjaar gaan plaasvind, aangesien Mugabe in sy toespraak melding gemaak het dat hy oor dié kongres sal “toesig hou”.

Christopher Mutsvangwa, leier van die Zimbabwiese oorlogsveterane, het Sondagaand ná die toespraak bevestig dat die party sal voortgaan om Mugabe in ʼn staat van beskuldiging te plaas omdat hy besluit het om nié te bedank nie. Hy het gesê betogers sal dié week weer opruk na die strate en eis dat Mugabe van sy amp onthef word.

Mugabe is tot Maandag 12:00 gegee om uit te tree voor die Zanu-PF hom in ʼn staat van beskuldiging gaan plaas. Mugabe het egter niks amptelik hieroor teen die spertyd bekend gemaak nie.

Zimbabwe se parlement is nie Maandae in sitting nie, dus sal stappe vir die staat van beskuldiging na verwagting Dinsdag begin.

Lees ook op Maroela Media: Dít sal die gevolge wees indien Mugabe in ʼn staat van beskuldiging geplaas word.

Lees meer oor Zimbabwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Volle diplomatiese immuniteit vir n uittredende president beteken slegs een ding, onwettige vergrype gedurende sy termyn.
Jammer dat die waarheid vorrtdurend deur die rykes en magtiges uit sy fondasie gemanipuleer word. Ek hoop maar dat die immuniteit nie ter plaatse n oorweging is nie.

Alida ·

Hy het mos ‘n huis in Dubai. Laat hy die Guptas gaan regeer.

So wrintie waar ·

Klink maar of dai weermag in Zim ‘n klomp slap g**e is. Te bang om die Mugabe’s uit te haal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.