Mugabe kom sonder Grace in SA aan

Robert Mugabe (Foto: ANA)

Die Zimbabwiese president, Robert Mugabe, het Maandag glo sonder sy vrou, Grace, in Pretoria aangekom vir ʼn amptelike besoek.

Bronne het aan African News Agency (ANA) bevestig Mugabe en sy afvaardiging is Maandagaand by die Waterkloof-lugmagbasis verwelkom, maar Zimbabwe se presidentsvrou was nie deel van die gevolg nie.

Ministers wat wel vir Mugabe vergesel, sluit in Sydney Sekeramayi, Zimbabwe se minister van verdediging, Simbarashe Mumbengegwi, minister van buitelandse sake, David Parirenyatwa, minister van gesondheid en kindersorg, Ignatius Chombo, minister van binnelandse sake, en Prisca Mupfumira, Zimbabwe se minister van openbare dienste, arbeid en maatskaplike welstand.

Grace Mugabe is verlede maand onder ʼn wolk uit Suid-Afrika weg nadat die Suid-Afrikaanse regering diplomatieke immuniteit aan haar toegestaan het ná ʼn aanklag van aanranding teen haar aanhangig gemaak is. Gabriella Engels, ʼn Suid-Afrikaanse model, het beweer Grace het haar met ʼn elektriese koord in ʼn hotel in Sandton aangerand. Grace het later die bewerings ontken en gesê Engels was “dronk en versteurd” en het haar met ʼn mes aangeval.

Die Suid-Afrikaanse presidensie het verlede week gesê pres. Jacob Zuma sal Mugabe Dinsdag op sy amptelike besoek aan Suid-Afrika vergesel om die tweede sessie van die Suid-Afrika-Zimbabwe Bi-nasionale kommissie (BNC) by te woon wat in Pretoria sal plaasvind.

Die ooreenkoms om die kommissie te vestig is in April 2015 onderteken en in Oktober 2016 in Harare ingehuldig en stipuleer dat die kommissie op ʼn jaarlikse en rotasie-basis moet vergader.

Simbarashe Mumbengegwi, Zimbabwe se minister van buitelandse sake, en Maite Nkoana-Mashabane, Suid-Afrika se minister van internasionale betrekkinge en samewerking, tydens ʼn ministeriële sessie in Pretoria in aanloop tot die bi-nasionale kommissie. Foto: Twitter via @GovernmentZA

Die huidige BNC-sessie sal onder Zuma en Mugabe se mede-voorsitterskap geskied en sal die Afrika-leiers die geleentheid gee om die stand van die bilaterale verhoudings tussen die twee lande te hersien. “Dit sal ook ʼn platform bied om die warm en hartlike bilaterale verhoudings tussen die twee lande te versterk en die verdiep,” het die presidensie vroeër gesê.

Zuma en Mugabe sal na verwagting streeks- en wêreldkwessies bespreek wat vir albei lande van belang is: onder meer vrede, veiligheid, stabiliteit en ontwikkeling in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en ander dele van die kontinent.

Suid-Afrika en Zimbabwe het goeie bilaterale politieke, ekonomiese en maatskaplike verhoudings gegrond op sterk geskiedkundige bande. Zimbabwe is een van Suid-Afrika se topvyf-handelsvennote op die kontinent met handelstatistieke wat jaarlikse groei toon. In 2016 het Suid-Afrika se uitvoer na Zimbabwe ongeveer R29,3 miljard beloop.

Daar is meer as 120 Suid-Afrikaanse maatskappye wat in Zimbabwe sake doen. Dit strek oor ʼn wye verskeidenheid bedrywe, insluitend mynbou, toerisme, eiendom, kleinhandel, voedsel, bankwese en die boubedryf. Tot op hede het die twee lande al meer as 40 memoranda van verstandhouding onderteken oor onder meer immigrasie, vervoer, landbou, omgewingsake, gesondheidskwessies, waterbestuur, belasting en arbeidskwessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Wagter ·

Haha, hulle gaan kwessies soos vrede, veiligheid, stabiliteit bespreek, wonder of dit die plaas moorde insluit

Daan Erasmus ·

Geluk aan Afriforum. Julle saak begin vrugte afwerp. Hou aan die Mugabe’s begin dit te voel. Hierdie is ‘n bewys dat elke bietjie help.

Hennnie ·

Mugabe en Zimbabwe kan geen waarde toevoeg tot ons ekonomie nie, hy het sy land in die grond bestuur. Die rede vir hierdie samespreking is om te verneem wat ons kan doen aan sy uiters benarde posisie. Dis tog duidelik, vir daardie rede het hy ook sy vrou by die huis gelos want haar teenwoordigheid bring verder ghaos.

Anoniem ·

Lyk my Grace Mugabe is bang. Dalk word sy hierdie keer regtig gekeer om die land te verlaat.

Al Bundee ·

Wonder hoeveel van die R 29,3 miljard is betaal?? Was dit maar afgeskryf as hulpverlening??

MM ·

Gehoor op die nuus dat 1 5miljoen immigrante van Zimbabwe wil aansoek doen vir werks visums – goeie hemel ons kan nie eers vir ons EIE burgers werk gee nie – gaan maak jou korrupte Zimbabwe self reg en neem sommer jou mense saam wat onwettig in SA is – en ZUMA gee eerder vir jou eie mense werk, maar wat kan ons verwag het – een korrupte help die ander. Soek julle net soos die Guptas in SA nie – gaan weg en bly weg ASB. WEG MET ZIMBABWE EN GUPTAS – GENOEG GEHAD VAN JULLE VIR ALTYD.

SjN ·

Verstaan die twee persone die kwessies wat bespreek moet word?

Theresa ·

Mmm. Goeie vraag. gelukkig lyk dit asof die hele regering oor gevlieg het hierheen – m a w hul sal maar probeer als verstaan, regop en wakker bly (en hopelik niks vind om oor te giggel nie).

Rudolph van Wyk ·

Sjoe! So ons kan ons elektriese verlengkoorde weer uit die kas uithaal!

CC ·

Om belangrike kwessies soos die te bespreek, verg verstandelike kapasiteit!
Tussen die 2 is daar 3 breinselle! Kyk waar is Zim vandag en wat is ons voorland as ons nie vir Butternut weg kry nie!!!

CHRISTA ·

Dis maar net nog ‘n rede hoekom die ANC wat soveel miljoene aan naamsveranderings spandeer het, ons land se naam kan verander na Zimbabwe Extension!!!

Theresa ·

Of korter: Zimshan of Southbwe Kan lekker hiermee speel – maar behoede die pragpunt van Afrika dit!

Rasper ·

Wat soek hy so baie in ons land, sy land is mos ook geskik vir al die dinge wat hy hier kom doen.. Dalk nie nou bly sy moeilikheid maker vrou by die huis. Slegte karakters is altyd welkom in zuma africa.

CommonSense ·

Dink nie die mense van Afrika voel dat Zuma en Mugabe die regte mense is om oor streeks- en wêreldkwessies te praat nie. Hulle weet niks vrede, veiligheid of stabiliteit nie. Ek reken ook dit is hoog tyd dat daar ‘n verbod op hierdie reise van regerings-amptenare ingestel word. Dit is net ‘n verskoning om nog meer van die publiek se geld te mors. Hulle kan die gesprekke sommer oor Skype of Facetime doen. Sal ook nie skade doen as hulle dit eerder heeltemal los nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.