Mugabe moet teen dán bedank, of…

Robert Mugabe. Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Die regerende Zanu-PF in Zimbabwe het pres. Robert Mugabe minder as 24 uur gegee om as president van dié land te bedank óf om in ʼn staat van beskuldiging geplaas te word.

Zanu-PF het Mugabe tot Maandag 12:00 gegee om ʼn besluit te maak.

Mugabe en sy vrou, Grace, is Sondag die trekpas deur die party gegee. Zanu-PF het Mugabe van sy pligte as president van die party onthef, en Grace is ook van haar rol as leier van die Zanu-PF se vroueliga onthef.

Ander lede van die party wat glo ook die trekpas gekry het, is Ignatius Chombo, Jonathan Moyo, Saviour Kasukuwere en Patrick Zhuwao. Phelekezela Mphoko is ook as visepresident afgedank.

Emmerson Mnangagwa, die voormalige adjunkpresident wat onlangs deur Mugabe in die pad gesteek is, is as Zanu-PF se president aangewys. Volgens Reuters wil die party hom ook as die presidensiële kandidaat benoem vir die algehele verkiesing in 2018.

Dié 24-uur spertyd vir Mugabe se bedanking is ʼn poging van die Zimbabwiese regering om sy 37 jaar aan bewind tot ʼn “vreedsame” einde te bring.

Patrick Chinamasa, Zimbabwe se voormalige minister van finansies wat tydens ʼn kabinetskommeling die trekpas gekry het, het Sondag gesê Zanu-PF wil poog om die grondwet te verander om sodoende die mag wat ʼn enkele party in dié stadium het, te verminder.

Reuters sowel as Trevor Ncube, ʼn Zimbabwiese entrepreneur, het vroeër berig dat Mugabe met weermagleiers vergader het in ʼn laaste poging van die weermag om hom te oorreed om as president van die land te bedank.

Zanu-PF het Sondagmiddag gesê dat Grace saam met “verskeie ander partyleiers” vervolg sal word. Dit is nog nie bekend wie dié ander leiers is nie. Bronne in die regerende party het wel gesê dat Grace géén aanspraak sal hê op die presidensie nie, ongeag hoe gebeure die volgende paar dae ontvou.

Chatunga Bellarmine Mugabe, een van Mugabe se seuns, het Sondag op sosiale media gesê Zanu-PF is “niks” sonder Mugabe nie.

“Jy kan nie ʼn rewolusionêre leier afdank nie,” het hy geskryf.

Die VSA, wat jare lank een van Mugabe se grootste kritici is, het gesê hy sien uit na ʼn nuwe era vir Zimbabwe.

Pres. Ian Khama van Botswana het gesê Mugabe kan nie aanspraak maak op diplomatieke immuniteit in dié land nie en dat hy onmiddellik moet bedank.

Lees ook op Maroela Media: Dít sal die gevolge wees indien Mugabe in ʼn staat van beskuldiging geplaas word.

Lees meer oor Zimbabwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Die feit dat Zanu-PF steeds aan bewind bly beteken dat daar geen wesentlik geen verskil gaan wees nie. Die winkel het nuwe eienaars maar pryse gaan waarskynlik dieselfde bly. Indien iemand verskil van mening, volg op met redes vir opinie.

jaco ·

Al bedank hy ook, bly dieselfde ZANU steeds aan bewind en steun die Zim weermag steeds die ZANU-regering. Hoeveel maal in die verlede het die Zim weermag ondersteuners van opposisie-partye aangerand en selfs doodgemaak? Hulle en ZANU gaan mos nie nou oornag in rein en edel engeltjies verander nie. Mark my words: ZANU en die Zim weermag gaan maar net dieselfde gewelddadige metodes gebruik om vir Mnangagwa ook “vir ewig” President te maar bly, ongeag verkiesingsuitslae. ZANU domineer in elk geval die Zimbabwe Electoral Commission.
Lees gerus David Coltart se besware op Daily Maverick.

PJC ·

Ja Cherokee ek dink jy slaan die spyker op sy kop. Sou dit self nie beter kon opsom nie. Ek gesels gereeld met swart Zimbabwiers want hier werk baie in die omgeweing. Elke liewe een van hulle dink presies soos ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.