Muizenberg-brand: Reën help brandbestryders

Andrea Nixon (3 Maart 2015) Foto: http://picoftheweek.andynix.co.za/

Andrea Nixon (3 Maart 2015) Foto: http://picoftheweek.andynix.co.za/

Reën het Woensdag oor Kaapstad uitgesak en help brandbestryders om die brand in Muizenberg wat oor die naweek uitgebreek het, te bestry.

“Die reën is goeie nuus vir ons, want dit help,” het Charlotte Powell, woordvoerder van die stad se rampbestuurseenheid, gesê.

“As dit hard reën is dit ʼn bonus vir ons, maar motreën doen nie regtig iets veel nie. Daar is ook baie min wind. As dit reën raak sigbaarheid ʼn probleem vir die helikopters. Ons sal dus ons lug-ondersteuning moet onttrek. Die helikopters bestry die brand met waterbomme op spesifieke plekke.”

Maroela Media het vroeër berig die stad het inwoners aan die Kaapse Skiereiland wat nie deur die brand geraak word nie, versoek om watergebruik tot ʼn minimum te beperk. “Dit sal verseker dat wateropgaardamme beheerbare bedryfsvlakke behou,” lui ʼn verklaring. “Dit sal ook ʼn doeltreffende watertoevoer aan nooddiensspanne verseker.”

Inwoners naby Chapmanspiek-rylaan moes Dinsdagaand hul huise ontruim, so ook die Chapmanspiek-hotel. Daar was geen ontruimings in Tokai nie en die brand by Constantia Nek is ook onder beheer gebring. Die brand by Zwaanswykweg is ook onder beheer gebring danksy die grondspanne.

Die brand woed steeds voort in Muizenberg, Clovelly, Lakeside, Houtbaai en Kirstenbosch.

Verskeie paaie, insluitend Chapmanspiek-rylaan, bly gesluit vir verkeer.

Die brand het Sondag omstreeks 02:00 net bo Boyesrylaan in Muizenberg uitgebreek. Meer as 500 mense moes uit hul huise ontruim word.

Een brandbestryder is beseer toe hy brandwonde opgedoen het. Altesaam 52 verswakte bejaardes van die Noordhoek-aftreeoord moes vir rookinaseming behandel word.

Daar is teenstrydige berigte oor hoeveel eiendom reeds beskadig is. Dié saak word deur die stad ondersoek. Volgens EWN is minstens 13 huise reeds beskadig.

Intussen het die organiseerders van die Cape Town Cycle Tour (beter bekend as die Argus-fietsrytoer) gesê hulle sal Woensdag ʼn finale besluit neem oor die roete van dié fietsrywedren wat Sondag plaasvind. Hulle het glo alternatiewe roetes wat gebruik kan word.

Lees alle vorige berigte oor die bergbrand op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.