Muizenberg-brand tans onder beheer

Foto: Kirsten Keun @Kirfara / Twitter

Foto: Kirsten Keun @Kirfara / Twitter

Kaapstad se rampbestuurseenheid het Donderdag gesê die Muizenberg-brand wat oor die naweek uitgebreek het, is tans onder beheer.

“Ons hanteer nog twee gevaarpunte in Clovelly en die noorde van Constantia,” het Charlotte Powell, woordvoerder, gesê.

“Brandbestryders het regdeur die aand gewerk en helikopters sal Donderdag die gebied monitor, maar tans is die brand onder beheer.”

Teen Woensdag is sowat 500 mense ontruim sedert die brand Sondag in Muizenberg uitgebreek het, waarna dit na Ou Kaapse Weg, Chapmanspiek, Houtbaai en Tokai versprei het.

Een brandbestryder is beseer toe hy brandwonde opgedoen het. Altesaam 52 verswakte bejaardes van die Noordhoek-aftreeoord moes vir rookinaseming behandel word.

Maroela Media het Woensdag berig meer as 2 000 mense was besig om ʼn brand te bestry.

“Dit sluit 150 lede van die departement van omgewingsake se Working on Fire (WoF)-program in,” het Zolile Nqayi, woordvoerder van die departement van omgewingsake, in ʼn verklaring gesê. “Altesaam 50 mense van Volunteer Wildfires Services en 250 WoF-brandbestryders is van ander provinsies ontbied om die plaaslike spanne te help.”

Altesaam 26 vliegtuie het al sedert Sondag aan die brandbestrydingspoging deelgeneem. “Elf helikopters, ses vastevlerkvliegtuie en nege waarnemers van Tulbagh, Porterville, Donkerhoek, Stellenbosch, Bredasdorp, Stilbaai, Newlands, Plettenbergbaai en Knysna is ontplooi om die 11 brande te bestry.” Altesaam 198 vlugure beloop reeds ʼn geraamde R2,4 miljoen.

Ongeveer 2 miljoen liter water is met 2 000 waterbomme oor die brand gestort.

Lees alle vorige berigte oor die bergbrand op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Sterkte vir julle almal. Ons kan net bid dat die HERE julle almal sal help en bystaan deur hierdie moeilike tyd.

Kerrie ·

Hoeveel brand-bestrydings helikopters kan gekoop word met Nkandla se opknappings geldjies…sit n deel van dit weg en gooi brandstof vir die helikopters in met die rente..die land brand en Zuma eet kreef in Dubai…eish!.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.