Pieter Mulder tree uit as VF Plus-leier

Dr. Pieter Mulder. Foto: DoC

Dr. Pieter Mulder. Foto: DoC

Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, het homself nie weer as leier verkiesbaar gestel op die party se driejaarlikse verkiesingskongres, wat die naweek in Johannesburg gehou word nie.

Die party het in ʼn verklaring aangekondig ʼn nuwe leier sal by die kongres aangewys word.

Mulder (65) dien al die afgelope 15 jaar as die leier van die VF Plus, nadat hy genl. Constand Viljoen in 2001 opgevolg het. Hy is sedert 2001 tydens elke VF Plus-reorganisasievergadering eenparig verkies en is vanjaar weer onbestrede as leier genomineer.

Volgens die VF Plus het Mulder besluit dit is net billik om ʼn nuwe leier geleentheid te gee om hom of haar voor 2019 te vestig, aangesien hy nie van plan is om aan die 2019-verkiesing deel te neem nie. Die volgende reorganisasievergadering van die VF Plus vind eers ná 2019 plaas. Hy sal wel vir ʼn oorgangstydperk as VF Plus-parlementslid aanbly.

“Dr Mulder is vanjaar 28 jaar ononderbroke in die parlement nadat hy in Maart 1988 vir die eerste keer verkies is. Dit maak hom die parlementslid met die langste ononderbroke diens in die huidige parlement,” het die party gesê.

Mulder was ʼn stigterslid van die Vryheidsfront in 1994 voordat hy in 2001 as leier van die VF Plus verkies is. Van 2009 tot 2014 was hy adjunkminister van landbou, bosbou en visserye. Hy is in 2010 tot die dagbestuur van die internasionale organisasie UNPO, wat na minderhede in die wêreld omsien, in Switserland verkies.

“Volgens dr. Mulder is die VF Plus goed gevestig, sonder skuld en met takke en strukture in al die provinsies. Die party het ook sy steun in die 2016-plaaslike verkiesing verdubbel met raadslede in al nege provinsies. Dit verskaf ʼn goeie platform vanwaar ʼn nuwe leier die VF Plus verder kan uitbou op pad na 2019 se verkiesing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann ·

Dr Mulder, dankie, jammer dat jy gaan, jy was ‘n rots. Komaan ouens gee die jonger manne ‘n kans. Innoverende denke. Adv Anton Alberts?

Jakobus ·

Regte besluit op die regte tyd en hopelik vir jong bloed om die party die toekoms in te neem.

AH ·

Wanneer ek 65 is sal ek ook nie meer lus wees vir die sirkus wat hulle n parliment noem nie

lettie ·

Hy was n besonderse leier en sal gemis word. Ek stem saam politiek is vuil en uitputtend.

Callie van der Merwe ·

Ai Dr Mulder wat n jamerte! Dankie vir jou onbaatsigdige diens aan ons Volk! Hierdie week weer na jou gekyk met jou toespraak in die parlement! Wat n leier!!! Als wat mooi is vir jou en jou familie! Ware ROTS!

Jan Mostert ·

Eerlike leier wat omgee vir sy mense. Respek afgedwing by baie.

Magda ·

So jammer dr. Mulder….jy was ‘n rots van geregtigheid!!!

Jan ·

Verg ‘n groot leier om te weet wanneer dit die regte tyd is om die leisels oor te gee.

Johan ·

Hy was die enigste leier wat ewe goed Afrikaans en Engels kon kommentaar lewer sonder om te Stotter. Dr Mulder het altyd presies geweet wat hy wou sê, en baie selfversekerd.
Geniet die uitred Dr Mulder…jy het verseker jou kant gebring
Tot wedersiens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.