Muldersdrift loop deur onder vlaag van misdaad

Argieffoto: Kent Williamson

Minstens tien gewapende rooftogte het die afgelope maand in die Muldersdrift-omgewing in Gauteng plaasgevind.

ʼn 15-jarige meisie het wonderbaarlik oorleef nadat sy Dinsdagaand sewe keer geskiet is by ʼn huis in die area van die Avianto-landgoed.

Jarques Treptow, eienaar van die Drift Reaction-veiligheidsmaatskappy, het gesê daar was tussen 6 Oktober en 7 November minstens tien gewelddadige rooftogte in Muldersdrift.

“Ons versoek die gemeenskap om binnenshuis te bly sodra dit donker word en om elke moontlike veiligheidsmaatreël te tref om hulself te beveilig.”

Volgens Treptow is ʼn vrou vroeër die maand erg aangerand en ʼn man in die bors geskiet tydens ʼn gewelddadige aanval in Driefontein.

ʼn Paar dae later is nog ʼn man in die bors geskiet toe hy deur drie gewapende mans oorval is. Talle voorvalle het in Driefontein, Van Wyks Restant, Steynsvlei en Nooitgedacht voorgekom.

Treptow het inwoners gemaan om seker te maak hul buiteligte wat wegwys van die huis af is in werkende toestand en aan. “Moet ook nie buitetoe gaan as jy iets hoor nie; moenie deur vensters kyk nie en maak alle vensters toe en sluit alle veiligheidshekke.”

Jaco Mulder, VF Plus-leier in Gauteng, sê die Muldersdrift-gemeenskap word al vir etlike jare deur geweldsmisdaad geteister en die polisie is nie daartoe in staat om die gemeenskap te beskerm nie.

“Muldersdrift word omring deur ʼn groot aantal informele nedersettings waar werkloosheid, armoede en misdaad hoogty vier.

“Die polisie in Gauteng beskik ook nie oor effektiewe misdaadintelligensie-vermoë om misdaad te voorkom nie,” het Mulder gesê.

Genl.maj. Anna Mateisi, polisiebevelvoerder in die Krugersdorp-groepering, het gesê die polisie werk onverpoosd om ʼn deurbraak te behaal in verband met die rooftogte in die Muldersdrift-omgewing.

Kapt. Appel Ernst, woordvoerder van die polisie, het gesê daar is bewerings dat ʼn bende in die omgewing bedrywig is, maar dat daar nie beslissende bewyse vir dié bewerings gevind kon word nie.

Die Wes-Randse trio-taakspan wat verskeie sake in die omgewing ondersoek kan gekontak word met enige inligting wat hulle kan bystaan. Kontak lt.kol. Gert Kruger by 084 626 9093.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leahim ·

Ek gaan weer vra het die polisie enige voorkomende stappe geneem soos ekstra patrollering,gereelde padblokades en indien nie hoekom nie hulle weet mos van die probleem of dink hulle dat hulle werk is net om sake te ondersoek en wie is die trio taakmag is dit n saamwerk ooreenkoms tussen die polisie GPF en sekuriteit .Ek wil weereens beswaar maak dat ons belasting moet betaal om veilig te wees maar die polisie wie se werk dit is om ons veilig te hou lyk onbekwaam om hulself veilig te hou.

Karel ·

Die berig bevestig net weereens dat die regering van die dag nie daartoe in staat is om die inwoners van hierdie land ingevolge hul grondwetlike mandaat te beveilig en te beskerm nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.