ʼn Sesjarige seun het Woensdag verdrink toe hy in ʼn rivier in Muldersdrift, Gauteng, geval het.
Ao. Solomon Sibiya, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die seuntjie het saam met twee maats naby ʼn rivier by die Joe Slovo informele nedersetting gespeel, toe hy in die water beland het.
“Die rivier is sowat 500 meter van sy huis af,” het Sibiya gesê. “Sy maats het dadelik gehardloop om hulp te ontbied.”
Plaaslike inwoners het die seun se liggaam uit die rivier gehaal en hom na sy ouers geneem.
Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.