MultiChoice kap terug na bewerings

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

MultiChoice het reageer op bewerings deur die DA dat die maatskappy die SAUK tydens ʼn “geheime” vergadering omgekoop het.

Die DA het beweer MultiChoice het in dié vergadering druk op die SAUK geplaas om sy posisie vir ongekodeerde seinverwerkers vir digitale aardgebonde televisie te ondersteun in ruil vir R100 miljoen per jaar vir ʼn 24-uur-nuuskanaal op DStv. Volgens die DA is die inligting vervat in die notule van die vergadering wat in Junie 2013 plaasgevind het.

“Ek het die vergadering bygewoon. Dit was beslis nie in die geheim nie en daar is niks onwettigs of onbehoorliks in daardie notule nie,” het Nolo Letele, uitvoerende voorsitter van MultiChoice Suid-Afrika, gesê.

Volgens Letele is die vergadering op versoek van die SAUK gehou en was topbestuur en raadslede van albei partye teenwoordig. “Iemand van ons span het gesê ‘ons betaal nie gewoonlik vir nuuskanale nie’ en nou word dit uit konteks gehaal deur te sê MultiChoice het korrupte betalings aan die SAUK gemaak vir hul ondersteuning van ongekodeerde seinverwerkers.”

Letele het gesê die uitlatings is bloot “verkopepraatjies” om finansiële verwagtinge te bestuur. “Dit is welbekend dat ons vir talle nuuskanale betaal. Die SAUK wou gehad het MultiChoice moet soveel moontlik betaal en MultiChoice wou so min moontlik betaal.”

Volgens Letele word die notule selektief aangehaal en is dit duidelik dat die SAUK nie self oor kodering kon besluit nie aangesien die voorsitter van die vergadering beklemtoon het dis ʼn regeringsbesluit.

MultiChoice sê in dié tydperk was daar twee gewilde sieninge oor kodering – en sý siening was welbekend.

Volgens Letele het MultiChoice ʼn langtermyn-verhouding met die SAUK wat al van die 1980’s kom. “Die twee partye het oor die jare heen inhoud van en aan mekaar verkoop en sal voortgaan om dit te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hanna ·

Kan nie glo mense kan nog na sulke snert kyk nie. Weet iemand dalk hoeveel kykers, behalwe die Zumas en Guptas, hierdie kanaal het?

Hansie slim ·

Hanna, dis nie seker waarna jy verwys nie maar DSTv bestaan nie net uit die Zuptas nie.
Daar is ‘n paar net Afrikaanse kanale, meer as wat die SABC kan sê. Dan praat ek nie eers van al die sport kanale nie. As jy na die SABC verwys stel ek 100% saam.

PJC ·

So subsidieer ons as tv kykers die Guptas maar ook die res van Afrika . Dieselfde gebeur met selfone. Ons betaal deur ons nekke terwyl almal in die res van Afrika baie goedkoper betaal.

Eish ·

Ek ruik steeds rot. Waar die Gupta’s betrokke is ruik die verrotting vir myle. Daar is industrie norms. Enigiets wat afwyk verdien ondersoek. Stywe ruggraat beteken niks. Dit dui slegs op n meerderwarige houding.

SARIE VAN HEERDEN ·

Meeste vn ons is nou al so deurmekaar gepraat dat ons nie meer weet watter kant toe nie. Ons weet ook nie meer WIE om te vertrou nie. Wie het HIEROP ‘n antwoord?

PJC ·

Sarie moenie bekommerd wees nie die waarheid sal wel mettertyd tevoorskyn kom al probeer hulle hoe hard om dit weg te steek.

Marguerite Theron ·

Multichoice ons is geskok tot in ons wese!!!, as hier kompetisie vir julle was sou ons julle net so gelos het!!!, hoe durf julle en nog 3 kanale by gee, ek skaam my vir julle???,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.