MultiChoice stel nuwe kykNET-hoof aan

Waldimar Pelser. (Foto: Verskaf)

Waldimar Pelser, tans onder meer die redakteur van Rapport, sal vanaf 1 Februarie 2022 die leisels by Karen Meiring oorneem as direkteur van kykNET-kanale by M-Net.

Hoewel Meiring pas haar aftrede aangekondig het sal sy steeds as konsultant vir MultiChoice optree.

Onder Meiring se leierskap sedert 2009 het die kykNET-kanale en -kykerstalle merkbare groei getoon.

kykNET bestaan uit vyf kanale op verskillende DStv-pakkette en verseker toegang tot kwaliteit Afrikaanse inhoud vir kykers en is volgens die kanaal ’n weerspieëling van die wonderlike diversiteit van Afrikaanssprekendes en hulle gemeenskappe in Suid-Afrika.

Pelser is reeds geruime tyd ’n gevestigde naam in die Afrikaanse gemeenskap te danke aan onder meer In gesprek, ’n aktualiteitsprogram op kykNET (DStv-kanaal 144), waarvan hy sedert 2013 die aanbieder is.

Pelser het regte en joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch studeer en het in 2004 ʼn meestersgraad in filosofie aan die Universiteit van Oxford behaal. Hy was onder meer hoof van Media24 se kantoor in Lagos, Nigerië, en nuusredakteur van Beeld in Johannesburg. Hy is in 2013 as redakteur van die Sondagkoerant Rapport aangestel.

“As kyker, en later as aanbieder, het ek baie lief geword vir kykNET – ʼn familie van kanale wat soveel in ons Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kultuur vind om te vier. Ek bewonder die manier waarop Karen en haar span televisie maak wat soveel Afrikaanse kykers laat regop sit, laat lag en soms ook laat huil. Ons sit tans vasgenael voor Nêrens, Noord-Kaap.

“Dit is ’n groot voorreg om die kans te kry om te help vorm gee aan die stories oor onsself, mekaar en ons land wat ons nog moet en wil vertel,” sê Pelser.

Karen Meiring.

Pelser is op die raad van die Pendoring-toekennings, wat kommunikasie in al Suid-Afrika se amptelike tale ondersteun en vereer.

“Ons sien uit om Waldimar by die MultiChoice-familie te verwelkom,” sê Gideon Khobane, uitvoerende hoof van algemene vermaak by die MultiChoice-groep.

“Sy ondervinding, kennis, passie en insig vir en van die Afrikaanse gemeenskap is ’n aanwins en sal hom help om verder tot die sukses van die kykNET-kanale by te dra.”

Volgens Meiring was dit “ʼn ongelooflike voorreg” om by kykNET betrokke te kon wees. “Ek is baie trots op die inhoud, kanale en werksgeleenthede wat ons kon skep oor die afgelope 12 jaar. Ek koester die wonderlike geleenthede en die impak wat ons op die bedryf en die Afrikaanse landskap het. Ek is opgewonde oor Waldimar se aanstelling en het geen twyfel dat hy die kykNET familie-kanale na nog groter hoogtes sal neem.

“MultiChoice wens Meiring alles van die beste toe en sien uit na die projekte waarmee sy in haar rol as konsultant vorendag gaan kom,” het Khobane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Johan ·

Nou gaan intekenaar gelde styg want sy is nou n konsultant en hulle maak net soos reps baie geld vir min sweet in die aangesig.

Johann ·

Van waar dude? Mens noem dit basiese besigheids beginsels om iemand wat SUPER SUKSESVOL is in wat sy doen steeds te betrek by die sukses verhaal!

Johan ·

En onderwysers byvoorbeeld al is jy hoe goed word dieselfde vergoed ek neem aan jy is een van bogenoemde.

Andrew ·

Gaan ons nog dieselfde mutlikultuur indoktrinasie gevoer word?

Sarel ·

Net jammer KYK NET is eksklusief net vir die wat dit kan bekostig…

Louis ·

Hoogtyd. Sy wil net in die limelight wees. Wil net funksies bywoon.

Misky ·

Jare nie meer Dstv nie en nog nooit weer gemis nie. Ek betaal nie amper R1000 p/maand vir miskien uur saans tv kyk nie en goedkoper pakkette het een of twee afrikaanse kanale. Jammer, julle is belaglik duur

Francois Le Cochon ·

Misky, as jy fibre het, kry ‘n Smart TV of Android Box. Teken in op DSTV Stream (R819,00), met 5 “accounts”. Kry nog 4 mense wat met jou deel (elk met fibre en Smart TV of Android Box). Dan is dit R163,80 vir elk vir Premuim DSTV. Kry ook Netflix en deel die “account”.

Francois Le Cochon ·

piet, 20Meg uncapped vir R549.00, maar ek gebruik dit nie uitsluitlik vir net vir DSTV stream nie. Ook o.a. vir gratis VOIP telefoon diens (Freshphone)

Dries ·

Waldimar is n uitstekende aanbieder en hy draai nie doekies om met die waarheid nie. Ek is baie bly maar vrees dat sy mond gesnoer gaan word een of ander tyd. Hoop regtig hy gaan n meer konserwatiewe merk op kyknet uitoefen. Hoop hy het kinders wat ook Kyknet kyk. Raak ontslae van die sepies wat n baie slegte boodskap gee aan ons kinders

Wielspore ·

Karen Meiring het haarself goed van haar taak gekweit en het nog meer gedoen as wat van haar verwag was, haar spore loop nie net in die sigbare gedeeltes nie maar ook in die agtergrond. Sy kom altyd netjies voor en doen haar werk met vertroue. Sterkte aan Waldimar Pelser, ons hoop jy bou op die bestaande sukses.
Gee vir ons ‘n regte afrikaanse afvontuur reeks op die kassie, daar is dalk net te veel drama stories om na te kyk.

Francois Le Cochon ·

Dis jammer. Ek sou graag wou he dat dit iemand moes wees wat die dinamiek van ‘n gesin verstaan en nie iemand wat die nuwe wereld orde se agenda bevorder nie.

Andre ·

Ek moes lag toe ek lees Kyknet reken hul “verseker toegang tot kwaliteit Afrikaanse inhoud” vir kykers want dit is verseker nie die geval nie. Jammer om te sê, maar dit wil voorkom asof aanbieders nie meer Afrikaans mag praat nie want elke sin wat hulle spreek, bevat ‘n paar engelse woorde. Die taalgebruik in programme op Kyknet is alles behalwe Afrikaans weet nie of Waldimar ‘n verskil sal maak nie – hoop regtig so!

Chris ·

Chris Noordkus die mees patetiese nuuskanaal in Afrikaans, doen jouself ‘n guns doen net een aand ‘n vergelyking met dieselfde nuus op 403, jammer ‘n mens kan nie jou eie pakket vir amper ‘n R1000pm saam stel nie, 144 ,5,6,7 sou nie my keuse gewees het nie, hou verby

annie ·

Volskaalse New Age gm-produksies wag op diegene wat kan lees en sien. Afrikaners wat nie reeds ly aan long-civid nie gaan deur die nuwe lab-ontwikkelde virus platgetrek word… en geen entstof is beskikbaar nie. Biblioteke gaan binnekort ook glo gesluit word wat niemand lees meer boeke van papier nie… 1984 het aangebreek en ons is ingebreek in Afrikaans.

Chris ·

Karen Meiring het baanbrekerswerk vir kyk net gedoen. Sy was uitstekend en het ook baie vir Afrikaans gedoen. Sy moet ‘n medalje kry vir haar uitstaande diens

Hennie J ·

Die oulike gladdebek snotneusdogtertjie wie se ouers in die bank op Dannhauser gewerk het, het nogal ontpop in n formidabele vrou. Alle voorspoed!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.